‘n Franse oomblik

09 March 2018 | Kuns en vermaak
Lloyd Zandberg - Ek verbeel my ek sit in Frankryk. Ek voel ‘n ligte winterbriesie oor my polse gly. Buite, iewers op ‘n spierwit boom, praat ‘n voël. Ek knyp my oë styf toe, dat dit amper begin pyn. Ek is in Frankryk, sê ek vir myself. Oral om my is vars gebak en mense wat nie my taal kan praat nie. Toe die briesie my nek vang, kom sit sy voor my. Ek sien die Franse platteland agter haar.

Sy haal haar swart leersak van haar rug af, plons dit op die tafel wat soos jellie wankel neer, en gaan sit.

‘n Groot asem verlaat haar mond. Marita van der Vyver loer by die kafee uit en sien hoe Windhoek se mense besig met die lewe is. Ek sien net Frankryk.

Langs ons, in ‘n hoek wat lig kan kry, is ‘n fees van terte en quiche’e. Sy sien dit raak en knik vir haarself. Die kelner kom na ons en ek keer myself om “bon jour” te sê.

Marita bestel water en ek gryp na koffie. Sy sê dis lekker om hier te wees.

“Ek gaan tussenin eet. Ek het vandag baie gepraat. En ons ry hierna Swakopmund toe,” sê Marita.

“Asseblief,” antwoord ek, “gaan aan met jou program.”

My verbeelding hou steeds by. Ek en Marita sit in ‘n klein kafee in Frankryk. Ek is met vakansie en toe loop ons mekaar raak. Dis winter en almal dra serpe. Ek verstaan genoeg Frans dat ek die stemme om my hoor.

Ek begin. Marita hap. Sy lyk soos ‘n voorbladgesig. Mooi. En nie so oud soos wat sy is nie.

“Die geheim van die lewe is jy moet vriende van alle ouderdomme hê. Omdat ek nog altyd ouer én jonger vriende gehad het, kon ek sien hoe hulle deur die lewe gaan en ook wat ek nie moet doen nie. En wie vir jou ‘n voorbeeld is. Ek het hierdie een vriendin, sy is 80, gesig is vol plooie en sy is wie ek hoop ek eendag kan wees. Sy het hierdie vryheid van gees. Sy swem nog kaal. Dit is fantasties.”

Ons water en koffie kom soos goeie nuus by die tafel aan. Ek sien weer die sneeu buite. Ek wonder of sy ook met haar gedagtes heetlyd stories skryf.

“Ek het altyd gedroom dat ek ‘n skrywer sou wees, vandat ek baie klein is. En ek het gehoop dat ek ‘n bestaan met skryfwerk kon maak. Dit was ‘n bietjie soos om maan toe te gaan, jy weet. Ek kom nie uit ‘n familie van skywers nie. Hoe sou ek ‘n skrywer word? Jy verlaat nie net skool en dan is jy nou ‘n skrywer nie,” sê sy.

“Wat is ‘n skrywer dan?” vra ek.

“Iemand wat ‘n boek gepubliseer het. Dit het ‘n hele paar boeke geneem voordat ek myself sonder verleentheid ‘n skrywer kon noem. Dit voel vir my as jy ‘n sekere aantal boeke geskryf en gepubliseer het, dan is jy ‘n skrywer. En nog meer as jy ‘n bestaan daaruit kan maak. Baie min mense in die wêreld kan dit doen. Jy moet ‘n day job hê of iets anders ook doen.

“Dis nou al 30 jaar vandat ek met die pen in my hand sit. Nadat ek Griet skryf ‘n Sprokie geskryf het, het ek nooit weer in my lewe vir ‘n salaris gewerk nie.”

“Hoe skryf jy? Doen jy enige voorbereiding daarvoor?” wil ek weet.

“Terwyl ek opstaan, begin dink ek aan wat ek vandag gaan skryf. Ek kan dan nie dadelik na ‘n rekenaarskerm kyk nie.

“Ek sal eers die huis regtrek, al die goed wat ek normaalweg haat om te doen, soos skoonmaak, doen. Ek stel die skryf uit. As dit by fiksie kom, is dit baie anders. Jy moet die storielyn, karakters en alles uitdink, maar met byvoorbeeld joernalistiek is dit daar! Voor jou! Jy skryf dit en maak klaar. Met fiskie is dit baie anders. Ek doen alles wat nie belangrik is nie, sodat ek die eers later hoef te begin skryf.”

“En dan?” vra ek.

“Ek besef dan dat ek al vir ‘n uur en ‘n half besig is met ander goed. Ek gaan sit dan net en begin. Ek gaan nie noodwendig na my rekenaar nie. Ek het so ’n room of my own. Ek noem dit my spasie. Ons woon nou al so sewe jaar in die huis waarin ons tans woon, en voor dit het ek geskryf waar ek kon, maar nou, omdat ek ’n kantoor het, met ‘n deur en ‘n boekrak, kry ek gefokus.

“Partykeer gaan sit ek onder die olyfboom buite en skryf met die hand. Net om aan die gang te kom. Dit voel vir my soos vingeroefeninge.”

Marita se vars gebakte quiche word voor haar ingeskuif.

“Sjoe, dit is pragtig,” sê sy.

Haar nuwe boek, Al wat ek weet, is ‘n jeugroman.

Hoe verskil die Franse jeug met dié van haar geboorteland?

“Ek dink as ‘n mens skoolbesoeke doen, dan lyk dit vir jou of daar groot verskille is, maar dit is bloot op voorkoms gebaseer. Jy sien uniforms, dissipline en al die seuns se hare mag nie lank wees nie.

“En in Frankryk anything goes. Jy kan met blou hare skool toe gaan. Op die oog af lyk dit baie anders, maar as jy met hulle praat, is dit eintlik maar dieselfde. Die issues is dieselfde issues, dwarsoor die wêreld.”

Marita is juis in Namibië oor haar nuwe boek en vir ’n onderwyskonferensie.

“Ons het gekom vir die groot onderwyskonferensie. Ek kom praat kortliks met Afrikaanse onderwysers oor kreatiewe skryfwerk. Ons het verlede jaar met Al wat ek weet ‘n lekker skooltoer gehad, en toe bring ons dit Namibië toe ook,” sê sy.

Soveel boeke - hoe kry sy dit elke keer reg?

“Met elke boek probeer ek ‘n ander uitdaging aan myself stel. Ek doen dit, want anders sal dit vir my so vervelig raak. En ek dink dit is soms nie waarvan uitgewers hou nie. As jy nou ‘n reeks met sewe boeke skryf en jy skep ‘n hoofkarakter, dan gaan jy nou maar net aan, maar vir my sal dit so vervelig wees. Ek verkies om dinge anders te doen. Ek besluit nooit watter tipe boek ek volgende skryf nie. Dit gebeur vanself.”

Aan die begin van haar loopbaan was tegnologie beswaarlik wat dit vandag is.

Hoe het die moderne era haar skryfwerk en die proses verander?

“Duisend keer makliker gemaak. Ek kan my amper nie voorstel hoe ons dit gedoen het voor die tegnologie nie. Ek is bietjie van ‘n tegnofoob, want ek hou nie altyd van die nuwe goeters nie, maar ja, ek kan nie vir een oomblik myself voorstel om sonder tegnologie te werk nie. Jy weet, met Griet skryf ‘n Sprokie, 25 jaar terug, dit is ‘n kwarteeu, met die Hollandse vertaling daarvan moes die vertaler vir my fakse stuur. Die navorsing wat ‘n mens op die internet kan doen, is ook fantasties,” sê sy.

“Miskien het ons jongklomp dit makliker?” vra ek.

“Daar is baie meer boeke beskikbaar, ja, maar dit beteken nie dat alles goed is nie. Quantity versus quality. Daar is ‘n groot klomp gemors wat ook gemaak word. Kyk byvoorbeeld na die Afrikaanse musiekbedryf. Dit boom.”

“En hou jy van musiek?” wil ek weet.

“Ja, baie,” sê Marita, “ek het een keer vir my man, jare gelede, spottend, die Briels gespeel. Heeltemal tong-in-die-kies. Hy terg my tot vandag toe daaroor. Wanneer ons Franse gaste kry, speel hy dit heeltemal ernstig. Dan vertel hy dit is hoe die musiek in my land klink. Dis nie so maklik om ‘n boek uit te gee as wat dit is om ‘n CD te maak nie.”

Hoe voel sy oor oudword?

“Dis ‘n cliché, maar dit het tog baie met the mind te doen. Ek glo jy moet jou lyf nie te veel mishandel nie. Ek het in my jonger dae my lyf heeltemal mishandel. Ek moet koffie kry, maar sterk,” onderbreek sy haarself.

Ek wonder of sy verder gaan praat. In my gedagtes reën dit buite. En agter my brand ‘n kaggel.

“Ek sê altyd ek verdien eintlik nie om so gesond te wees soos wat ek is nie. Ek drink hopeloos te veel koffie. Ek het jare lank gerook. Daar is so baie dinge wat ek weet ek eintlik nie moet doen. Maar hoe oud wil ons nou in elk geval word? Ek wil graag so oud word soos wat ek kan, solank my kop nog kan werk, en as my lyf darem nog min of meer in stand gehou kan word. Anders wil ek nie. Ek wil nie sou oud word dat my brein nie meer werk nie.”

