MTC haal uit en wys in die uur van nood

01 July 2020 | Sport
Tielman van Lill – MTC Namibië het gister 'n ontsaglike borgskap aan ses sportkodes, aan die nasionale jeugspele asook 'n musiekfees en modeweek aangekondig.

'n Totale bedrag van N$67.8 miljoen sal oor die volgende drie jaar aan sewe sportkodes uitbetaal word. Soos in die verlede word sokker weereens met 18.8 miljoen dollar bederf.

Aan die Namibië Rugby-unie (NRU) word N$2.7 miljoen oor drie jaar versprei, as 'n belegging in die herlewing van sy Get Into Rugby ontwikkelingsprogram vir beginners, wat tevore by skole landwyd aangebied is voordat dit die afgelope tyd grootliks doodgeloop het.

Die NRU se president, mnr. Corrie Mensah, sê onderwysers vorm die meerderheid van diegene wat sover reeds in die aanbieding van die program vir tjokkers en laerskole opgelei is.

“Hierdie borgskap is 'n groot hupstoot om aan 'n meer aggressiewe program te beplan om die uithoeke van die land te bereik.

“Ons groot uitdaging bly infrastruktuur. Die afwesigheid van speelvelde op klein, afgeleë plekke plaas sulke kinders op die agtervoet, maar met goeie samewerking kan ons nou reëlings met rolspelers tref om kinders van dié omgewings vir sulke geleenthede byeen te bring.”

Boks, met N$18 miljoen, ontvang die tweede grootste borgskap waarvan N$2.75 miljoen per jaar elk vir die beursies van die MTC Nestor Sunshine Tobias- en MTC Salute-boksakademies bestem is.

MTC het reeds 'n bestaande borg­skapkontrak met dié twee klubs, wat voortaan elk op 'n verhoging van 'n ronde miljoen per jaar kan reken.

Die noorde se MTC Kilimandjaro-boksklub kry N$500 000 per jaar, nadat hulle tot dusver jaarliks N$400 000 ontvang het.

Vir sokker is daar vir die aanbieding van die NFA-beker N$4.5 miljoen – uiters welkome nuus vir die nasionale uitklopreeks wat die afgelope jare sonder 'n amptelike borgskap was. Vir die Hage Geingob-beker is N$1.6 miljoen en die Hopsol-jeugliga N$500 000 per jaar bewillig.

Netbal, wat 'n tyd gelede as een van Namibië se topdrie prioriteit­sportkodes verklaar is, kan vir 'n slag doen met N$1.4 miljoen per seisoen wat vir die premierliga bestem is, terwyl die Namibië Hokkie-unie sy goeie werk met N$1 miljoen per jaar vir sy nasionale mans- en vrouespanne se aanslag op internasionale kompetisie kan voortsit.

Die Namibiese Perderesiesvereniging sal breed glimlag met sy borg­skap van N$500 000 per jaar, terwyl die 1.8 miljoen per jaar vir die Namibiese Jeugspele tot voordeel van 14 sportkodes is.

'n Musiekfees (N$3.2 miljoen per jaar) en 'n modeweek (N$1.2 miljoen per jaar) glimlag van oor tot oor met hul meevallertjies vir prettige kaperjolle.

Mnr. Tim Ekandjo, MTC se hoof van menslike kapitaal en korporatiewe sake, sê MTC het daarin geslaag om eksklusiewe benamingsregte met al die sportsoorte en ander entiteite vas te knoop.

Volgens Ekandjo is elke beslissing weldeurdag op die hoogste vlak van MTC se bestuur bereik. Elke sportkode se sleutelfaktore soos openbare aansien, potensiaal vir dividende op belegging in sy handelsmerk, gewildheid, administratiewe struktuur, toeskouerbywoning, mediabelangstelling, nasionale belang en diversiteit is in ag geneem.

