Ministerie steek stokkie voor mossel-oes

Vyf ton per maand bymekaargemaak

08 August 2019 | Ministeries
Erwin Leuschner



Die minister van visserye en mariene hulpbronne, mnr. Bernard Esau, het gister die oes van witmossels vir kommersiële gebruik verbied.

Hy het dit by navraag in 'n SMS-boodskap aan die media bevestig.

“Die verbod tree onmiddellik in werking tot ons die interne ondersoek na die voorwaardes van die toestemming wat toegestaan is, afgehandel het,” het hy gesê.

Esau het gesê die verbod geld nie vir hengelaars met 'n wettige lisensie nie, en hulle kan witmossels steeds vir eie gebruik oes.

“Ek het van die verbod gehoor, maar is nie amptelik daarvan ingelig nie. Ek het geen idee waar ek staan nie,” het mnr. Jose Fernandez, eienaar van Fermar Seafoods, gister gesê.

Fernandez het vroeër gesê sy onderneming oes sowat vyf ton witmossels per maand wettiglik én volhoubaar.

'n Storm is egter in die sosiale media ontketen nadat 'n groep mans in duikpakke die afgelope Saterdag langs die strand by Paaltjies afgeneem is waar hulle 'n horde witmossels oes.

Beeldmateriaal hiervan het soos 'n veldbrand aanlyn versprei.

Die oes word in sommige oorde as uitbuiting bestempel.

Fernandez het gesê sy onderneming besit 'n wettige permit om te oes.

“My bedryf is heeltemal wettig,” het hy gesê.

Volgens hom het die maatskappy in November 2017 'n sogenoemde eksplorasielisensie van die ministerie van visserye en mariene hulpbronne ontvang.

Daarvolgens mag hy drie soorte mossels oes, het hy gesê.

Geen kwota bestaan nie, derhalwe is geen perk op die hoeveelheid wat ingesamel mag word, aangedui nie.

“Ek moet die ministerie op hoogte hou en hulle kan enige tyd besluit om die permit weg te neem. “Dit is slegs 'n toetsfase,” het hy gesê.

Fernandez, wat ook oesterplase op Lüderitz en Walvisbaai besit, sê daar is 'n groot internasionale mark vir witmossels.

Ses mense, wat die mossels daagliks uitgrawe, is in diens van sy onderneming.

Die mossels word dan na Asië uitgevoer.

Die oes het in Mei vanjaar begin, en Fernandez se spesiale toestemming geld volgens hom tot Mei 2021.

Werkers oes sowat vyf ton per maand en kan tot 5 000 witmossels per uur uithaal.

“Ons hou nie groot, volwasse mossels nie, omdat hulle vir die voortbestaan van die diertjies moet sorg. Die werkers oes klein mossels, waarvoor die ministerie spesiale toestemming gegee het,” het hy gesê.

Volgens Fernandez mag hy mossels enige plek langs die Namibiese kus oes.

Van die drie soorte wat hy mag oes, is die witmossel egter die enigste wat iets werd is.

Die grootste hengelwinkels langs die kus verkoop jaarliks sowat 50 000 witmossels wat as aas gebruik word en van Suid-Afrika af ingevoer word. – [email protected]

Soortgelyk

 

Outjo-aanval: Drie verskyn in hof

6 ure gelede | Misdaad

Drie verdagtes wat in verband met die Gemsbokoord skietvoorval in hegtenis geneem is, het vanoggend om 09:00 hul eerste verskyning in die hof op Outjo...

Regering steun hidroponiese voer

8 ure gelede | Landbou

Die kabinet het Dinsdag aangekondig Namibië sal die grootskaalse kweek van hidroponiese dierevoer aanpak. Mnr. George Simataa, kabinetsekretaris, het aangekondig 7 000 boere – 500...

ECN-besluit 'n ramp'

19 ure gelede | Politiek

Denver Kisting – Die hoofverkiesingsbeampte, mnr. Theo Mujoro, sê die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) word gepenaliseer omdat hy die wet toepas.Dít, sê Mujoro via WhatsApp...

'Namibiërs het vertroue in demokrasie verloor'

19 ure gelede | Politiek

Denver Kisting – Die bekende politiekewetenskapdosent prof. André du Pisani sê mense het vertroue verloor in demokrasie se legitimiteit om voldoende te presteer.Hy het dié...

Nog bietjie slaap, nog bietjie sluimer

19 ure gelede | In beeld

Die ministerie van die omgewing en toerisme het besoekers aan die Etosha Nasionale Park gister om verskoning gevra toe die Andersson-hek laat oopgemaak het. Toerbusse,...

RDP registreer kandidate te midde twis

19 ure gelede | Politiek

Catherine Sasman - Die Rally for Democracy and Progress (RDP) het Vrydag sy presidensiële en Nasionale Vergadering-kandidate vir November se verkiesings by die Verkiesingskommissie van...

Weer vir 17 Oktober

19 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Winderige toestande duur oor die hele land voort. Swaar reën kan oor plekke in die //Kharasstreek voorkom. Inwoners word aangeraai om die nodige voorsorg...

Outjo-aanval: Twee vandag in hof

19 ure gelede | Howe

Elvira Hattingh - Twee verdagtes is in verband met Maandag se Outjo-aanval in hegtenis geneem en sal vandag hul eerste verskyning in die hof op...

Gay-huwelike: Niks verander vir Namibië

19 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die moderatuur van die NG Kerk in Namibië is “diep besorg” oor spanning en ongelukkigheid by lidmate en leraars oor ’n besluit...