Is jy bang om dood te gaan?

“Ek vrees die oorgang. Ek vrees die aftakeling. Die waardigheid verloor. Ek wil nie hê die mense om my moet my soos ‘n baba verpleeg nie. Niemand moet my doeke omruil nie. Ek gaan steeds my bes probeer om so oud moontlik te word, maar met waardigheid.”

Wat voer sy volgende in die mou?

“Ek is besig met ‘n volwasse roman. Soos baie ander skrywers het ek al geleer ‘n mens moenie te veel sê nie, want dan praat jy dit uit jou uit en skryf dit nie uit jou uit nie, maar dit is wel ‘n storie wat ‘n draai in Kuba maak. Ek het in Kuba gaan navorsing doen en ek is nou hard aan die skryf daaraan. Ek hoop om dit aan die einde van die jaar te lewer, sodat dit vertaal kan word en saam met die Afrikaanse weergawe uitgegee kan word. Ons kyk na die tweede helfte van volgende jaar. Die voorlopige titel is Grensgeval.”

Wat wil jy nog doen?

“Ek sal nogal daarvan gehou het om met ‘n skip om die wêreld te reis. Vir ‘n jaar, en al die plekke te sien. Ek is eintlik ‘n bietjie van ‘n trekvoël. Ek hou daarvan om ‘n nes te hê. ‘n Plek waarnatoe ek kan terugkom, maar ek sal baie daarvan gehou het om so rond te reis.

“Ses maande op ‘n plek te woon en dan weer aan te beweeg. Ek is mal oor ons huis op die Franse platteland, maar my man se grootse droom is om ‘n holte vir die voete in die Kaap te kry. ’n Lock up and go soort plek. Maar ek sal eintlik nog baie meer wil reis.”

Ek wil ook nog baie reis, dink ek.

Ek besef ek moet terugkom. Terug Windhoek toe.

Hier waar ons eintlik sit en die onderhoud voer, met vuurwarm winde en lekker gebak.

Maar vir ’n oomblik was als Frans.

Soortgelyk

 

Elfjarige byna ontvoer

1 dag gelede | Misdaad

Henriette Lamprecht – ‘n Elfjarige laerskoolmeisie is Woensdag helder oordag voor haar huis byna deur ‘n groep mense in ‘n motor gedwing en ontvoer. ‘n...

Tendertafel net vir buitelanders gedek

1 dag gelede | Infrastruktuur

Ronelle Rademeyer - Die voorwaardes waaraan kontrakteurs moet voldoen om in aanmerking te kom vir twee reuse-konstruksietenders van byna N$4 miljard, is van só ’n...

Storm los by Unam-eksamen

1 dag gelede | Onderwys

Denver Kisting - Die Universiteit van Namibië (Unam) het teen gistermiddag steeds skouers opgetrek oor ’n eksamen wat eergisteraand skeefgeloop het.Nagraadse regstudente verbonde aan die...

Kalender 21 September

1 dag gelede | Kuns en vermaak

Nou aan die gang» Erfenisweek 2018 is goed op dreef by die Franko-Namibiese Kultuursentrum (FNCC) . Namibië se belangrikste erfenisinstellings het saamgespan om dié...

’n Mannekoor en wyn vir die pyn

1 dag gelede | Kuns en vermaak

Die Windhoeker Männerchor (WMC) en ‘n uitgesoekte groep musikante nooi die publiek na die Wynfees/Winzerfest uit. Dít vind op 6 Oktober by die SKW...

Vanjaar reeds 29 renosters in Namibië gestroop

1 dag gelede | Omgewing

Francoise SteynbergAltesaam 21 swart- en agt witrenosters is al vanjaar in Namibië vir hul horings afgemaai.Uit dié 21 swartrenosters is 13 in die Etosha Nasionale...

Gif in waterkrip dalk stropers se werk

1 dag gelede | Misdaad

Henriette Lamprecht Watermonsters van 'n krip in 'n munisipale kamp wes van Omaruru is vir ontleding na 'n private laboratorium gestuur om te bepaal...

Breek die mure af

1 dag gelede | Kuns en vermaak

Yolanda Nel – Indien die klank van kabaret, Evita of die Rocky Horror Picture Show jou aandag trek, moet jy môre geen planne maak nie.Shades...

Die Kontrak is hier!

1 dag gelede | Kuns en vermaak

Die groot oomblik is uiteindelik hier: VIA (DStv, kanaal 147) en Coleske Artists se splinternuwe TV-reeks, Die Kontrak, waarin die volgende groot Afrikaanse kunstenaar gekroon...