Musieklegende se ryk oes
Musieklegende se ryk oes

Musieklegende se ryk oes

Lloyd Zandberg
Met musiekstyle en –tendense wat voortdurend verander, vat dit ’n merkwaardige musikant om vir byna vyf dekades te oorleef.

Die Afrikaanse musieklegende Jannie du Toit is een van daardie kunstenaars wat die toets van tyd kon deurstaan.

Hy het homself die afgelope paar jaar daarop toegespits om musiek van sy gunstelingmusikante, soos Jacques Brel, Jules de Corte, Koos du Plessis en Lucas Maree te sing, maar het besluit dit is weer tyd om op sy eerste liefde en passie te fokus – naamlik om Afrikaanse liedjies te skryf en verhoog toe te bring.

Die gevolg hiervan is ’n splinternuwe album genaamd Oesjaar.

Die eerste enkelsnit van dié nuwe album, ’n aangrypende liefdesballade, “Jy Kyk Sag”, is vir sy vrou geskryf.

Hy en Therina Wentzel is in Junie vanjaar getroud.

“Ek het die liedjie vir haar geskryf en moet erken dit is my persoonlike gunsteling,” verklap hy.

“Buiten die feit dat dit ’n mooi liefdesliedjie is, het dit ook ’n lekker 60’s folk-aanslag, wat dit vandag anders maak as die deursnee.”

Vriende en aanhangers wat dit al gehoor het, stem saam dit is dalk mooier as Jannie se grootste treffer, “’n Liedjie vir Jou”.

Die nuwe album word in November vanjaar vrygestel. “Oesjaar is ’n hoogtepunt en viering van 48 jaar as Afrikaanse kunstenaar, maar dit bevat slegs materiaal wat hierdie jaar geskryf is. Dit gaan oor wat ek glo, goed waarvoor ek hoop en oor die mense, plekke en dinge wat ’n verskil in my lewe gemaak het en steeds maak. Ek is vol vertroue die eindresultaat sal nie teleurstel nie,” sê hy.

Die nuutste vrystelling spreek ’n wye verskeidenheid temas aan. Daar is ’n huldeblyk aan die oorlede klavierlegende Christa Steyn, wat vir 25 jaar Jannie se goeie vriendin, begeleier, medekomponis, musiekverwerker op sy albums en musiekvennoot op wêreldwye reise was.

Die titel van die liedjie is die woorde wat Christa self – in haar laaste hartroerende televisieonderhoud – vir Coenie de Villiers gesê het: “Sy Genade is Genoeg”.

“Koffiekafeetjie” is ’n nostalgiese onthouliedjie oor ’n koffiewinkel in Melville wat gereeld in die 1990’s deur kunstenaars besoek is, maar ook oor Badia Isaacs, die dame wat die hart en siel van die plekkie was.

“Vat die Pad” gaan oor musiekreise saam met Christa, maar ook saam met sy huidige musiekkollegas oor meer onlangse ervarings.

Dan is daar “Ons Soek ’n Tata”, opgedra aan Madiba en op die titelsnit, “Oesjaar”, gebruik Jannie ’n wingerd as beeld van sy musiekloopbaan.

“Hierdie wingerd is my gawe, my pasella reg van Bo. Hierdie wingerd daag my uit om hard te werk en vas te glo. Hierdie wingerd is my hawe, sorg vir brood en sorg vir hoop. Stuur my weg op ver ver paaie, vir die hart om op te loop. . .”

Oesjaar bevat ook ’n paar bonussnitte – van vroeëre liedjies uit sy wingerd, waaronder Karen Zoid se opwindende rockverwerking van “Liedjie vir Jou”.

Dié liedjie is presies 40 jaar gelede deur Jannie geskryf en dit het vanjaar opslae gemaak nadat Karen en Jannie dit opgeneem het vir haar program, Republiek van Zoid Afrika.

Binne ’n uur ná die uitsending het dié opname boaan iTunes se trefferparade gepronk.

Oesjaar, wat deur die briljante Clinton Zerf verwerk is, sal bekend gestel word tydens twee spesiale vertonings by Mothership Studios in Philadelphia in die Wes-Kaap en by die Atterbury-teater in Pretoria op onderskeidelik 11 en 13 November. Die album sal, via Vonk Musiek, op iTunes, asook by uitgesoekte musiekwinkels beskikbaar wees.

Jannie se sololoopbaan het byna ’n leeftyd gelede afgeskop nadat hy sy studies in regte en taal voltooi het. Gedurende sy studentejare in die 1970’s het hy in ’n pop- en rockgroep gespeel en was ook lid van die Afrikaanse folk-groep Trilogie, wat reeds op die toetsuitsendings van SATV in 1975 verskyn het.

Hy het in 1979 bekendheid verwerf as sanger en liedjieskrywer en het sy eerste solo-album, ’n Liedjie Vir Jou, in 1981 uitgereik. In die tagtigerjare skryf hy musiekblyspele vir Tukkies en in die 90’s bevorder sy JNS Musiek-maatskappy minder kommersiële Suid-Afrikaans musiek. Hy het in 2008 ’n erepenning ontvang van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, asook – onder meer – in 2012 van die Innibos Kunstefees vir sy bydrae tot die Afrikaanse Skryfkuns.

Deur die loop van sy dinamiese loopbaan het hy verskeie albums vrygestel, waaronder Drie-Uur in die Môre (1987), Palet (1990), De Kleine Man (1994), Volgende Winter (1996), Geloof Hoop en Liefde (1998), Leeuspruit (2002), Diepverlange (2007), Onderweg (2011), Ligjare (2013), Doep is nie Dood nie en Grenzeloos Nederlands (2014) en Die eggo van jou Oë (2015). Twee verdere CD’s is in 2016 uitgereik, naamlik sy Brel-album in vier tale en Kiekies – Lucas se Liedjies saam met Thean Kotzé.

Sy mees onlangse projek, voor hy die uitdaging aangepak het om Oesjaar te skep, was ’n maand lange konsertreeks in België en Nederland in 2017.

Intussen gaan sy programme soos Doep is nie Dood nie, Bonjour Monsieur Brel, Kiekies – Lucas se Liedjies en Die eggo van jou Oë voort. In November word sy jaarlikse produksie, In Kersfeestyd, ook weer aangebied.

Om Oesjaar verder bekend te stel, onderneem hy ’n uitgebreide toer deur die Kaap in Desember. Hy sal begelei word deur sy top-ensemble: Susan Mouton (op tjello), Chanie Jonker (op klavier/trekklavier) en Theuns Botha (op perkussie).

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 18km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 18km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 24km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!