N/a’an ku sê-brand vernietig duisende hektaar

16 November 2021 | Ongelukke
Ellanie Smit – Duisende hektaar grond in die Khomasstreek is Sondag verwoes toe ’n brand wat by die N/a’an ku sê Lodge and Wildlife Centre begin het na verskeie plase versprei het.

Twee huise by die lodge het ook afgebrand. Na raming het die brand ten minste 10 000 hektaar verwoes. Mnr. Royston Wright, een van die boere wat Sondag die vuur bestry het, het aan Republikein se susterkoerant Namibian Sun gesê die brand het Sondag omstreeks 11:00 ontstaan.

Wright is deel van die WhatsApp-groep, Nossob en Otjihase-brand, waar waarskuwings uitgestuur word oor waar ’n brand op een van die plase in die omgewing is. N/a’an ku sê is ook deel van die groep.

Volgens Wright het die brand die oggend op N/a’an ku sê ontstaan, terwyl opknappingswerk by ’n belegger se huis gedoen is. Na bewering het die vonke van ’n hoekslyper wat gebruik word om metaal te sny, die grasdak van die huis aan die brand gesteek.

Wright sê in totaal is twee huise afgebrand, met die vuur wat gedraai en ’n veldbrand veroorsaak het. Volgens hom het die veld op N/a’an ku sê ’n bietjie aan die westekant gebrand. Aangesien die wind die vuur weswaarts gewaai het, het dit oorgespring na die buurplase.

Op die plaas Fransstein is na raming byna 90% van die weiding verwoes.

“Hulle kan moontlik twee koeikampe oorhê in vergelyking met die 19 wat hulle normaalweg het,” het hy gesê.

Op ’n ander plaas, Ongeama, is sowat 30% van die weiding verwoes, terwyl dit ook op ’n plaas noord van Fransstein gebrand het.

Intussen het die vuur verder na die Neudamm-kampus en -plaas versprei waar tussen 30% en 40% van die plaas afgebrand het.

Volgens Wright is die brand uiteindelik gister tussen 01:00 en 02:00 onder beheer gebring.

Tydens ’n kort onderhoud Sondagmiddag met die uitvoerende hoof van die groep op N/a’an ku sê, dr. Rudi van Vuuren, het hy dit as ’n verskriklike situasie beskryf en beklemtoon hulle doen alles in hul vermoë om die brand onder beheer te bring.

Hoofinspekteur Elifas Kuwinga van die polisie het by navraag gesê die brand is nie by hulle aangemeld nie. Die direkteur van bosbou in die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme het bevestig die ministerie is bewus van die brand, maar het nie baie inligting nie en dat beamptes na ander brande uitgestuur moes word.

N/a’an ku sê het in ’n verklaring gister bevestig die brand het twee grasdakhuise vernietig en na ’n aantal naburige eiendomme versprei.

“Danksy die ongelooflike inspanning van die gemeenskap is die brand ná 12 ure onder beheer gebring,” lui die verklaring.

Volgens die verklaring het subkontrakteurs omstreeks 11:00 aan ’n woning in die N/a’an ku sê Lodge and Wildlife Sanctuary gewerk.

“Vonke van ’n hoekslyper was die aanvanklike oorsaak van die brand. N/a’an ku sê se personeel het onmiddellik met alle beskikbare hulpbronne gereageer en naburige boere via die plaasgroep Nossob/Otjihase Fire 2021 op WhatsApp laat weet.” Aanvanklike blus-pogings het op die betrokke woning gefokus.

Die oomblik wat die grasdak aan die brand geraak het, het windtoestande en die hitte daartoe gelei dat die vuur vinnig versprei het. Dit het oor brandpaaie na Farm Frauenstein bespring, waarna dit verder na die Midgard-pad en na Neudamm en Ongeama beweeg het, sê N/a’an ku sê.

“Ten spyte van reusepogings deur die omliggende gemeenskap en brandweer, het die vuur na bogenoemde eiendomme weens die konstante verandering van die wind en digte, droë plantegroei versprei.”

Die brand is uiteindelik in bedwang gebring deur die implementering van ’n agtervuur om verdere verspreiding te keer.

Die N/a’an ku sê-stigting het hul dank teenoor die hele gemeenskap uitgespreek en omliggende gebiede vir hul ondersteuning en vinnige reaksie. – [email protected]

Soortgelyk

 

22 sterftes, 346 nuwe gevalle

4 ure gelede | Gesondheid

Die Covid-sterftes het met 22 tot 3 783 gestyg. Vyf hiervan was tuissterftes in die Oshikoto-streek. Nie een van die sterfgevalle was ingeënt nie. Gister...

Trusted Travel System geld vanaf Saterdag

8 ure gelede | Toerisme

Die Trusted Travel System vir die koördinering en verifiëring van Covid-19-uitslae in lande deel van die Afrika Unie (AU) geld vanaf Saterdag (15 Januarie) in...

Huidige Covid-19-regulasies bly in plek

8 ure gelede | Gesondheid

President Hage Geingob sê die huidige Covid-19-regulasies wat die afgelope maand in plek was, geld steeds tot 15 Februarie. Dit is die volgende: 'n maksimum...

Byna 20 000 nuwe gevalle die afgelope maand

8 ure gelede | Gesondheid

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, sê 19 846 nuwe Covid-19-gevalle is die afgelope maand in die land aangeteken. Hiervan was...

Inentingskoers bly laag

8 ure gelede | Gesondheid

President Hage Geingob sê huiwering om teen Covid-19 ingeënt te word, duur voort. Volgens die staatshoof het Zambezi die laagste koers en wel 6%, terwyl...

‘Reëngolwe wink’

19 ure gelede | Weer

Henriette Lamprecht – Baie swaar reën, met etlike reëngolwe wat in die tweede helfte van vandeesweek en tot volgende week uitgebreid na Namibië op pad...

Lisensie of nie, staatsvoertuie ry

19 ure gelede | Polisie

Adam Hartman op Swakopmund – Verkeersbeamptes in alle streke voer steeds ’n vroeër opdrag vanuit hul hoogste gesag uit om nie verkeerskaartjies aan regeringsvoertuie met...

FNB deel van geding om Fishrot-geld

19 ure gelede | Howe

Ogone Tlhage – First National Bank Namibia het bykomende dokumente by die hoërhof in Windhoek ingedien en hom daardeur by die grootste korrupsiesaak in die...

Weer vir 13 Januarie

19 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm oor die westelike helfte van die binneland, andersins gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm met 'n...