Minister: Vakbonde moet saamwerk
Minister: Vakbonde moet saamwerk

Minister: Vakbonde moet saamwerk

Die Namibiese Nasionale Onderwysersunie sê hy is nie teen die heropening van skole nie.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Die ministerie van onderwys, kuns en kultuur het die samewerking en insette van vakbonde oor die heropening van skole nodig.

Volgens die onderwysminister, me. Anna Nghipondoka, moet daar ooreenstemming tussen die ministerie en die betrokke vakbonde wees oor die pad vorentoe en hoe dit hul lede raak.

Nghipondoka het gister by navraag gesê die ministerie is voortdurend in gesprek met die betrokke vakbonde.

“Hulle het die vrees geopper dat hul lede nie ordentlik ingelig is oor onder meer die moontlikheid dat hulle besmet kan word en hoe weerloos hulle (onderwysers) is nie,” het sy gesê.

Volgens haar is nou ooreengekom die vakbonde sal in gesprek met die ministerie van gesondheid en maat­skaplike dienste tree om die ­inligting te bekom en vervolgens aan hul lede oor te dra.

Nghipondoka het erken leerlinge het vanjaar “baie dae” verloor met die jaar wat einde se kant toe staan.

“Die wat Maandag begin het, het nog 45 dae oor, terwyl die laaste groep net 40 dae het.”

In die lig van laasgenoemde sê ­Nghipondoka word met 'n “gerasio­naliseerde leerplan” gewerk wat ­gebaseer is op die bemeestering van basiese vaardighede.

“Dit is om die pad vorentoe te bepaal en te sien wat die vlak van begrip is. Dit gaan ons ook help met ons beplanning vir volgende jaar.”

Met verwysing na eksamens het ­Nghipondoka gesê daar sal eerder op voortgesette evaluering gefokus word.

Die sekretaris-generaal van die Namibiese Nasionale ­Onderwysersunie (Nantu), me. Loide Shaanika, het gister gesê die vakbond is nie teen die heropening van skole nie, maar teen die manier hoe dit gedoen

word.

Shaanika het verwys na oorvol klaskamers sonder genoeg ventilasie wat veroorsaak dat alle leerlinge nie terselftertyd kan terugkeer nie.

Ook dat die voorgestelde pelotonstelsel van die ministerie nie hul goedkeuring wegdra nie. Laasgenoemde beteken volgens haar dieselfde onderwyser wat 07:00 inval, is in die namiddag vir die volgende groep leerlinge verantwoordelik.

“Dit dreineer onderwysers en maak hulle baie moeg.” Volgens Shaanika is Nantu ten gunste van grade wat op verskillende dae skool toe gaan om oorvol klaskamers te vermy.

Die vakbond bevraagteken ook studies wat deur die ministerie voorgehou is ter ondersteuning van die heropening van skole en wat onder meer sê kinders se Covid-19-­simptome is meestal matig, terwyl hulle ook nie so aansteeklik soos ­volwassenes is nie.

“Ons verwag van die ministerie van gesondheid om dié navorsing te ­bevestig,” het Shaanika gesê.

Sy het die situasie waar ouers van veral jonger en primêre ­leerlinge niemand het om na hul kinders om te sien terwyl hulle werk nie, as “­ongelukkig” beskryf.

Shaanika sê Nantu volg die gereedheid van skole om leerlinge terug te verwelkom, veral dié wat steeds sonder water en toilette is.

Intussen het ouers wyd op sosiale media gereageer oor private skole wat gister nie soos beplan geopen het nie ná 'n nuwe proklamasie Sondagaand dit stopgesit het.

Kinders is bang en onseker, sonder vooruitsigte en dit is “emosioneel en psigies uitmergelend”, was van die kommentaar.

'n Onderwyser van 'n staatskool het erken dit is“bitter moeilik” om elke week werk uit te gee en te weet alles moet weer herhaal word.

“Ons weet ook nie meer watter kant toe nie. My voorbereiding verander ook elke week, want nou het ons al hoe minder tyd en die werk hoop op,” het sy gesê.

'n Ouer het ook laat weet sy was reeds met haar kinders by die skool toe sy hoor dit is nog nie vir dié grade oop nie.

“Nou moet mamma by die huis bly waar sy te voet moes gaan werk soek, want sy moes haar motor verkoop om te oorleef. Ons het niemand om na ons kinders te kyk nie en sy moet noodgedwonge by die huis bly,” het dié ouer gesê.

Die Namibiese Privaatskole Organi­sasie (Napso) se uitvoerende hoof, mnr. Wouter Niehaus, het by navraag gesê die organisasie sou regsadvies inwin. Me. Colette Rieckert, voorsitter van die Vereniging vir Private Skole in Namibië (APSN), het met verwysing na proklamasie 49 wat die naweek uitgereik is, gesê dit maak dit duidelik geen graad 0- tot ­9-leerlinge mag vandeesweek terugkeer skool toe nie.

“Ons volg die nuwe vereistes wat tot 24:00 op 12 September van krag is,” het sy gesê.

 – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 18km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 18km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 24km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!