Minister Namoloh oor polisiebrutaliteit gepols

733 dossiere vir verdere ondersoek teruggestuur

15 March 2019 | Ministeries
Catherine Sasman – Die minister van veiligheid en sekuriteit, mnr. Charles Namoloh, sê sy ministerie maak nie staat op mediaberigte oor die beweerde toename in polisiebrutaliteit teenoor lede van die publiek nie.

Volgens hom reageer die ministerie slegs op formele klagtes en verslae.

Hy sê elke streek het afdelings vir interne ondersoeke, wat net op klagtes oor polisiebeamptes fokus, en voeg by enige gegriefde persoon moet formele klagtes indien.

Namoloh het gereageer op vrae deur die Popular Democratic Movement (PDM) se parlementslid, mnr. Nico Smit, oor beweerde “ontstellende verslae” in koerante oor polisieaanrandings sedert Desember.

In Januarie het mans en vroue oor aanrandings en vernedering deur lede van die spesiale taakmag in die polisieselle op Okahandja gekla.

In dieselfde maand het ‘n man op Swakopmund gekla hy is in ‘n polisiewa gegooi en ‘n hele dag lank onwettig aangehou sonder enige klag teen hom, ná hy foto’s op die strand geneem het waar polisiebeamptes besig was om vissermanne te verwyder.

Op Karasburg het twee mans gekla hulle is aangerand en sonder enige rede met pepersproei gespuit.

Volgens Namoloh word bewerings van polisiebrutaliteit geëvalueer en ondersoek.

Hy sê afhangende van die meriete van elke bewering word strafregtelike of departementele sake geopen en na die kantoor van die aanklaer-generaal vir ‘n besluit verwys.

Alternatiewelik word dit na die polisie se eenheid vir interne ondersoeke vir ‘n departementele verhoor verwys.

Volgens Namoloh is slegs drie gevalle van beweerde polisiebrutaliteit die afgelope 18 maande voltooi. Een van die gevalle is tans op die hofrol in die Otjozondjupastreek. In die Omahekestreek is ‘n polisiebeampte tot 33 jaar tronkstraf gevonnis. Die derde geval was in die Khomasstreek waar ‘n polisiebeampte selfmoord gepleeg het kort ná hy sy meisie vermoor het.

Smit wou van Namoloh weet of dit ‘n misdaad is om foto’s van polisiebeamptes te neem waar hulle hul pligte uitvoer.

Volgens Namoloh is daar tans geen wet wat dit verbied nie, maar sommige misdaadtonele vereis verdere ondersoek en die afneem of publisering van die tonele kan sulke ondersoeke in die wiele ry.

“Die afneem en publisering kan in sommige gevalle daartoe lei dat die misdaadtoneel besmet word,” het Namoloh gesê.

Hy het beklemtoon polisiebeamptes word “nooit aangemoedig” om lede van die publiek aan te rand nie en is opgelei om hulself te alle tye in ooreenstemming met die wet te gedra.

“Natuurlik sal jy as mense ‘n paar kry wat die wet en polisieregulasies oortree.”

Volgens die strafproseswet word polisiebeamptes gemagtig om die minimum geweld te gebruik om iemand in hegtenis te neem of wanneer iemand hulle teësit.

Smit het ook sy kommer uitgespreek oor die groot aantal onopgeloste moorde op jong meisies en vroue, en die beweerde onvermoë van die polisie om ernstige misdade te ondersoek.

Namoloh het erken van 2014 tot 2018 is 733 dossiere vir verdere ondersoek teruggestuur.

“Dit beteken nie die ondersoeke is ‘n mislukking nie. Vir vervolging om voort te gaan, is prima facie-bewyse nodig,” het Namoloh gesê.

Volgens hom het die polisie en die kantoor van die aanklaer-generaal nou begin met ondersoeke met die oog op vervolging om te verseker elkeen word behoorlik volgens die vereistes van die hof gelei.

Namoloh sê nie alle dossiere wat nie in die hof beland, verdwyn nie, maar word eerder “tydelik verlê”.

Volgens hom sal dié omstandighede met die instelling van ‘n elektroniese databasis verbeter.

Met verwysing na die saak waarin wyle mnr. André Heckmeir na bewering deur twee Amerikaners, mnre. Kevin Townsend en Marcus Tomas vermoor is, het hy gesê dit sloer omdat die beskuldigdes hul prokureurs voortdurend afdank om nuwes aan te stel.

Volgens Namoloh is daar “verskeie redes” vir vertragings in die Caprivi-hoogverraadverhoor.

Een hiervan is die beskuldigdes se vertragingstaktieke.

Hulle voer aan hulle is nie Namibiërs nie en kan daarom nie in Namibiese howe vervolg word nie.

Nog ‘n rede is die groot aantal beskuldigdes wat terselfdertyd van verskillende oortredings aangekla is, en die lang proses om vir regshulp en private regsgeleerdes aansoek te doen.

Soortgelyk

 

Neuroloog besoek Keetmanshoop-staatshospitaal

4 ure gelede | Gesondheid

‘n Neuroloog besoek die staatshospitaal op Keetmanshoop op 22 Maart. Persone met onder meer chroniese hoofpyne en migraine, Alzheimer se siekte, Parkinson's, demensie, Asperger’s sindroom,...

Regering sê oor Otjomuise-ontwikkeling

4 ure gelede | Ministeries

Die regering sê dit hou nie mense uit die nuutgeboude en skynbaar voltooide wooneenhede in Otjomuise uitbreiding 10 nie. Die rede waarom niemand nog daarin...

Vier oorleef ongeluk op Otjiwarongo-Okahandjapad

4 ure gelede | Ongelukke

Vier mense het nouliks aan die dood ontkom, nadat die voertuig waarin hulle op reis wees, die pad verlaat en drie keer gerol het. Die...

Skuiling vir swanger vroue op Usakos geopen

5 ure gelede | Gesondheid

‘n Skuiling vir swanger vroue ter waarde van N$1, 1 miljoen is by die staatshospitaal op Usakos geopen in ‘n poging om sterftes onder verwagtende...

Man met 102 Mandrax-tablette op L?deritz vasgetrek

7 ure gelede | Misdaad

‘n Man is op Lϋderitz in die //Kharasstreek met 102 Mandrax-tablette ter waarde van N$102 000 vasgetrek. Volgens die polisie se koördineerder van misdaadondersoeke in...

Noa verduidelik ACC-prosesse

17 ure gelede | Howe

Denver Kisting – Nadat ’n bewering oor ’n goewerneur se beweerde korrupte optrede in die openbare ruimte beland het, was die Teenkorrupsiekommissie (ACC) genoop om...

Psemas stop uitbetalings

17 ure gelede | Ministeries

Henriette Lamprecht – Die administrateur van die staat se mediese fonds (Psemas) het opgehou om eise vir betaling te verwerk. Dít nadat die laaste betaling...

Dis nou maar wors!

17 ure gelede | Gebeure

Lesers wat in aanmerking wil kom vir die N$15 000 se inkopiebewyse in Shoprite Checkers se “Dis braaityd!”-kompetisie, moet gou speel met hul kiekies. Koop...

Kalender 15 Maart

17 ure gelede | Kuns en vermaak

Nou aan die gang» Die Goethe-Institut vertoon vanaand om 19:00 die fliek Rafiki. Dis die storie van Kena en Ziki in hul soeke na iets...