Mujongo ontmoedig die terugkeer van Caprivi-vlugtelinge
Mujongo ontmoedig die terugkeer van Caprivi-vlugtelinge

Mujongo ontmoedig die terugkeer van Caprivi-vlugtelinge

Die uitgeweke leier sê vlugtelinge streef steeds na vryheid vir die streek en dat die Namibiese regering hulle moet "ophou pla”.
Catherine Sasman
Catherine Sasman – Die president van die United Democratic Party (UDP) en leier van die Caprivi-afstigterspoging, mnr. Mushake Mujongo, sê Caprivi-vlugtelinge in Botswana wat na Namibië terugkeer, waag hul lewens aangesien die regering nooit sy greep op die mense van die Zambezistreek sal laat vaar nie.

Die minister van binnelandse sake en immigrasie, me. Pendukeni Iivula-Ithana, het tydens die motivering van haar begroting gesê haar ministerie en ander belanghebbendes het groot vooruitgang gemaak met die terugkeer van die 903 vlugtelinge in die Dukwi-vlugtelingkamp in Botswana.

Dit het gevolg ná onderhandelinge tydens die 18de driesydige kommissie-vergadering wat in Augustus verlede jaar op Katima Mulilo plaasgevind het. Daar is die uitkoms van die Botswana-hoërhofinterdik bespreek wat die implementering van die invokasie-staakklousule verbied het wat op 31 Desember 2015 in werking sou tree.

Volgens die klousule sou Botswana teen die einde van 2015 geen Namibiese vlugteling meer toelaat om daar te bly nie. Voorts sou ’n persoon se vlugtelingstatus wat wettig toegestaan is tot ’n einde kom, maar diegene wat weens politieke oortredings amnestie bekom het, sou nog ná Desember 2015 toegelaat word om te bly.

Iithana-Ivula het gesê daar is by die vergadering gesê die klaringsprosedures was steeds omslagtig en dat die Namibiese regering die prosedures moes hersien.

Sy het gesê die vlugtelinge kon egter sedertdien “met waardigheid en in veiligheid” na Namibië terugkeer en dat die regering “vasberade is om hulle veilige en waardige terugkeer asook herintegrasie in hul onderskeie gemeenskappe” te verseker.

Volgens Iivula-Ithana sou die vlugtelinge gehelp word om reisdokumente te bekom terwyl ’n ontvangsentrum in die Zambezistreek gevestig sou word om te help met hulle terugkeer. Meer as N$10 miljoen is vir dié doel begroot.

Mujongo, wat in Denemarke in ballingskap is, het egter in ’n nuusvrystelling volgehou die vlugtelinge eis steeds die Caprivi se afstigting van Namibië en dat Namibiërs in die Zambezistreek slegs die hulpbronne daar “verwoes, uitbuit en plunder”.

“Die Namibiese regering moet weet dat alle Capriviane wat in ballingskap is, lede van die UDP is en vasbeslote is om hul land, die Caprivi-strook, te bevry van Namibië se onwettige okkupasie,” het Mujongo gesê.

Hy het gesê die Namibiese regering moet “ophou” om Capriviane in Botswana te “pla” of belastingbetalers se hulpbronne te mors.

Mujongo se groep hou vol die Namibiese regering het op onwettige wyse die gebied wat voorheen as die Caprivi-strook bekend gestaan het, geannekseer deur die inwerkingtreding van kennisgewing nr. 117 oor die toepassing van wette oor die Oos-Caprivi Zipfel van Junie 1999 – skaars ’n paar maande voor die afstigtingspoging.

Volgens dié wet sou alle Namibiese wette voortaan van toepassing wees op die Caprivi-strook. Voorheen was sekere wette spesifiek in die voormalige Suidwes-Afrika en gevolglik Namibië van toepassing, maar nie op die Caprivi-strook nie.

Die UDP hou vol die uitvaardiging van die toepassing van wette is verorden sonder die toestemming van die mense van die Caprivi.

Mujongo het in sy nuusvrystelling gesê Iivula-Ithana het tydens vergaderings met die Dukwi-vlugtelinge in April 2014 en Mei 2015 nie antwoorde gegee op herhaalde vrae oor die inwerkingtreding van die 1999-wet nie.

Hy het gesê die Namibiese regering het op onwettige wyse talle Capriviane vir beweerde hoogverraad in aanhouding gehou en dat 20 van dié gevangenes onder verdagte omstandighede dood is.

Mujongo het gesê van diegene wat van hoogverraad aangekla is, wou bloot die juk van 'n onwettige besetting afwerp terwyl ander bloot simpatiseerders was wat na ’n onafhanklike Caprivi streef.

Hy het voorts die Botswana-regering daarvan beskuldig dat hulle vertroulike inligting oor individuele vlugtelinge met die Namibiese regering deel, wat volgens hom ’n oortreding van internasionale beskerming van politieke vlugtelinge is.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!