Mynbou 'n bedreiging vir prehistoriese kuns

'Permanente verlies'

24 March 2020 | Sakenuus
Jana-Mari Smith - Die vernietiging van prehistoriese Namibiese rotskuns deur graniet-mynbou in die Erongostreek, en maniere om verdere skade te voorkom, is boaan die agenda van 'n vergadering van rolspelers wat vandeesmaand plaasvind.

'n Inspeksie sal bespreek word, wat in Februarie naby myne by die Otjoho­rongo-granietheuwels en Farm Gross Okandjou gedoen is.

Die gebied is besoek ná lede van die Omatjete-gemeenskap in Januarie hul kommer oor mynbedrywighede in die gebied uitgespreek het, wat vir sy antieke rotskuns bekend is.

Luidens berigte het Farm Gross Okandjou se eienaar in September verlede jaar 'n saak van die onwettige betreding en vernietiging van eiendom teen 'n Chinees-Namibiese granietmynboumaat­skappy aanhangig gemaak.

Hy beweer die maatskappy het granietuitsettings op sy plaas, wat waardevolle San-kuns bevat het, sonder toestemming vernietig.

Volgens argeoloë se skattings kan van die San-rotstekeninge in Namibië, wat op plekke soos die Otjohorongo-granietheuwels voorkom, ongeveer 5 000 jaar oud wees, terwyl ander tot 30 000 jaar oud kan wees.

Die aanvanklike bevindinge van die verslag dui aan minstens 30 argeologiese gebiede waar meer as 500 rotstekeninge aangetref word, is “binne die voetspoor van beide mynlisensies en -eise geleë”.

Die verslag moet vandees­maand deur die regering en ander belanghebbendes bespreek word.Volgens die verslag is dié gebiede direk deur mynbedrywighede beïnvloed.

Van die ­argeologiese erfenishulpbronne is volgens die verslag reeds vernietig, en die skade is glo onherstelbaar en het tot “permanente verlies gely”.

Die bedrywighede het die estetiese en visuele integriteit van die granietheuwel op Farm Gross Okandjou glo vernietig en ontwrig.

Die verslag lê klem daarop dat die Otjohorongo-granietheuwel 'n merkwaardige argeologiese erfenisgebied is wat weens mynbedrywighede skade kan ly.

“Daar is 'n hoë waarskyn­likheid van die direkte versteuring van die gebiede indien geen regstellende stappe gedoen word nie,” sê die verslag.

Die impak sal “groot en permanent” wees.

In die geheel dui die bevindinge op direkte mensgemaakte skade aan die landskap en rotskunsgebiede, wat veroorsaak word deur ­grootskaalse mynbedrywighede, asook die versteuring van die ekostelsel en geologie van die gebied.

REAKSIE

Die ministerie van myn­wese en energie het voorver­lede week bevestig sleutelrolspelers sal vandeesmaand gevra word om te vergader om die bevindinge te bespreek en oor die pad vorentoe te besluit.

Dié belanghebbendes sluit in mynboumaat­skappye, die ­gemeenskap en verskeie regerings­kantore soos die nasio­nale erfenisraad.

Die woordvoerder van die ministerie, mnr. Andras Simon, het voorverlede week gesê die saak is “baie ernstig” en “moet nie nét deur die ministerie van myne en energie aangespreek word nie”.

Me. Beverley van Wyk, woordvoerder van die erfenisraad, het klem gelê op die belang van 'n “gekoördineerde benadering tot mynbou om ­sodoende die skade wat dié bedrywighede tans aanrig, in die toekoms te voorkom”.

Mnr. Lukas Sasamba van Dreamland Investments, wat die Ekungungu-steengroef bedryf, het gesê alle mynbedrywighede vind ver van die ­rotstekeninge af plaas.

Hy is bewus van die vergadering waartydens die bevindinge van die verslag bespreek gaan word, en het gesê hy is gretig vir gesprekke om aan die gang te kom.

Sasamba sê sy maatskappy het, soos die wet vereis, 'n omgewingsimpak­evaluering gedoen.

Die omgewingsministerie het die groen lig gegee voor die bedrywighede voortgesit is.

“Die EIA-verslag het aangedui daar is wel rotstekeninge in die area, maar ver van ons af,” sê hy.

Hy sê indien die inspeksie wel prehistoriese kuns in die betrokke gebiede gevind het, sou hy gewillig wees om die saak verder te bespreek.

