'n Reus in toerisme groet

'n Man wat vir drie dekades diep spore in Namibië se toeris­me en­ gasvryheidsbedryf getrap het, het op 28 Februarie die tuig neergelê.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Om ná 30 jaar weg te stap van 'n mens se drome, is nie maklik nie.

Dit is presies wat die man wat vir jare sinoniem met Safari Hotels was, mnr. Johnnie Hamman, moes doen.

'n Meningsverskil tussen die aandeelhouers van Safari Hotels het uiteindelik 'n einde gemaak aan 'n loopbaan wat Johnnie nooit vir homself in die vooruitsig gestel het nie.

As jong man wou hy aanvanklik gaan boer en die plan was om ná sy militêre diensplig landbou aan die Universiteit van die Vrystaat te gaan studeer. Ná die weermagjare het hy egter besluit om in die regte aan Stellenbosch te studeer. 'n Loopbaan in die regsberoep was hom ook nie beskore nie, want sy pa, mnr. Johnnie Hamman (senior), is in 1983 oorlede terwyl Johnnie nog gestudeer het. Nadat hy 'n BA LLB-graad behaal het, het Johnnie na Windhoek teruggekeer en die leisels van die Safari Hotel oorgeneem. Saam met mnr. Alfredo Pimenta het hy die pos van besturende direkteur van die maatskappy gedeel.



Donker wolke

Vir baie jare het dit goed gegaan, maar onmin oor die nalatenskap van me. Catherine (Kitty) Hamman, Johnnie se ma, se voorkeuraandele in Safari Hotels se houer-maatskappy - wat 40% van die totale stemreg onder die ander aandeelhouers dra - sou uiteindelik 'n einde aan Johnnie se drome vir die toekoms van Safari Hotels maak.

In 2013 het me. Hamman haar voorkeuraandele aan die JN Hamman Beherende Beleggings Trust geskenk, en al haar direkte Hamman-familielede begunstigdes daarvan gemaak. Sy het wel haar beheer oor die aandele behou deur net haar en Johnnie as trustees aan te stel. Tot haar dood op 3 Junie 2016 het sy aktief haar verantwoordelikhede as trustee nagekom.



Aandeelhouding

Die EM Hamman Trust van Johnnie se broer Eduard, die GC Hamman Trust van sy ander broer Gebhard en die Pimenta Familie Trust was egter nie tevrede dat me. Hamman haar voorkeuraandele aan die JN Hamman Beherende Belegging Trust geskenk het nie, en het haar besluit rakende die beheer van die trust bevraagteken.

Sy was tot haar dood die voorsitter van die Safari Hotels se houermaat­skappy (JN Hamman Beherende Beleggings (Pty) Ltd) se direksie. Haar voorkeuraandele het geen finansiële opbrengs gelewer nie, maar haar bloot 40%-stemreg in aandeelhouersake verseker. Sestig persent-stemreg het steeds aan die EM Hamman Trust (25%), die GC Hamman Trust (25%), die Pimenta Familie Trust (20%), die JN Hamman (Jnr) Familie Trust (26%), die Natasha Hamman Trust (2% ) en die Chantelle­ Hamman Trust (2% ) behoort. Haar besluit dat Johnnie die trustee van die trust wat die voorkeuraandele hou moes wees, was nie vir die ander aandeel­houers aanvaarbaar nie.

Nie Eduard of Gebhard was ooit betrokke by die dag tot dag bestuur van die Safari nie, sê Johnnie.



Dagvaarding

Ná oor en weer prokureursbriewe het die groot skok op 18 Februarie 2016 gekom toe die balju by Johnnie se kantoor opdaag met 'n dagvaarding vir die likwidasie van die houermaatskappy (JN Hamman Beherende Beleggings (Pty) Ltd).

Die houermaatskappy self, Safari Hotels, Johnnie, in sy persoonlike hoedanigheid, sy trust asook dié van sy kinders (Natasha en Chantelle), mnr. Nico Weck en sy 86-jarige ma, me. Catherine Hamman, in haar persoonlike hoedanigheid, was deel van die groep wat gedagvaar is.

