’n Heildronk op ouma
Otis Finck – Die algehele verbod op die verkoop van alkohol en sigarette as gevolg van ’n geniepsige virus wat nou die rondte doen, het my gedagtes laat verdwaal na die verlede.
My ouma was die bobaas tradisionele gemmerbier brouer van die gemeenskap. Vra maar rond, bo en behalwe haar silwer hare is haar gemmerbierbrousel dit waarvoor almal vir “Ouma Finck” onthou – vanaf Lüderitz tot in Walvisbaai.
Haar resep was uniek en het menige babbelas laat les opsê, veral op Sondae.
Gemmer, rosyntjies, pynappelstukke, suiker, gis en warm water was van die geheime bestanddele.
Die meng en maak formule was ’n staatsgeheim. Ek is vas oortuig dat haar manier van doen saam met haar graf toe is.
My ma en suster probeer ook, maar hulle konkoksies proe anders en kom nie naby my ouma se brousel nie.
Sy het haar brousel gewoonlik al op Vrydagaande in die kombuisie voorberei en laat fermenteer.
Dit is dan Saterdagoggende deur ’n sykous gesif en gebottel vir verspreiding en gebruik na wense.
Die reuk van gemmer het alewig in die lug van die drievertrekhuisie gehang.
Seker daarom dat ek gemmerbier vandag nog met so ’n passie verafsku.
Ek drink dit nie, want die oordosis van die reuk wat ek as kind moes inasem, het veroorsaak dat dit my tot in my siel walg.
My ouma se tradisionele tuisgemaakte bier was egter so populêr dat bestellings (teen R1.50 per bottel) aan die orde van die dag was. My taak was dan om teen ’n fooitjie die afleweringswerk te doen.
Ek was ook aangesê om veral Vrydagoggende sowel as naweke douvoordag op te staan en die strate in te vaar op soek na leë wynbottels en proppies vir my ouma se brousel.
Naweke is mos drinktyd en die strate was dan besaai met leë bottels.
Dit moes nie sommer enige bottel wees nie. Witglas bottels was haar vereiste. Verkieslik die White Horse, Leiberstein, Mintpunch “Clubman” 750 ml tipes. Sy het nie van die bruin sjerrie en bierbottels of groenerige “Castello” bottels gehou nie.
“My kind, die customers moet kan sien wat hulle gaan geniet voor hulle dit nog proe,” het sy met passie en ’n glinster in haar oë verduidelik.
Die bottels wat my ouma nie wou gebruik nie, het vir my baie tien sente gebring.
Dit was ’n werklike wen-wen situasie. My ouma was tevrede en met my sakgeldjie kon ek vir my soetgoed koop en by Oasis gaan bioskoop kyk.
Sy het met haar winste van nuuts af bestanddele vir die volgende brousel gekoop en het later ook yssies en suikerlekkers by haar tuisnywerheid bygevoeg.
Ek is seker sy sou vandag die produksie van haar gemmerbier aansienlik moes opstoot en dat haar besigheid sou gefloreer het te midde van die aansienlike aanvraag na lafenis met ’n effense skop wat nou as gevolg van Corona bestaan.
- otis @erongo.com.na

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie