Munisipaliteit verdedig tender
Munisipaliteit verdedig tender

Munisipaliteit verdedig tender

Inwoners van Keetmanshoop vrees dat hul munisipale dienste opgeskort gaan word indien hulle nie hul uitstaande skuld kan vereffen nie.
Catherine Sasman
Catherine Sasman - Die munisipaliteit van Keetmans­hoop sê daar is niks vreemd aan sy toekenning van 'n tender aan Red Force-skuldbestuur vir die invordering van munisipale skuld nie.

Maar inwoners sê 'n buitestander het die tender gekry terwyl plaaslike inwoners sonder werk sit.

Die tender het op 30 Desember verlede jaar gesluit in 'n tyd waarna die tenderbulletin verwys het as “'n tyd waarin die hele land tot stilstand kom”.

Red Force behoort aan die Namibiër George Itembu, uitvoerende interne ouditeur van die Padfondsadministrasie (RFA).

Die maatskappy is ook deur Agribank gewerf om skuld van N$500 miljoen in te vorder.

Vrae word gevra oor Red Force se uitvoerende hoof, die 27-jarige Zimbabwiër Julius Nyamazana, wat in Januarie 2014 in 'n hof in Bulawayo op klagte verskyn het dat hy Edgars Zimbabwe met meer as US$30 000 (sowat N$450 000) bedrieg het.

Die tender van twee jaar is in April aan Red Force toegeken en die maat­skappy moes in Mei begin om meer as N$60 miljoen in te vorder.

Volgens die kontrak tussen die twee partye betaal die munisipaliteit kommissie van 3% aan Red Force op alle skuld wat hy ingevorder het.

Die kliënt betaal 8%, wat beteken Red Force sal 11% ontvang vir alle geld wat ingesamel word.

Die munisipaliteit sê die res van die verhaalde geld sal vir die onderhoud van paaie, die diens van erwe en die opgradering van infrastruktuur gebruik word om met 'n groeiende bevolking tred te hou.

Inwoners wat verkies het om naamloos te bly, wil weet waarom die munisipaliteit nie sy eie afdeling vir skuldbeheer gebruik om die skuld in te vorder nie, of die dorp se werklose jeugdiges gebruik om die raad hiermee te help nie.

Die munisipaliteit se woordvoerder, me. Dawn Kruger, sê die raad is verplig om van die tenderproses gebruik te maak vir enige projek wat N$100 000 oorskry. Volgens Kruger is slegs tenderaansoeke van buite die dorp ontvang, waaruit die beste tenderaar gekies is.

Kruger het voorts gesê die munisipaliteit het nie 'n departement vir die insameling van skuld nie en het skuld nog altyd op 'n ad hoc-basis ingevorder.

“Dit het egter nie die gewenste resultate gehad nie - vandaar die besluit om van 'n tender gebruik te maak.

“Die doel was om 'n professionele maatskappy met die nodige vaardighede en hulpbronne te vind om die uitstaande skuld in te vorder,” het Kruger gesê.

Volgens haar kan werklose jeugdiges met die vereiste kwalifikasie steeds vir poste by Red Force se kantoor in die dorp aansoek doen.

Inwoners het kommer uitgespreek oor die moontlike opskorting van munisipale dienste sou hulle nie hul uitstaande skuld kan vereffen nie.

Met die aankondiging van die toekenning van die tender in April het Nyamazana verwys na “drastiese stappe” soos die opskorting van dienste, en regsaksie “waar nodig” as inwoners en ander instellings nie hul skuld betaal nie.

Die munisipaliteit het egter beklemtoon Red Force sal eers 'n deeglike ontleding doen en voorstelle aan die raad voorlê vir die pad vorentoe. Dit sal ook alle ander moontlike opsies oorweeg voordat drastiese stappe gedoen word, is belowe.

Inwoners beweer sommige van die uitstaande skuld is “kunsmatig” omdat die departement van finansies nie die skuld afgeskryf het van mense wat gesterf het nie. Dít terwyl die rente ophoop.

Kruger sê skuld op enige eiendom is deel van 'n boedel en moet deur die erfgename en begunstigdes van die boedel betaal word. “In die meeste gevalle het die bedrae eers ná die oorledene se dood toegeneem. Die N$60 miljoen is dus op aktiewe rekeninge­ verskuldig en rente word soos by normale sakepraktyk gehef.”

Die munisipaliteit sê voorts voorafbetaalde meters en toilette in die informele nedersetting word deur vandale vernietig sodra dit herstel is.

Volgens Kruger werk die munisipaliteit nou aan 'n langtermyn- strategiese plan om weg te doen met informele nedersettings of om inwoners permanent van grond te verwyder wat nie gediens is nie.

Die raad het onlangs uitbreiding 1 van Tseiblaagte gediens waar in­woners nou erwe huur en aangemoedig word om vir verbruikersrekeninge­ aansoek te doen.

Tydelike werkers word vir on­geskoolde arbeid gebruik om die probleem van werkloosheid te takel en ook om aan dié werkers die geleentheid te bied om hul vaardighede te verbeter.

Groter projekte word “sover moont­lik” aan gekwalifiseerde plaaslike kontrakteurs gegee.

Kommentaar

Republikein 2024-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

SerieA: Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Southampton 3 vs 0 Preston North End English Championship: Southampton 3 vs 0 Preston North End Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 26km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:25, High tide: 13:40, Low Tide: 19:24, High tide: 01:48 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:38, Low Tide: 19:22, High tide: 01:46 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 36km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:37, Low Tide: 19:22, High tide: 01:45 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!