“Dit was vir my onaanvaarbaar wat gebeur het, veral die feit dat hulle ons ma dagvaar wat 86 jaar oud en in daardie stadium bedlêend was,” het Johnnie in 'n openhartige onderhoud aan Republikein­ gesê.

Die likwidasieaansoek is ingevolge artikel 349 (h) van die wet op maat­skappye ingedien, wat bepaal dat wanneer aandeelhouers nie ooreen kan kom nie, die hof 'n beslissing kan maak oor of die maatskappy gelikwideer moet word of nie. Dit was gevolglik nie 'n kredit­eurelikwidasie nie.

Ná baie oorweging en selfs 'n poging om die drie aandeelhouers, EM Hamman Trust, GC Hamman Trust en Pimenta Familie Trust, se aandele uit te koop, was die koeël deur die kerk.

Op 18 November 2016 het Johnnie die finale kontrak onderteken om sy, Natasha, Chantelle en die JN Hamman Beherende Beleggings Trust se aandele aan die ander drie aandeelhouers te verkoop.

“Dit was in die belang van Safari Hotels, die handelsnaam en die toekoms van die onderneming. Ek kon my nie indink dat 'n werkbare wedersyds aanvaarbare skikking vir jare bereik sou kon word nie en dit sou die maatskappy en sy beeld oneindige skade berokken het,” sê Johnnie.



Toekoms

Vir nou rus Johnnie en sy vrou, Annamarie, wat die opleidingsafdeling by Safari Hotels behartig het en ook nou bedank het, tot die einde van Maart in die Kaap uit.

Maar op 1 April verrys die spreekwoordelike feniks uit die as en word Johnnie die uitvoerende voorsitter van die Phoenix Equity Group en sy regterhand vir baie jare, mnr. Nico Weck, die besturende direkteur.

Weck was 27 jaar by Safari Hotels in verskillende hoedanighede betrokke - eers as finansiële adviseur, toe direkteur en die afgelope jaar as hoofbedryfsbeampte. “Ek beskou Nico as uiters professioneel wat vir al die jare net sy beste in die belang van die maatskappy en al sy aandeelhouers gedoen het. Deel van die verkoopsooreenkoms bepaal egter dat hy ook moet bedank,” het Johnnie gesê.

Johnnie en Nico het groot planne vir Phoenix Equity Group.

Hulle is van voorneme om passievolle individue en Namibiese entiteite­ met goeie sake-idees te help om hul eie drome waar te maak deur saam met hulle in verskillende besighede betrokke­ te raak.

“My pa het op sy eie met Safari Hotels begin en dit uitgebou en ontwikkel omdat hy passievol was oor wat hy gedoen het. Ons is op soek na sulke individue. Dit kan in enige rigting en bedryf wees en hoef nie noodwendig in die gasvryheids- of toerismebedryf te wees nie,” vertel Johnnie.



Richtberg

Oor naweke boer Johnnie op die plaas Richtberg in die Nina-omgewing.

“Ek is nie 'n stokperdjie-boer nie. Ek is 'n naweekboer wat glo dat alles wat 'n mens in die lewe aanpak, jy 100 persent voor moet gee. Ek geniet die plaas en die boerdery en was selfs in 2015 een keer as Meatco se produsent van die maand aangewys. Die afgelope jaar, met al die spanning oor Safari en die aandeelhouding, was die plaas my redding en het my werklik 'n emosionele lewensboei gegee om aan vas te hou,” sê hy.



Totsiens

Met die finale afskeid van personeel op 28 Februarie vanjaar het Johnnie en Nico gesorg vir 'n waardige geleentheid.

“Ek het al die jare gesê ek sal nie my rug op Safari draai nie. Om dié rede is ons met 'n hyskraan opgehys en oor die heining van Safari geneem. Dit was baie emosioneel om van 240 personeellede afskeid te neem, sommige wat 48 jaar daar werk en sommige wat so kort soos ses maande daar werk,” sê Johnnie.

Sy dogter, Natasha, bly aan as fyngebak-sjef en hoof van die departement by die hotel, maar is nie meer 'n direkteur of aandeelhouer nie. “Sy is nou die enigste oorblywende Hamman wat vir die hotel werk,” sê Johnnie.

