Miljarde later verlaat albatrosse die land
Miljarde later verlaat albatrosse die land

Miljarde later verlaat albatrosse die land

Die twee Airbus A330’s het gister na Leipzig in Duitsland gevlieg.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Die twee Airbus A330-220-vliegtuie wat sedert September 2013 ’n baie duur albatros om die nek van Namibiese belastingbetalers was, het gister hul swanevlug uit die land onderneem.

Dié twee vliegtuie, wat tot in Maart verlede jaar op die Windhoek-Frankfurt-roete in gebruik was, is deur kapteins Warren Zehrt, André Davids, Leon Maritz en Teeleleni Kakehongo na die Halle-lughawe by Leipzig in Duitsland gevlieg.

Die vliegtuie sal daar onderhoudswerk ondergaan om dit in sodanige toestand te kry dat dit aan die kontrakvoorwaardes van Castlelake Aviation voldoen.

Air Namibia, wat verlede maand finaal gelikwideer is, het in 2013 ’n kontrak met hierdie Amerikaanse vliegtuigverhurings- en finansieringsmaatskappy aangegaan en dié twee vliegtuie in gebruik geneem.

Met Air Namibia se likwidasie op hande, moes mnr. Leon Jooste, minister van staatsondernemings (SOE’s), in aller yl met Castlelake Aviation onderhandel om ’n skikking ten opsigte van dié kontraktuele verpligting te bereik. Die regering het ’n waarborg van N$2,5 miljard verskaf, en die vrees het bestaan dat Castlelake Aviation die waarborg sou oproep.

Jooste het gister aan Republikein gesê die regering is nog besig om “die finale detail van die skikkingsooreenkoms te onderhandel”.

“Ons het wel reeds ooreengekom wat die basiese kommersiële terme en beginsels sal wees,” sê Jooste.

Op ’n vraag aan hom oor hoeveel hierdie twee vliegtuie die Namibiese belastingbetaler gekos het sedert dit in September 2013 in gebruik geneem is, het hy gesê ’n finale syfer kan eers na afloop van die skikkingsooreenkoms bekend gemaak word.

Namibië is tans in jaar agt van die 12 jaar-huurkontrak. Dié kontrak het die nasionale redery maandeliks US$1,1 miljoen (N$15,59 miljoen) per vliegtuig gekos – dus meer as N$3 miljard oor dié tydperk teen die huidige wisselkoers.

Volgens Jooste het die maandelikse verlies op die Frankfurt-roete egter veel meer beloop.

Halle-lughawe in Leipzig is bekend vir vliegtuigherstel- en onderhoudswerk deur verskeie diensverskaffers soos Lufthansa Technik AG en ander. Daar is selfs ’n klankdigte vliegtuigloots wat groot genoeg is om aan die Airbus A380 te kan werk.

Die vermaakstelsels op die twee A330’s sal onder meer herstel moet word, het Republikein vroeër berig.

Die vliegtuie sal in Liepzig die nodige onderhoudswerk ondergaan sodat dit in presies die toestand is waarin dit destyds in ontvangs geneem is.

Daarna sal dit aan Air Lease 82 in Ierland oorhandig word. Dié verhuringsmaatskappy is deel van Castelake Aviation.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 18km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 18km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 24km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!