’n Droom, ’n passie en ’n belofte

17 July 2020 | Kuns en vermaak
Yandi du Plessis - Op ’n Saterdag het ek by die weeklikse Inspirasiemark van tafel tot tafel gedwaal, toe ’n skildery van ’n seetoneel my oog vang. Nuuskierig staan ek nader om dié kunswerk beter te bekyk. ’n Vriendelike jong meisie langs die tafel vra of sy my kan help. “Is jy die kunstenaar?” vra ek. Haar antwoord was “ja”. Ek is verbaas. Ek het nie verwag die kunstenaar sou so jonk wees nie. Die kuns wat op die tafel uitgestal is, is baie volwasse (as dit sin maak). Ek het dadelik geweet ek moet met dié meisie gesels; uitvind hoe sy reeds ’n suksesvolle kunsloopbaan kan hê. En ja, ek het die kunswerk gekoop. Ek móés.

Haar storie

Net ’n jaar gelede sou Anesia Joseph nooit kon raai haar lewe sou dié pad stap nie. Sy het in 2017 haar BCom-graad met die hoofvakke logistiek en vervoerekonomie aan die Universiteit Stellenbosch voltooi en vir twee jaar daarna by PwC gewerk. Sy het egter altyd ’n aanvoeling en passie vir kuns gehad. Vanjaar het sy uiteindelik besluit om haar hart te volg en kuns haar voltydse loopbaan te maak.

Anesia vertel haar pa is verlede jaar skielik dood. Die twee was baie geheg aan mekaar. “Die saadjie is toe al geplant. My pa het altyd in my drome geglo.”

Volgens Anesia was dit ’n wekroep gewees en sy het vanjaar besluit om werklik tyd vir haar passie te maak.

“Ek het in die aande ná werk vryskuttekenwerk gedoen.”

Haar kunstenaarsiel was egter nie heeltemal tevrede nie. Sy het in Maart vanjaar by PwC bedank om voltyds op haar kunsloopbaan te fokus.

“My gesin het my tydens dié skuif ondersteun. Hulle het my werklik aangemoedig om te fokus op dit wat my gelukkig maak.”

Sy kon egter nie 2020, die jaar van onaangename verrassings, vryspring nie. Net na sy bedank het, het die Covid-19-pandemie Namibië ook in sy kloue gekry.

“As ek geweet het dit gaan gebeur, sou ek dalk effens langer in my ou beroep gebly het,” sê sy.

Dit was vanselfsprekend vir haar ’n tyd van groot onsekerheid.

“Ek het ’n groot lewensverandering gemaak te midde van ’n wêreldwye krisis. Ek het nie geweet wat gaan gebeur nie. Net tyd sou leer of die verandering vrugte sou afwerp.”

Anesia het gebid dat God haar hand sou vashou op die wankelrige pad.

Alles het egter uitgewerk soos dit moes.

“Ek is so dankbaar ek het besluit om na my hart te luister. Ek het verwag om aanvanklik ’n groot deel van my normale inkomste te verloor, maar ek het beslis nie. Dit is wonderlik om te weet mense waardeer jou talent, veral in ’n tyd waar daar juis so min waardering vir kuns is.”

’n Hoogepunt vir haar was toe sy op 11 Julie op NBC se Tutaleni-program verskyn het. Sy is ook baie opgewonde om in die Augustus-uitgawe van die Michaelangelo-tydskrif te verskyn. Hou dus die uitgawe dop.

Anesia is ’n vryskutkunstenaar en werk op aanvraag. Haar enkellyn-sketse van foto’s is veral gewild en sy doen gereeld sketse van paartjies.

Sy is egter ook ’n vaardige skilder en geniet dit veral om landskappe en meer abstrakte portrette te verf. Fotorealisme speel ’n belangrike rol in ’n groot deel van haar werk. Sy sal in die toekoms graag ook water- en olieverf as mediums wil gebruik.

“Ek sal altyd probeer om my kennis te verbreed en konstant nuwe tegnieke aanleer.”

Anesia sê haar meer persoonlike werk vertel ’n storie en is ’n weerspieëling van haar emosies.

“Ná my pa se dood het ek my frustrasie deur kuns uitgedruk. So kon ek die hartseer in skoonheid omskep.”

Sy droom om in die toekoms weer te reis en inspirasie te put uit die bestemmings wat sy besoek.

Die naam van haar besigheid, Amaryah Collection, klink beslis eksoties en kunstig, maar het ’n dieper betekenis.

“Die naam Amaryah het een aand in een van my drome te voorskyn gekom. Ek het die betekenis gaan opsoek en dit beteken ‘belofte van God’ in Hebreeus. Dit het werklik met my gepraat, want ek was op pad om my werk te bedank en voltyds op kuns te fokus. Dit was die laaste oorreding. My eie naam, Anesia, beteken ‘reinheid’ en die twee het mooi bymekaargepas,” vertel sy.

Dis ’n nuwe begin vir die ywerige jong vrou, maar ook ’n mylpaal in ’n loopbaan wat hopelik van krag tot krag sal gaan.

Gaan kyk gerus na Amaryah Collection se Instagram-blad om Anesia se werk van nader te aanskou.

Soortgelyk

 

Vandag se Covid-19-data

5 ure gelede | Gesondheid

'n Visuele opsomming van die inligting vir Maandag 10 Augustus 2020, soos om 15:00 vanmiddag aangekondig deur die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr....

Skerp styging in gevalle in Windhoek wek kommer, sê...

6 ure gelede | Gesondheid

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste dr. Kalumbi Shangula het die situasie in Windhoek as "kommerwekkend" beskryf met 79 nuwe Covid-19-gevalle wat vandag in...

Twee met ivoor, velle vasgetrek

11 ure gelede | Misdaad

Twee vermeende wildmisdadigers, mnr. Gabriel Kuutondokwa Nalitje en David Simon, is verlede Maandag in Windhoek glo met drie stukke ivoor en een elk luiperd- en...

Viskwotas: Tweede Fishrot gevrees

21 ure gelede | Misdaad

Leandrea Louw op Walvisbaai - Rolspelers in die visbedryf is bekommerd dat die land in 'n tweede Fishrot-skandaal gedompel sal word as viskwotas opgeveil word....

Olifante vertrap Noorde-plase

21 ure gelede | Omgewing

Elvira Hattingh - Twee troppe olifante het sedert Donderdag en oor die afgelope naweek verwoesting op plase teen die veterinêre kordonheining in die Noordooste gesaai,...

Tossing papers, tapping buttons

21 ure gelede | Tegnologie

Justicia Shipena WINDHOEKHaving started his coding journey in grade nine at De Duine Secondary School in Walvis Bay, Joachim Shilongo recently developed a...

'Beskerm jouself en ander'

21 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste gaan beheermaatreels in Windhoek verskerp in ’n poging om die toenemende skerp styging in Covid-19-gevalle...

Weer vir 11 Augustus 2020

21 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Koue toestande sal môre in die Suide vestig. Die nodige voorsorgmaatreëls moet getref word. BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en matig tot warm, maar baie warm...

#Covid19SafetyChallenge closing date extended

21 ure gelede | Gesondheid

Justicia Shipena LifeLine ChildLine, through Uitani Radio, invites young people of all ages to participate in the #Covid19SafetyChallenge.This competition aims to monitor how many...