“Die Safari is 'n sterk maatskappy en enige maatskappy staan en val by sy leierskap. Die personeel is passievol en die hotel beskik oor uitstekende geriewe.

“Een van die moeilikste dinge was om nie my drome, wat ek vir die hotel vorentoe gehad het, te verwesentlik nie. Ek het egter vir twee weke voordat ek op 28 Februarie tot siens gesê het, deur die perseel gestap en besluit ek wil liewer nou fokus op wat ek reggekry het, wat ons vermag het, en dit gee my nou gemoedsrus.

”Ek wens die hotel, die bestuur en die personeel net die beste vir die toekoms toe.”



Die volgende repliek op hierdie berig is op Vrydag 28 April 2017 gepubliseer. - Redakteur


Reg op repliek: Safari Hotels


Op 10 Maart 2017 het Republi­kein 'n onderhoud geplaas wat gevoer is met mnr. Johnnie Hamman, voormalige besturende direkteur van Safari Hotels (Edms. Bpk.), onder die opskrif “'n Reus in toerisme groet”.
In die vermelde artikel is mnr. Johnnie Hamman verskeie kere aangehaal oor die gebeure wat gelei het tot sy uittrede en die verkoop van al sy aandele in die groep aan die onder­skeie trusts van sy twee broers en mnr. A.L. Pimenta. Hierdie drie trusts is nou die huidige en uitsluitlike aandeelhouers van die groep.
Die huidige aandeelhouers betreur dit dat hulle geen kans gegun was om voor publikasie op uitsprake in die artikel te antwoord nie en is van mening dat 'n saak waartoe hulle partye was op 'n emosionele, eensydige en ongebalanseerde wyse voorgestel is.
Republikein is op 29 Maart 2017 bewus gemaak dat 'n skikking wat die partye ná bemiddeling bereik het en tot die verkoop van die aandele gelei het,'n vertroulikheidsklousule bevat. Hiervolgens mag geen van die partye die bestaan van die ooreenkoms of enige inligting oor wat daartoe gelei het, publiseer sonder die ander partye se toestemming en insae nie. Die verslaggewer en koerant was onbewus van die klousule ten tyde van plasing van die onderhoud met mnr. Johnnie Hamman.
Die nuwe direksie en huidige aandeelhouers het hierdie klousule onder die aandag gebring van die koerant en voel hulle is in 'n onbenydenswaardige­ posisie geplaas omdat hulle weens die vertroulikheidsklousule nie uitvoerig op die artikel kan reageer nie.
Ná deeglike oorweging wil die huidige aandeelhouers en direksie wel die volgende op rekord plaas:
Die verwysing van die geskil tussen aandeelhouers na die hoërhof was deur die huidige aandeelhouers as die enigste eerbare en doeltreffende manier beskou om hierdie geskil op te los.
Volgens die huidige aandeelhouers moes wyle me. Kitty Hamman onvermydelik as een van veertien partye tot die saak gevoeg word. Na hul mening is sy nie “gedagvaar” soos voorgehou deur mnr. Johnnie Hamman nie.
“Dit is so aan haar verduidelik,” sê die aandeelhouers. “Sy het begrip daarvoor gehad en geweet dat dit haar nie persoonlik sou affekteer nie.
“Die oorname deur die huidige aandeelhouers het volgens plan verloop en mnr. Pimenta, wat tans dien as besturende direkteur, ontvang goeie ­samewerking van die hotel se personeel­lede van wie meeste al tevore saam met hom gewerk het.”
Republikein erken die belang daarvan om in alle gevalle waar dit nodig of moontlik is, vooraf ander partye 'n kans te gun om hul saak te stel en herverbind die koerant opnuut tot hierdie beginsel. In soverre die huidige aandeelhouers en direksie voel dat uitsprake in die artikel hulle op enige wyse oneer aangedoen of skade berokken het, teken Republikein daarvoor onvoorwaardelik verskoning aan.
Die aangeleentheid word hiermee as afgehandel beskou.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!