Mynwerkersunie mors Geingob se tyd
Leiers van die Mynwerkersunie van Namibië (MUN) het vanoggend hul geskeduleerde vergadering met president Hage Geingob misgeloop omdat hulle laat was. Met die visepresident, die arbeidsminister, die mynbouminister en ander topregeringsamptenare reeds om die tafel, wou Geingob eers by die media en toe by sy minister van presidensiële aangeleenthede, amb. Martin Andjaba, weet waar die MUN-leiers is. Hy het selfs sy sekuriteitspersoneel gevra of hulle by die kontrolepunt vertraag is. Geingob het gesê hy vermoed die unieleiers is afgeskrik deur ? klagskrif van 112 werkers by Swakop Uranium waarin versoek is om dié vergadering af te stel. Geingob het almal teenwoordig verskoning gevra vir die tydmors en die vergadering verdaag. Daarna het die media die MUN-verteenwoordigers by Staatshuis se voordeur aangetref. Volgens die unie se president, mnr. Allen Kalumbu, was hulle bloot vertraag. Die rede daarvoor is nie verskaf nie. Die MUN was ook nie van die klagskrif bewus nie, het Kalumbu gesê.
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie