Melkboere in Vrystaat sit met hande in hare

Volgens die Melkprodusente-organisasie is net 186 melkboere oor van die 929 wat in 2009 in dié provinsie was.
Alet Van Der Walt – ’n Boer van Bultfontein, Danie du Plooy, het twee weke gelede die land aan die praat gehad toe hy 6 000 liter melk op die grond laat uitloop het om mense bewus te maak van melkboere se probleme.

Melkerye in die Vrystaat, wat al tot ses dekades lank bestaan, begin geldelik ondergaan. Van die 929 melkboere wat in 2009 in dié provinsie was, is vanjaar net 186 oor, sê die Melkprodusente-organisasie (MPO).

En van dié 189 melkboere sê baie van hulle kan ook nie meer voortbestaan nie.

Sekere Vrystaatse roetes waar melk opgelaai is, word op 5 Augustus gesluit. Ander boere se melk sal wel nog teen ’n verminderde prys opgelaai word.

“Dit gaan nie net oor geld nie, dit is vir ons baie emosioneel,” sê Cora Roux, ’n boervrou van Reitz.

Roux sê sover sy weet, gaan 30 melkerye in die Oos-Vrystaat hul deure teen Augustus moet sluit.

Net in die Reitz-omgewing gooi vyf boere nou die handdoek in.

“In 1994 was hier 17 melkerye in die Reitz-omgewing, nou gaan een oorbly,” sê Roux.

Roux soek ook nou kopers vir haar melkkudde.

“Ek is verlede week ingelig dat Desmanda Melk, die kontrakteur wat die melk vervoer en aan die grootmaatkopers lewer, op 5 Augustus die laaste keer by my melk sal oplaai.”

Desmanda Melk het geweier om kommentaar te lewer oor die redes vir sy besluit om sekere melkroetes tot niet te maak of oor die vermindering in die melkprys.

“My man het die melkery 44 jaar gelede in 1974 begin. Ek het dit in 1994 by hom oorgeneem en dit verder uitgebrei en opgebou. Ek besit 120 koeie en lewer ongeveer 1 000 liter melk per dag.”

Roux sê sy het agt mense wat vir haar werk en van hulle is die enigste broodwinners in groot gesinne.

Twee melkboere van Bultfontein, Du Plooy en sy buurman, Jan Conradie, sê hul pa’s het onderskeidelik 50 en 60 jaar gelede die melkerye begin, maar die skrif is vir hulle aan die muur.

“Ons kon aan baie mense werk verskaf en ons kinders deur die skool en universiteit sit, maar nou is dit net nie meer winsgewend nie,” sê Du Plooy.

Die graanbedryf is baie gemeganiseerd, maar hulle kon nog altyd danksy die melkerye werk aan mense verskaf, sê hy.

“Die ergste is, iemand maak steeds groot geld uit ons melk, maar niemand weet wie nie,” sê Du Plooy.

Vrystaatse boere kry minder as R4,50 vir ’n liter melk en dié pryse daal. Volgens grootmaataankopers is te veel melk beskikbaar, omdat verkope laag is. Dit druk die prys af.

Dr. Chris van Dijk, hoof van die MPO, sê egter die rede vir die matige ooraanbod in melk is eerder die oorproduksie in veral die Oos-Kaap waar produsente weens die droogte meer as gewoonlik konsentrate en lusern gevoer het wat melkproduksie gestimuleer het.

“As ons R5 vir ’n liter melk kry, kan ons boer,” sê Conradie.

Alwyn Kraamwinkel, die hoof van die Suid-Afrikaanse Melkverwerkersorganisasie (Sampro), sê in ’n artikel in Landbouweekblad van 11 Mei dit is nie nodig om in die suiwelbedryf in te meng nie, want die bedryf groei.

Tog word in dieselfde artikel berig dat daar verlede jaar ’n groot styging in die invoer van sekere produkkategorieë van melk was, sê Conradie.

Waarom is verlede jaar dan volgens die MPO 431 miljoen liter melk ingevoer as daar te veel melk is, vra hy.

Volgens Van Dijk is Suid-Afrika meestal ’n netto uitvoerder wat beteken dat meer melk en melkprodukte uitgevoer word as wat ingevoer word. Minder as 4% van die rakmelk in Suid-Afrika word ingevoer.

“Ons is lede van die MPO, maar hulle doen niks vir ons nie,” sê Conradie en Roux.

Van Dijk sê egter die MPO berei nou saam met Sampro en MelkSA ’n aansoek vir ’n tariefverhoging vir rakmelk voor.

Van Dijk sê die MPO beywer hom al lankal om tariefbeskerming vir rakmelk te kry, maar was tot dusver weens regeringsbeleid onsuksesvol.

Hy sê om ’n invoertarief op ’n produk ingestel te kry of bestaande tariewe te verhoog, is nie meer so maklik nie.

Conradie sê plaaslike melkboere het al aangebied om al hul melk op een punt in ’n groot tenk te pomp sodat vervoerkontrakteurs nie tussen plase hoef rond te ry nie, maar dié aanbod is van die hand gewys.

"Ons kon lankal ’n tenkwa van 30 000 liter volmaak wat dit vir die melkkopers die moeite werd kon maak, maar nou is hier te min boere oor," sê Du Plooy.

In die Bultfontein-distrik is net sewe van 15 melkboere nog oor.

Vrystaatse melkboere sê groot melkaankopers ry deur die Vrystaat om in die Wes- en Oos-Kaap melk te koop wat in Gauteng verwerk word, maar hulle stel nie belang om die Vrystaatse melkboere te ondersteun nie.

Conradie sê in die laaste 60 jaar is daar nie een dag nié op sy plaas gemelk nie. “Kersfees, Nuwejaar, ons melk,” sê hy. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!