Dreamland Investments het onlangs 'n nuus­verklaring uitgereik ­waarvolgens 30 werknemers by hul graniet- en mar­mer-operasies in die Erongostreek afgelê gaan word, en produksie tot stilstand gekom het weens die skerp afname in aanvraag weens die ­Covid-19-pandemie.

Die kennisgewing het aangedui Ekungungu en 'n ander steengroef, Ewe mining, word hierdeur geraak.

NEEM AKSIE

Bekommerde omgewingskundiges sê daar is 'n dringende behoefte aan 'n strategiese evaluering van die steenmynsektor, wat graniet en marmer insluit.

Dít is om vas te stel of die waarde wat dié sektor vir Namibië inhou die hoë kostes van die skade aan die omgewing en erfenisgebiede oorskry.

'n Argeoloog, wat ano­niem wou bly, sê die beskadiging van rotskuns­gebiede deur mynbedrywighede en ­vandalisme is nie 'n nuwe probleem nie, maar te min is oor die jare gedoen om die probleem ernstig aan te spreek.

Volgens hom is daar wel wette en regulasies om die bewaring van argeolo­giese erfenis­gebiede te ver­seker, maar die implemen­tering daarvan is dikwels nie effektief nie.

“Ons kan nie net die steenmynsektor die skuld gee nie. Waar is die owerhede en mense wat moet seker maak dié gebiede word beskerm?”

Volgens die argeoloog word die Otjohorongo-granietheuwels beskou as die bron van die land se belangrikste rotskuns, en terwyl nuwe ontdekkings deurentyd gemaak word, kan mynbedrywighede onbepaalde verliese veroorsaak. “Dit is kommerwekkend. Jy kan nie die skade herstel nie. Jy kan dit nie regmaak nie.”

Hy het bygevoeg die vernietiging van hierdie gebiede is nie net 'n verlies van die land se ­kulturele erfenis nie, maar lei ook tot 'n verlies aan inkomste­moontlikhede vir die gemeenskap en die toerisme­bedryf.

[email protected]

Soortgelyk

 

Diamantsmokkelaars trap in polisie-strik

5 ure gelede | Misdaad

Jeanette Diergaardt – Die drie mans wat gister met ses ongeslypte diamante in hul besit in Windhoek betrap is, is op N$2 000 se borgtog...

45-jarige man is Namibië se eerste Covid-10-sterfgeval

9 ure gelede | Gesondheid

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste dr. Kalumbi Shangula sê 'n 45 jarige man is die land se eerste Covid-19-sterfgeval. Volgens Shangula het hy...

Reën op Lüderitz

12 ure gelede | Omgewing

Elvira Hattingh – Dit reën katte en honde en is baie koud op Lüderitz, het Republikein se joernalis Tanja Bause vanoggend uit die Suide...

Reën op Lüderitz

12 ure gelede | Omgewing

Elvira Hattingh – Dit reën katte en honde en is baie koud op Lüderitz, het Republikein se joernalis Tanja Bause vanoggend uit die Suide...

Aardbewing skud Karibib-omgewing

22 ure gelede | Omgewing

Elvira Hattingh - ’n Aardbewing, wat sowat 3,9 op die Richterskaal gemeet het, het gister omstreeks 01:46 sowat 85 km suid van Karibib voorgekom....

Beweerde aanrander vry op borg

22 ure gelede | Howe

Jeanette Diergaardt – Mnr. Samuel Shikale, wat na bewering ’n vroulike winkelassistent Sondag by Pick n Pay Mega Centre in Klein Kuppe aangerand het, is...

Britte bring grendeltyd op Kalahari-duin deur

22 ure gelede | Gemeenskap

Ronelle Rademeyer – As dit nie vir die Covid-19-pandemie en die wêreldwye inperkingsmaatreëls was nie, sou ’n Britse egpaar nou al halfpad deur Afrika op...

Air Namibia kan vlieg ná nagtelike interdik

22 ure gelede | Vervoer

Ronelle Rademeyer – Air Namibia kon Woensdagnag daarin slaag om in die hoërhof in Windhoek ’n tussentydse hofbevel te kry wat die Vervoerkommissie van Namibië...

Okahandja se water lol weer

22 ure gelede | Regering

Denver Kisting – Die uitvoerende hoof van die Okahandja-munisipaliteit, me. Martha Mutilifa, het die afgelope week erken die tuindorp gaan opnuut gebuk onder waterprobleme.Dít kom...