’n Leeftyd se ongehuilde trane en woede

10 August 2018 | Rubrieke
My oorle oumagrootjie was ’n dierbare vrou.

Só kosbaar dat sy ure voor haar heengaan op 84 nog ’n paar van haar agterkleinkinders se skoolskoene poleer het vir die volgende dag se omstap skool toe.

Sy was veral mal oor die mans en seuns van haar nageslag en het ons skaamteloos voorgetrek.

Maar sy het ongelukkig uit ’n era gekom waartydens geykte – en diep problematiese – geslagsrolle die reël was. Van uitsonderings was daar geen sprake nie.

Sy het my baie vroeg laat verstaan: Oor ’n man se wange mag géén traan biggel nie.

Trouens, ek dink dié ferm vermaning het een oggend gekom toe sy in die verbyloop ’n dreigende traan in my ooghoek waarneem.

Haar presiese woorde ontgaan my nou ná 30 jaar genadiglik.

Die strekking was egter ondubbelsinnig: Mans huil nie!

Al opsies wat ek, van meet af ’n fyn besnaarde klong, toe in daardie oogwink gehad het, was om maar te sluk.

’n Hartsmens, ook ’n ouma(grootjie)keent, onthou hoe ook hý nie toegelaat is om te huil nie – veral nie in die openbaar nie.

Sedert sy terugkeer Namibië toe ná tien jaar in progressiewe Hamburg moes hy al neffens twee oop grafte in Rehoboth se begraafplaas staan. (Want dis wat ons élke naweek op Rehoboth doen.)

Hy vertel, hoeka op pad na dié stofdorpie toe, hoe verstom hy is oor hoe daar by begrafnisse omvattend, uitgebreid en luid geween word.

“Dis seker omdat ek nie toegelaat is om te huil nie wat dit my só afsin maak,” is sy introspeksie oor hoekom ander se (openbare) droefnis hom so grief.

“So, wat gaan gebeur as jou lewensmaat of jou 94-jarige moeder eendag tot sterwe kom? Sal jy nie dan huil nie?” krap ek.

Hy sál, seg hy. Maar in sy binnekamer. Privaat. In die openbaar mag mens net baie stemmig die bietjie vog wat onder jou sonbril verskyn met ’n snesie wegpad, vertel hy.

Ek sit en skenk op dié grou Augustus-oggend aan dié skryfsel geboorte met ’n kloppende, potpers vinger. Elke keer wat my regtermiddelvinger per ongeluk die sleutelbord tref, swets ek. Lelik, maar nie luid nie. Die sterk pynmedikasie verskaf ’n welkome high maar verdoof nie die pyn nie. Wel, nie genoeg nie. Dis ’n moeilike geboorte, dus.

Nadat ek en my Google-hondemensie ons gebruiklike 6 km kafgedraf het, het ek dié middelvinger amper in ons hek geamputeer.

Ek kan nie onthou wanneer laas ek soveel fisieke pyn beleef het nie.

Wel, ek jok. Ek kán onthou. Dit was in Maart vanjaar toe ’n Otjiwarongo-dokter in sy spreekkamer onder té min lokale verdowing my ringvinger se nael onseremonieel uitgepluk het. Ek het ’n volle drie keer tydens daai 120 sekondes baie mense se gunsteling- f-woord uitgeskreeu. Soos ’n meisie.

(Oor die simboliek agter die twee geraakte vingers gesels ons eersdaags, belowe.)

Ná die amperamputasie het ek in my bed gaan lê en gehuil soos ’n meisiekeent. Lekker rou, diep begrafnissnikke.

Kwalik drie maande gelede moes ek bykans van die einste Windhoek-Rehoboth-pad aftrek. Hoeka óók op ’n Sondagmôre.

Daai oggend nog wonder ek in die stort hoekom ek só sukkel om te huil. Die universe – met ’n kleinletter-u – in wie ek glo, het ’n lieflike sin vir humor.

’n Ander hartsmens trek terug Kaap toe ná vyf jaar in Windhoek, Google word – ook ná ’n 6 km – amper in ’n (ander) huishek doodgedruk en ek word bo my kragte getoets met ’n f-woord pap band.

Toe word die spreekwoordelike sluise van my traankliere se Oanobdam oopgegooi.

Ek ween toe soos ek nog nooit spooknugter as volwassene kon bemeester nie. Heerlike, genesende, intense snikke.

’n Paar aande gelede sou ek ’n oudklasmaat te lyf gegaan het as ek naby hom was.

Hy vertel, knuppeldik geëet aan pap en lewer wat sy ma geurig voorberei het, hy gló in tradisionele geslagsrolle. Mans is nie vroue nie en vroue is nie mans nie. Om ’n manlike man te wees, is ’n daaglikse lewensending, seg hy.

Ek sal later moet sê hoekom dít my so bloedig kwaad gemaak het, maar hiermee volstaan ek: Ek is dankbaar dat ek uiteindelik man(s) genoeg is om ’n leeftyd se ongehuilde trane en woede te vier en opbouend aan te wend.

Soortgelyk

 

25 jaar, al het Zenobia berou

7 ure gelede | Howe

Ronelle Rademeyer - Met haar hande wringend op haar skoot het die 34-jarige Zenobia Seas Vrydag in hofsaal E in die hoërhof in Windhoek geluister...

Geingob dek neutrale tafel

7 ure gelede | Plaaslik

Denver Kisting – Prof. Nico Horn, ’n regsdosent en politieke onleder, sê hy is nie verras oor hoe die afgelope beraad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap...

Mans in Windhoek doodgesteek

7 ure gelede | Misdaad

Denver Kisting Twee mans is in afsonderlike­ voorvalle die afgelope naweek in Windhoek met skerp voorwerpe dood­gesteek.Hiernaas is vier verdagtes op die toneel aangekeer toe...

Weer, Maandag 20 Augustus 2018

7 ure gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en matig in die Suide en sentrale gebiede. Elders sal dit sonnig en baie warm wees. Winderige toestande sal oor die binneland heers.KUS:...

Jakkals kom sy luiperd teë

7 ure gelede | Omgewing

Elvira Hattingh - Besoekers aan die Kgalagadi-oorgrenspark het onlangs die skaars voorreg gehad om te sien hoe ‘n luiperd ‘n jakkals vang en in ‘n...

NBC-werkers is steeds woedend

7 ure gelede | Arbeid

Augetto Graig Protes deur ongelukkige werknemers by Namibië se nasionale uitsaaier (NBC) duur voort.Dié groep het Donderdag weer eens voor die uitsaaier se hoofkantoorhek betoog....

Wêreld gaan Kofi mis

7 ure gelede | Mense

Denver Kisting – Pres. Hage Geingob sê die ontslape voormalige sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN), mnr. Kofi Annan, het die Afrika-vasteland én die mensdom...

Leiers faal die mense

7 ure gelede | Plaaslik

Catherine Sasman – Die Namibiese burgerlike organisasie-aktivis mnr. Uhuru Dempers sê die Suider-Afrikaanse leiers moet “wakker skrik” en die harde werklikhede van neerdrukkende armoede en...

Kajuitberaad by SADC

7 ure gelede | Plaaslik

Kajuitberaad by SADC