Myne en energie se begroting 'voldoende'
Myne en energie se begroting 'voldoende'

Myne en energie se begroting 'voldoende'

Adjunkminister Shilunga sê N$264 miljoen is genoeg om mee voort te gaan.
Augetto Graig
Augetto Graig



Die ministerie van myne en energie sal vanjaar met N$264 miljoen kan voortgaan om die veilige, verantwoordelike en volhoubare benutting van die land se geologiese, minerale- en energiebronne te verseker.

'n Fraksie meer as dit is vir 2018-'19 vir dié ministerie begroot, en in haar voorlegging aan die parlement vandeesweek het adjunkminister Kornelia Shilunga gesê dít is voldoende.

Shilunga het gesê die ministerie beplan om meer as N$170 miljoen van die begroting aan werksaam­hede te bestee, en sowat 68% daarvan is aan vergoeding en salarisse toegeken.

Vir dié finansiële jaar sal die ministerie sowat N$94 miljoen aan sy ontwikkelingsbegroting bestee.

Dié bedrag sluit onder meer geld in vir kleinskaal myners naby Khorixas en Noordoewer (N$1,4 miljoen), N$21 miljoen vir die opgradering van die nasionale seismologiese netwerk, die geologiese interpretasie van die Kavango-Oos-, Kavango-Wes- en Zambezistreek, asook opnames van geologiese inligting in die Kunenestreek, wat tans in groot aanvraag is.

In terme van elektrisiteit sal die ministerie N$50 miljoen aan plattelandse voorsiening bestee.

Sowat N$6,4 miljoen sal by die hoofkantoor in Windhoek aangewend word om die gebou se ou bedrading te vervang.

Die perseel sal ook 'n nuwe direktoraat van energiefondse huisves, wat verantwoordelik sal wees vir die nasio­nale kragfonds en die sonkrag- wentelfonds.

Volgens die adjunkminister sal die nuwe direktoraat N$3,2 miljoen ontvang, meestal vir die aanstel van mannekrag.

Om die soektog na ­brandstofbronne aan te moedig, sal die ministerie vanjaar meer as N$12,2 miljoen aan navorsing bestee. Dit sal 'n landswye opname van verkopers se ­winsgrense insluit.



NUWE DIESEL

Diesel 500 dpm sal uitgeskakel word en vervang word met skoner en meer omgewingsvriendelike diesel van 10 dpm, het Shilunga gesê.

Die voltooiing van die nasionale oliestoorfasiliteit op Walvisbaai sal die veilige voorsiening van brandstof in die land merkwaardig ver­beter, het sy gesê.

Die fasiliteit is tans sowat 95% voltooi en sal na verwagting teen Junie vanjaar klaar wees, teen 'n koste van N$5,6 miljard.

Boonop sal die ontwikkeling werksgeleenthede en 'n aansienlike inkomste vir die regering skep, het sy gesê.

Volgens Shilunga is die veiligheid van elektrisiteitsverskaffing net so belangrik. Sy sê met die besluit om die Kudu-gasprojek te verklein, is 'n tree nader aan Namibië se langtermynoplossing op hierdie gebied geneem.

Die gas-tot-krag aanleg sal nou gebou word om 442 MW op te wek, volgens 'n gasvoorsieningsooreenkoms van 25 jaar.

“Laer gasopname oor 'n langer tydperk sal die Kudu-kragstasie beter met NamPower se opwekkingsvereistes en finansiële vermoë laat strook,” sê sy.

Dié projek behels 'n ­vennootskap tussen Singapoer se BW Offshore (56%) en die regering se Namcor (44%).

Intussen het die ministerie goedkeuring gegee vir die bou van 'n 37 MW-sonkragplaas naby Mariental, wat reeds afgeskop het.

Na verwagting sal dit teen die middel van vanjaar krag na die nasionale netwerk laat vloei.

Mariental huisves ook 'n 10 MW-sonkragaanleg, wat tesame met 'n soortgelyke 10 MW-aanleg buite Keetmanshoop teen Augustus vanjaar tot die nasionale kragnetwerk sal bydra.

Boonop het die hernubare energie invoertariefprogram (Refit) reeds 45 MW meer krag vir die plaaslike netwerk beskikbaar gemaak, met nog 25 MW wat binne die volgende vier maande verwag word.

Volgens die adjunkminister het mynbou in Namibië in 2017-'18 sowat N$23 miljard uit uitvoere ingesam.

Altesaam N$28 miljoen is danksy eksplorasie en die soektog na olie verdien.

Nog N$2,3 miljoen is aan die regering oorbetaal vir mineraallisensies, terwyl tantieme ook N$1,3 miljard vir die staatskoffers ingevorder het.

Groot ontwikkelings in dié tydperk sluit in Swakop se Husab-uraanmyn se eerste produksie in Desember 2017.

Die myn sal na verwagting voor die einde van die jaar sy volle produksiekapasiteit bereik, wat dit een van die grootste myne van sy soort ter wêreld sal maak.

B2Gold se Otjikoto-myn het 5 436 kg goud geproduseer - meer as die 4 845 kg wat in die vorige jaar ontgin is. Tschudi se koperproduksie was 15 466 ton vir die jaar, terwyl die Okanjande-grafietmyn naby Otjiwarongo verlede jaar begin het om 20 000 ton per jaar te lewer.

Namibië het laas jaar ook 1,8 miljoen karaat se diamante ­opgelewer, waarvan 54% plaaslik gesny en verwerk is.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 18km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 18km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 24km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!