'n Gholfstok vir my, en een vir jou

21 January 2019 | Sport
Dawie Boonzaaier - Die man wat eens op 'n tyd deur die Springbokafrigter beskryf is as die “Tiger Woods van rugby” se voorliefde vir gholf het die afgelope week dalk net 'n bietjie te ver gegaan.

Earl Rose (35), eertydse Superrugby-heelagter en -losskakel vir die Lions en die Stormers, is die man wat Woensdag op veiligheidskameras van die Stellenbosch-gholfklub vasgelê is waar hy oënskynlik homself help aan 'n setstok uit die onbewaakte sak van een van die klublede.

Op die video, wat soos 'n veldbrand op sosiale media versprei het, kan ook gesien word hoe 'n vrou wat kort agter hom by die klub se voordeur uitloop, 'n dryfstok uit 'n ander sak neem.

Nie Rose of die vrou het dié dag by die klub gholf gespeel nie.

Die storie het 'n dag later 'n onverwagte stertjie bygekry toe Rose – nadat die video reeds die wêreld aan die brand gesteek het – na bewering na die klub teruggekeer het om die stokke terug te bring.

Hy wou blykbaar nie uit sy motor klim nie en het die stokke net aan 'n veiligheidswag oorhandig met die versoek om dit by verlore goedere in te handig. Die wag het hom herken dat hy 'n dag tevore by die klub was.

Die setstok wat teruggebring is, was nog in 'n goeie toestand, maar die dryfstok, wat sowat R7 000 werd is, se steel was skoonveld.

Die gholfklub het 'n saak van diefstal aanhangig gemaak.

Rapport het die afgelope week sonder welslae probeer om Rose om kommentaar te nader. Hy het nie sy selfoon geantwoord nie, maar het wel 'n WhatsApp-bood­skap gelees wat na sy foon gestuur is. Die koerant kon ook nie vasstel wie die vrou saam met hom op die video is nie.

Sy eggenoot, Amor, was ten tyde van die voorval glo by haar familie in Namibië.

Nie Rose, sy pa, Enver, of Amor wou kommentaar lewer nie.

Op Rose se Facebookblad deel hy graag video's van gholfspelers. Hy is ook 'n lid van minstens twee Facebookgroepe wat tweedehandse gholfstokke koop en verkoop.

Rose en sy vrou het glo tot onlangs saam in Namibië gewoon, maar Rose het blykbaar sonder haar teruggekeer na die Strand, waar hy tans woon.

Louis Swanepoel, die eienaar van die setstok, het die humor in die situasie probeer raaksien.

Hy sê hy het sy sak in die gang neergesit om 'n paar vriende te groet voordat hy met sy ronde begin. Toe hy terugkom het hy opgemerk sy setstok is weg, en dit aan personeel genoem, maar nie veel daarvan gedink nie omdat hy vermoed het dit is 'n poets van Grant Gainsford, een van sy speelmaats.

“Toe ek by die bof kom, wil Grant by mý weet of ek weet waar sy drywer is. Toe weet ek daar is fout.”

Die twee het toe hul nege putjies klaar gespeel deur stokke by mekaar te leen. Toe hulle terugkom in die klubhuis is hulle deur personeel voorgekeer wat sê: “Julle sal nie raai wie julle stokke gevat het nie.”

“Ek kan net lag,” sê Swanepoel.

Rose het die Leeus in 49 Superrugbywedstryde verteenwoordig, en die Stormers in twee. Hy het een toerwedstryd vir die Springbokke gespeel; 'n 24-23-nederlaag teen die Engelse klubspan Saracens in 2009. Hy het nie die Bokke in 'n toets verteenwoordig nie.

Indien Rose aangekla word, sal dit nie sy eerste botsing met die gereg wees nie. In September het hy en sy pa in die landdroshof in die Strand verskyn nadat hulle glo in 'n bakleiery betrokke was. Keenan Wagner, hul vriend, het beweer pa en seun het hom ná 'n aand se kuier aangerand. Die saak is later uitgegooi.

In Augustus 2012 het Rose en sy vrou met Rose se BMW in die vroeë oggendure in 'n viswinkel in Gordonsbaai vasgery. Sy rybewys is ná die voorval ingetrek. - Rapport

Soortgelyk

 

Operasie Kalahariwoestyn hervat

5 ure gelede | Polisie

Die omstrede teenmisdaadoperasie Kalahariwoestyn hervat eerskomende Maandag.Die nasionale polisiewoordvoerder, adj.komm. Edwin Kanguatjivi, het Dinsdagmiddag in Windhoek gesê die veldtog en sy voorganger, Hornkrantz, help om...

Chasing your dream

21 ure gelede | Mense

Ester Kamati Aina Johannes completed her matric at Windhoek High School in 2015 and is currently pursuing her studies in marketing management at the International...

Kinderverkragter: ‘Ek is skuldig’

21 ure gelede | Howe

Francoise Steynberg - Die 50-jarige Jeremia van Wyk het gister skuldig gepleit op die verkragting en ontvoering van ’n vyfjarige meisie. Pas nadat Van Wyk gisteroggend van...

/Khomani wil verskeie Khomas-plase onteien

21 ure gelede | Politiek

Catherine Sasman - Die /Khomani-gemeenskap eis nie net die onteiening van plekke soos Dordabis, Aub en Omitara omdat dit aan hul voorvaders behoort het nie,...

Windhoekers kniediep in die skuld

21 ure gelede | Regering

Denver Kisting – Die Windhoekse stadsraad (CoW) het gister by monde van sy woordvoerder, mnr. Harold Akwenye, bevestig hul debiteure skuld hulle bykans N$900 miljoen...

Weer vir 6 Augustus 2019

21 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie warm in die Noordooste. Elders sal dit sonnig en baie warm wees, maar matig tot warm in die Suide. Dit...

Maltas Club reaches out

21 ure gelede | Onderwys

Ester KamatiIn conjunction with First National Bank (FNB) Namibia, the University Centre for Studies in Namibia (Tucsin) and Dinapama Manufacturing and Supplies, the Maltas Club...

Making science easier

21 ure gelede | Onderwys

Justicia Shipena B2Gold Namibia, in collaboration with the education ministry, officially launched the flagship Little Shop of Physics (LSOP) teacher programme on 2 August...

Embracing differences

21 ure gelede |

Justicia Shipena As a way of bringing together and uniting the different cultural groups within the International University of Management (IUM) community,...