Moenie regeringsleiers beledig, sê Simataa

Waarskuwing as dreigement beskou

28 January 2019 | Ministeries
Francoise Steynberg - Die ministerie van inligting en kommunikasietegnolgie het Namibiërs gewaarsku om die land se leiers nie te beledig nie, maar sommige Namibiërs beskou dít as ’n dreigement.

"Die ministerie het met groot kommer ’n vlaag neerhalende en beledigende boodskappe (oudio, video en teks), gerig aan die staatshoof, kabinetslede en die hele regering waargeneem, wat tans op sosialemediaplatforms versprei word," het die minister, mnr. Stanley Simataa, Vrydag in ’n mediaverklaring gesê.

"Sulke neerhalende en beledigende taal gerig aan die staatshoof, kabinetslede en die hele regering is nie net teenstrydig met die Grondwet nie, maar ook teen ons kulturele waardes en norme as mense en as Afrikane."

Hy sê in ’n demokratiese staat soos Namibië is dit die norm vir burgers om hul menings te lug of die regering of leiers oor kwessies te kritiseer, maar op ’n konstruktiewe manier met taalgebruik wat die statuur pas van dié wat gekritiseer word.

"Die regering sal egter nie skroom om gebruik te maak van die bepalings van die wet nie," het hy gemaan.

Dié verklaring het sosialemediagebruikers weer laat gons en gemoedere het hoog geloop.

Sommige Namibiërs beskou dit as ’n dreigement en meen as leiers respek wil hê, moet hulle dit verdien.

"Beledigings word gemaak as kiesers vir hul politici vies is. Gekruide taal word gebruik (reg of verkeerd) as die kiesers reeds by die punt van keelvolheid kom. Miskien moet die ministers eers ’n bietjie mensekennis gaan opdoen voordat hulle in ’n parlement toegelaat word. Terloops, Simataa het nie vermaan nie . . . hy dreig (wat ’n teken van ’n desperate leier is) . . . so wie hou nou by die ‘demokratiese’ grondwet, en wie nie?" vra ’n leser op Republikein se Facebook-blad oor dié kwessie.

’n Ander leser sê die Grondwet beskerm die reg op vryheid van spraak.

“Voor ons weer sien, sit julle die internet af, soos in Zim om ons stemme stil te maak?! Ons mág praat! En kritiek lewer!"

STOP FOPNUUS

Die ministerie het ook bevestig die onlangse boodskap wat op WhatsApp versprei word oor die beweerde instelling van streng beheermaatreëls vir sosialemediagebruik is vals en moenie verder versprei word nie.

Dié boodskap is in die vorm van ’n skermgreep van ’n waarskuwing tydens ’n NBC-uitsending van ’n sogenaamde netwerkmoniteringstelsel wat deur die Namibiese regering ingestel word en deur ’n Italiaanse firma bedryf word.

Die boodskap beweer die regering het nuwe regulasies ingestel, wat mense se selfone en sosialemedia-aktiwiteite sal dophou en opneem.

Die ministerie se waarnemende sekretaris-generaal, me. Tjiuai Kaambo, het verlede week gesê hulle het geen nuwe regulasies in werking nie, en het ook nie ’n stelsel wat met lede van die publiek se selfone verbind is nie.

Kaambo het gesê die ministerie monitor nie burgers se oproepe of sosialemedia-aktiwiteite nie, en het bevestig dié WhatsApp-boodskap is fopnuus.

Die ministerie doen ’n beroep op die publiek om bedag te wees op sulke boodskappe, wat “deur mense geskep word wat vrees wil veroorsaak”.

Kaambo het benadruk die ministerie, wat as die regering se woordvoerder dien, sal verseker inligting word amptelik op alle kommunikasieplatforms aan die publiek oorgedra en vra die publiek om nie verdere fopnuus te versprei nie, omdat dit misleidend is.

Volgens Kaambo moet die publiek nie sosialemediaplatforms aanwend vir politieke aanvalle, diskriminasie, rassisme, seksisme of “enige dade wat Namibië se vrede en stabiliteit kan bedreig nie”.

“Ons het net een gedeelde erfenis, waaroor ons jaloers waak, en dit is Namibië. Kom ons speel nie met ons land se naam en beeld nie. Laat ons land te alle tye ons almal se skat bly,” het hy gesê.

Soortgelyk

 

Windhoek klop waterteikens

13 ure gelede | Plaaslik

Elvira Hattingh - Inwoners van die hoofstad neem waterbesparings uiteindelik ernstig op en het die afgelope week weer 4% bespaar. Volgens me. Lydia Amutenya,...

Kalahariwoestyn keer terug

13 ure gelede | Polisie

Denver Kisting – In ’n poging om soortgelyke tragedies te verhoed soos die een waarin ’n Zimbabwiese taxibestuurder gesterf het, gaan alle beamptes wat aan...

Weer, Woensdag 7 Augustus 2019

13 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en matig in //Kharas, maar warm tot baie warm in die Noorde. Elders sal dit sonnig en warm wees.KUS: Gedeeltelik bewolk en...

Tweejarige sterf in ongeluk

13 ure gelede | Ongelukke

’n Tweejarige meisie, Andrea Pawa Jason, het Saterdagoggend in ’n ongeluk sowat 2 km buite Usakos gesterf.Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag het die ongeluk...

Nudo, UPM voeg stem by antikuberkraakkoor

13 ure gelede | Politiek

Denver KistingDie president van die National Unity Democratic Organisation (Nudo), me. Esther Muinjangue, sê hulle is nie onder die huidige omstandighede beskikbaar vir die kuberkraaktoets...

renosters by Onguma onthoring

13 ure gelede | In beeld

Om stropery te voorkom het die Onguma-wildreservaat naby die Etosha Nasionale Park onlangs al hul renosters ontho­ring. Volgens die reservaatbestuurder, mnr. Jonathan Strijbis, was die...

Jong beesbeoordelaars beïndruk

13 ure gelede | Gebeure

Elvira HattinghBank Windhoek en Feedmaster span tans saam om 'n nasionale beesbeoordelaarskompetisie en -kursus vir Namibiese jongmense aan te bied.Tot dusver het die organiseerders deelnemers...

Elfjarige glo deur oom (48) verkrag

13 ure gelede | Misdaad

’n Meisie (11) is Vrydag omstreeks 14:00 glo deur haar 48-jarige oom in die Etaneno-nedersetting naby Onankali verkrag.Die verdagte is in hegtenis geneem en sou...

An update for the design icon

13 ure gelede |

Familiarly known as Audi’s design icon, the Audi TT’s third generation takes the stage with a facelifted appearance: sporty and refined exterior design, higher-powered engines...