'Moenie in Kavango visvang'

Die ministerie van visserye en mariene hulpbronne het 'n waarskuwing oor miltsiekte aan die gemeenskappe langs die Kavangorivier uitgereik.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Weens die uitbreking van miltsiekte in die Bwabwata Nasionale Park word die publiek gewaarsku om nie in die Kavangorivier vis te vang, eet, hanteer of verskuif nie.

Dié waarskuwing kom van dr. Moses Muaurihungirire, die permanente sekretaris van visserye en mariene hulpbronne, ná miltsiekte verlede week amptelik in die Bwabwata Nasionale Park bevestig is nadat meer as 100 seekoeie en 20 buffels daar gevrek het.

"Die geraakte gebiede sluit die gebied vanaf die Botswana-grens tot by die Quitorivier-aansluiting by Katere in, asook die strook van 139 km langs die Kavangorivier in die Kavango-Oosstreek," het Muaurihungirire in 'n verklaring gesê.

"Die beweging van nette en bote, asook residuwater en -sand wat in die bote agterbly vanaf die geraakte gebied na ander gebiede, mag ook nie plaasvind nie."

Dit laat 'n buffersone van 105 km vanaf die geraakte gebied (suid van die Poppa-valle) tot by Katere toe.

"Miltsiekte is 'n infeksie wat deur die Bacillus anthracis-bakterie veroorsaak word en word versprei deur kontak met die spore van die bakterie," lui die verklaring.

Mnr. Renier Burger, adjunkdirekteur van binnelandse visserye, het gister aan Republikein bevestig geen dooie visse is al in die rivier gesien nie.

"Ons het nog geen geval gekry waar miltsiekte visse laat vrek het nie. Visse, veral dié met wonde, kan net die spore van die bakterie vervoer," het Burger gesê.

"Die grootste probleem is die nette wat in die rivier gebruik word. As die nette en die bote verskuif word, kan die siekte versprei, want die antraksspore kan in die nette vassit."

Burger het gesê mikrobiologiese toetse moet op die water gedoen word om te bepaal hoeveel bakterieë in die water is. Hy het dus gemaan water uit die rivier moet gekook word.

Volgens die permanente sekretaris is die Kamutjonga-instituut vir binnelandse visserye die inligting- en noodreaksiesentrum vir die ministerie.

KARKASSE VERBRAND
Intussen het mnr. Romeo Muyunda, woordvoerder van die ministerie van die omgewing en toerisme, gister bevestig meer as 80 seekoeikarkasse is teen Woensdag reeds verbrand.

"Net Woensdag is altesaam 15 karkasse, wat drie buffelkarkasse insluit, deur die grondspan verwyder," het Muyunda gesê.

Hy sê om die karkasse op die rivier te bereik, is ’n uitdaging.

“’n Boot word gebruik om die karkasse met ’n tou uit te sleep, maar sommige dele van die rivier kan nie met ’n boot bereik word nie,” het hy gesê.

“Dan word die karkasse met viertrekvoertuie tot by ’n sekere punt gesleep waar ’n laaigraaf dit in ’n groot gat gooi waarin dit verbrand en begrawe word," verduidelik Muyunda.

Hy het bevestig vars karkasse is wel gevind, maar die finale mortaliteitsyfer kan eers bepaal word as al die karkasse gevind is.

Dr. Milton Maseke, hoofveeartsenybeampte van die ministerie van landbou, water en bosbou, het gister gesê die mortaliteitsyfer van diere neem af en dit gaan goed met die opruimingsproses.

"Ons gaan binnekort - môre of vroeg volgende week - met die inenting van vee begin," het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!