Menseregte seëvier in hof

'Onwettige' immigrante vrygelaat

17 February 2017 | Howe
Jacqueline Louw



Die hof het op 15 Februarie beveel dat sogenaamde onwettige immigrante wat deur die polisie aangehou word, vrygelaat word.

Dít na die Ombudsman, mnr. John Walters, regstappe teen die immigrasieowerhede en die polisie ingestel het.

Regter Shafimane Ueitele het Woensdag beveel dat die 46 beweerde onwettige immigrante wat by ­polisiekantore rondom Windhoek aangehou word, onmiddellik vrygelaat word.

Walters het aangevoer die aanhouding van die 46 immigrante voldoen nie aan die bepalings van die Immigrasiebeheerwet nie.

Hy het die stasiebevelvoerders van die polisiekantore in Windhoek, Katutura, Wanaheda en Seeis, die minister van binnelandse sake en immigrasie, die hoof van immigrasie, die Immigrasietribunaal, die minister van veiligheid en sekuriteit, en die inspekteur-generaal van die Namibiese polisiediens gedagvaar.



Staat erken onregmatige prosedures

Me. Sylvia Kahengombé, van die staatsprokureur, het gister toegegee die prosedure wat deur die ­owerhede met die inhegtenisname van die ­immigrante gevolg is, is nie ­regmatig en wettig nie en dat die staat bereid is om die aangehoudenes vry te laat.

Adv. Yoleta Campbell wat in opdrag van mnr. Norman Tjombe, 'n prokureur, namens die Ombudsman opgetree het, het die hof versoek om 'n kostebevel in die Ombudsman se guns te maak in die lig van die toegewing oor die onwettigheid van die aanhouding.

Sy het verder gesê dat die Ombudsman, vanweë sy grondwetlike mandaat om klagte van beweerde en oënskynlike skendings van fundamentele regte en vryhede te ondersoek, 'n plig gehad het om die aansoek te bring.



Gevangenis gister vry

Me. Eileen Rakow, hoof van die Ombudsman se kantoor, het Republikein gister meegedeel die 46 immigrante sou gister teen 17:00 vrygelaat wees.

Voor die aangehoudenes vrygelaat sou word, moes kennisgewings op hulle beteken word dat hulle Namibië binne sewe dae moet verlaat.

Indien hulle dit nie doen nie, mag hulle weer in hegtenis geneem word.

Die beswaar teen hul aanvanklike inhegtenisname en aanhouding is dat die regte prosedures nie gevolg is nie en hul aanhouding dus onwettig was.

Die Ombudsman het verder onderneem om toe te sien dat reëlings getref word om na die welstand van die twee 17-jarige immigrante om te sien. Stappe sal in samewerking met die ambassades van die lande van dié twee se herkoms, en die ministerie van geslagsgelykheid en kinderwelsyn geneem word om hulle in die sorg van 'n voog te plaas.

Rakow het verder gesê die Ombudsman het persoonlik onderneem om hierdie kwesbare jongmense nie aan hul eie genade oor te laat nie.

Mnr. Matti Asino van die kantoor van die staatsprokureur het gister bevestig dat die ministerie van binnelandse sake besig is om die vrylatingsproses te fasiliteer en elkeen van die aangehoudenes te woord sal staan.



Die immigrasiewet

Uit die eedsverklaring van die Ombudsman wat voor die hof gedien het, blyk dit dat die meeste van die beweerde onwettige immigrante uit Afrika-lande soos Angola, Zimbabwe, die Demokratiese Republiek van Kongo en Kenia afkomstig is.

In terme van die Immigrasiebeheerwet mag 'n immigrasiebeampte 'n verdagte onwettige immigrant in Namibië arresteer en in aanhouding plaas vir 14 dae terwyl die persoon se teenwoordigheid in die land ondersoek word.

Die wet bepaal ook dat aanhouding van 'n onwettige immigrant deur die minister van binnelandse sake vir nie meer as 14 dae op 'n slag verleng mag word nie.

Volgens Walters het sy ondersoekers gevind dat sommige van die beweerde onwettige immigrante aangehou word op grond van ongetekende lasbriewe vir aanhouding.

Geen lasbriewe vir die aanhouding van sommige aangehoudenes kon gevind word nie, terwyl ook gevind is dat die 14-dae aanhoudingsperiode in sommige gevalle reeds verstryk het en geen nuwe lasbriewe vir aanhouding uitgereik was nie.

Ueitele het Woensdag sy kommer uitgespreek oor die feit dat die Immigrasietribunaal 'n party in die geding is.

Volgens hom behoort die Immigrasietribunaal 'n neutrale ­instansie te wees.

Soortgelyk

 

N$25 miljoen vir stropers

21 ure gelede | Omgewing

Francoise Steynberg - Die boete vir die onwettige jag van olifante en renosters gaan van die huidige N$200 000 tot N$25 miljoen verhoog word en...

Meatco-raad nié genomineer

21 ure gelede | Landbou

Elvira Hattingh - Geeneen van die lede op die nuutverkose Meatco-raad is deur die maatskappy se lede genomineer nie. Nominasies in ’n vergadering in Augustus...

Swapo se politburo stil oor Swartbooi

21 ure gelede | Politiek

Catherine Sasman - Die vergadering van Swapo se polit­buro Maandag het nie, soos verwag, beraadslag oor mnr. Bernadus Swartbooi se toekoms in die party nie....

Vermeende roofbende kry nie borgtog

21 ure gelede | Misdaad

Die ses mans wat daarvan beskuldig word dat hulle 'n vrou van N$600 000 beroof het, is Maandag in die Katutura-landdroshof borgtog geweier. Die vermeende...

Weer vir 22 Februarie 2017

21 ure gelede | Weer

BINNELAND: Mooi weer en baie warm in die suidwelstelike helfte en verre noordweste. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm wees...

Muller agter tralies ná gespoeg in hof

21 ure gelede | Misdaad

Otis Finck op Walvisbaai - Landdros Rivermo Williams het gister vir Venancio Muller (36) tot drie maande tronkstraf gevonnis - sónder die opsie van 'n...

Ses maande, twee fietse, een kontinent

21 ure gelede | Toerisme

Tanja Bause - Twee jong Duitse ingenieurs, Sandra Greule (24) en Peter Lindner (23), het einde September verlede jaar uit Stuttgart in Duitsland na Nairobi...

Dokters mág dispenseer

21 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht - Daar het nog nooit 'n regsgrond bestaan vir enige mediese fonds om die uitbetaling van 'n eis te weier omdat dit uit...

Môreson kyk deur ’n nuwe bril

21 ure gelede | Plaaslik

Die Craton Stigting, Tobich Optics en die Lions Club het aan die leerlinge van Môreson Skool in die hoofstad leesbrille ter waarde van sowat N$20...