“MTC stel nie belang om goedsmoeds beurte vir aalmoese uit te deel nie. Ons verwag 'n opbrengs van elke belegging en kan dit opskort indien teikens nie bereik word nie. Ons sal eerstehands met kodes saamwerk en die driejaartydperk behoort kodes 'n sin van gemoedsrus te verskaf.”

Die borgskappe tree amptelik op 1 Oktober vanjaar in werking.



Die opsomming van die bedrae:

Boks: MTC Nestor Sunshine Tobias- en Salute-boksakademie elk N$2 750 000 per jaar (N$8 250 000); Kilimanjaro-boksklub N$500 000 per jaar (N$1 500 000).

Sokker: MTC NFA-beker N$4 500 000 per jaar (N$13 500 000). MTC Dr. Hage Geingob-beker N$1 600 000 per jaar (N$4 800 000). MTC Hopsol-jeugliga N$500 000 per jaar (N$1 500 000).

Netbal: MTC Netbal-premierliga N$1 400 000 per jaar (N$4 200 000).

Hokkie: MTC Nasionale mans- en vrouespanne N$1 000 000 per jaar (N$3 000 000).

MTC Jeugspele: N$1 800 000 per jaar (N$5 400 000).

Perdewedrenne: MTC Namibië Perdewedrenvereniging N$500 000 per jaar

(N$1 500 000).

MTC Windhoek-modeweek: N$1 200 000 per jaar (N$3 600 000).

Namibië Rugbyunie: MTC Get Into Rugby N$900 000 per jaar (N$2 700 000).

Musiek: 081Every1 Music Fest N$3 200 000 per jaar (N$9 600 000).

Totaal: N$22 600 000 per jaar (N$67 800 000).

Soortgelyk

 

Iran: Kernkragontploffing veroorsaak beduidende skade

4 ure gelede | Internasionaal

’n Kernkragontploffing Donderdag in ’n pakhuis by die Ntanz-aanleg in sentrale Iran het beduidende skade aangerig en kan die produksie van sentrifuges vertraag wat uraan...

Egipte arresteer dokters om kritici stil te maak

4 ure gelede | Internasionaal

Ongeveer tien dokters en ses joernaliste is vanaf Februarie in Egipte in hegtenis geneem omdat hulle die regering van pres. Abdel Fattah el-Sissi kritiseer oor...

Covid-19 knou Media24

6 ure gelede | Afrika

Media24 oorweeg dit om vyf tydskrifte en twee koerante te sluit, sy oorblywende maandelikse tydskrifte uit te kontrakteer en hul frekwensie te verminder, twee koerante...

Kenia heropen grense na 4 maande

7 ure gelede | Afrika

Mnr. Uhuru Kenyatta, die president van Kenia, het Maandag die heropening van dié land se grense “in fases” aangekondig.Internasionale vlugte sal vanaf 1 Augustus...

55 nuwe Covid-19-gevalle bring totaal op 593

8 ure gelede | Gesondheid

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) dr. Kalumbi Shangula sê 55 nuwe gevalle van Covid-19 is die afgelope 24 uur in die land...

Twee vas oor olifanttande

18 ure gelede | Misdaad

Volgens die weeklikse wildmisdaadverslag vanaf 29 Junie tot 6 Julie is twee nuwe wildmisdaadsake aanhangig gemaak en vier verdagtes in hegtenis geneem. Mnre. Alfred...

Kleintjies terug skool toe

18 ure gelede | In beeld

Leerlinge vanaf graad 0 tot 3 het gister weer vir aangesig tot aangesig onderrig teruggekeer met leerlinge en ­onderwysers wat opgewonde was om weer by...

Tuiskwarantyn aan kus ’n opsie

18 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) gaan meer buigsaam wees in die kwarantyn van kontakte van bevestigde Covid-19-gevalle in die...

Psemas: ‘Tender sluit almal behalwe Methealth uit’

18 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht - Dit wil voorkom asof die bepalings van ’n tender om die staat se mediese fonds (Psemas) te bestuur, op so ’n manier...