Miljoene eiers in Europa vernietig ná gifskandaal
Vida Booysen
'n Eierskandaal in die Europese Unie (EU) wat reeds miljoene henne en eiers in die slag laat bly het, bedreig nou pluimveeboere se voortbestaan.
Die bedryf het verliese van meer as €150 miljoen gely nadat toetse spore van 'n verbode gifstof teen luise, fipronil, in eiers op die supermarkrakke gevind het. Die gifstof word dikwels ingespan om vlooie en luise op honde en katte te beheer maar is volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie “matig giftig” vir mense as dit in groot hoeveelhede ingeneem word.
Die gifstof het in Nederland in die voedselketting beland en dié land sit met eier op die gesig omdat hy na bewering reeds in November verlede jaar van die oortreding bewus was. Die land het egter niks daaraan gedoen nie totdat owerhede in België aan die begin van vandeesmaand dit ook ontdek het. Die Nederlandse pluimveeowerheid ontken dié bewering.
Die vingers wys na 'n maatskappy in Nederland wat ontsmettingsmiddel vir hoenderhokke verskaf. Twee van die maatskappy Chickfriend se uitvoerende bestuurslui het intussen in Nederland in die hof verskyn in verband met die skandaal wat nou reeds na 17 Europese lande en Hongkong uitgebrei het.
Die webwerf poultry.com berig die twee mans is verlede Donderdag in 'n klopjag op agt persele in Nederland en België in hegtenis geneem. Miljoene eiers is reeds van die rakke gehaal en vernietig. Miljoene lêhenne is ook van kant gemaak en tientalle pluimveeplase is gesluit.
Johan van Bosch, die sekretaris-generaal van die Belgiese vereniging van eiergroothandelaars, sê sy lede bereken hul verliese en gaan die Europese Kommissie vir vergoeding vra.
Dié owerheid sê op sy beurt dit is nog te vroeg om te praat oor hoe EU-geld die produsente kan help en dat die kwessie eers as 'n sanitêre aangeleentheid hanteer moet word.
Pluimveeboere in die EU het verlede jaar onder 'n wydverspreide uitbreking van voëlgriep deurgeloop. Hoewel die EU sy boere vir sulke terugslae vergoed, is daar steeds verliese aan winsgewende uitvoermarkte vir dié produsente. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie