Mix-nedersetting word ontwikkel
Mix-nedersetting word ontwikkel

Mix-nedersetting word ontwikkel

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht

Vooruitgang word gemaak in pogings om die Mix informele nedersetting buite Windhoek op te gradeer.
Mix huisves huidig 700 huis-houdings. Die munisipaliteit van Windhoek het tydens ’n mediakonferensie gesê dit het in Maart vanjaar ’n behoefte en wenslikheidsaansoek by die Namibië Raadgewende Beplanningsraad (Nampab) vir oorweging ingedien. Die doel van die aansoek is om die ontwikkeling van Mix te motiveer. Volgens die munisipale woordvoer-der, mnr. Joshua Amukugo, sal vyf erwe as deel van die stadsbeplanningsprosedure in ’n enkele plaasgedeelte gekonsolideer word. Dit sal in drie erwe herverdeel word. Mix Proper en Mix Uitbreiding 1 sal op twee erwe ontwikkel word. Die beoogde uitbreidings sal onder meer die volgende grondgebruike hê naamlik woon, besighede, instellings, openbare ruimte, begraafplaas en regering.
Rioolwerke sal voorsien word om te verseker dat alle inwoners voldoende toegang daartoe het. Huidig is watervoorsiening in die vorm van kommunale staanpype, met voorafbetaalde watervoorsiening wat vir die tussentyd beplan word. Mix het huidig geen elektrisiteit nie, met die munisipaliteit wat met NamPower in gesprek gaan tree om kragvoorsiening te verseker.
Omgewingsklaring vir die ontwikkeling van Mix is reeds in Januarie 2014 van die ministerie van die omgewing en toerisme verkry.
Volgens Amukugo kan die bedrag vir die beplande ontwikkelings nog nie bepaal word nie.
"Wanneer die voorgestelde ontwikkeling deur Nampab en die stadsraad goedgekeur is, sal die munisipaliteit gedetailleerde ingenieursontwerpe opstel. Dit is eers in hierdie stadium dat die kostebepaling van die gebied bekend sal wees wat die landmeterskoste sal insluit.”
Met verwysing na elektrisiteitsverskaffing in die hoofstad se informele nedersetting is Otjomuise 6 en 7, die Okuryangava-uitbreidings (Okahandja Park, Ongulumbashe, Babylon, Kilimanjaro) en al die Havana-uitbreidings geoormerk om grootskaalse kragvoorsieningspunte te ontvang. Dit sal teen ’n beraamde koste van N$70 miljoen opgerig word.
Amukugo het intussen mediaberigte ontken dat die munisipaliteit sedert onafhanklikwording net 63 erwe in Katutura gediens het.
"In die eerste 10 tot 15 jaar ná onafhanklikwording is plekke soos Okur-yangava, Havana, Hakahana, Ombili en Wanaheda gevestig en verbeter."
Hy het voorts beklemtoon dat die verkoop van beskikbare woonerwe in Khomasdal Uitbreiding 16, Auasblick, Rocky Crest, Cimbebasia, Dorado Park, Hochland Park, Academia en Kleine Kuppe aan die publiek, sowel as die aanpassing van watertariewe na die bestuurskomitee vir verdere bespreking verwys is.
"Dit is nie bespreek op die stadsraadsvergadering nie en daarom was geen goedkeuring hiervoor gegee nie. Dit is ’n bekende feit dat ’n verbod op grondveilings geplaas is."

Kommentaar

Republikein 2025-07-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer