Melgesedek vlieg hoog
Vir bykans sy hele skoolloopbaan het Melki skool toe gestap, lank voor hy nog geweet het hy sal eendag vlieg.
Jeanette Diergaardt – Met 'n kraakvars wit T-hemp, styfpassende donkerblou jeans wat net-net by die enkels kom en gepunte, blinkgepoetste swart skoene stap Melgesedek Hamukoto (ofte wel Melki) by Desert Air se kantoor in.
Sy glimlag is breed en sy persoonlikheid straal deur die klein ontvangsvertrek. Joviaal, maar nederig groet hy almal en op sigself kan jy sien Melki is die lieflingseun hier rond.
In die vlieëniers se vertrek wat soos 'n raadsaal lyk, sit Melki sy twee strepe aan wat hy met sy private vlieglisensie ontvang het.
Die kenmerkende donkerbril van vlieëniers kom nog 'n bietjie later.
As 22-jarige het Melki, jongste van drie kinders, onlangs sy private vlieglisensie verkry. Die jong Oshiwambo seun se lewe was egter nie altyd so blink as wat sy skoene nou is nie.
Hy is gebore in 'n nedersetting in die Noorde (Omutemo in die Ohangwenastreek) en getoë in die hoofstad, meer spesifiek Katutura, Nobuamis – 'n “eiland op die grond”, soos Melki dit stel.
Sersant Wilbard Hamukoto, sy pa en sy grootste held, het nooit met Melki se drome ingemeng nie en het hom altyd ondersteun. Hamukoto senior sê hy sal graag eendag vir Melki as 'n internasionale vlieënier wil sien en hy kan nie wag om saam met sy seun te vlieg nie.
Melki het by sy pa grootgeword en hoewel die lewe nie altyd maanskyn en rose was nie, het Wilbard altyd tot die uiterste gegaan om sy jongste te versorg. Die jong vlieënier is gelukkig om twee moederfigure in sy lewe te hê – sy biologiese ma, Hiliya Haiyambo, en stiefma, Loide Nambinga, wat albei in die Noorde bly.
Melki se primêre skooldae was by Bet-El en sy hoërskoolloopbaan by Ella du Plessis. Vir bykans sy hele skoolloopbaan het Melki skool toe gestap, lank voor hy nog geweet het hy sal eendag vlieg.
In teenstelling met wat vele sou verwag om volgende te hoor, was Melki nie 'n A-student nie, maar soos die tyd sou bewys, definitief 'n harde werker.
Ná Ella du Plessis waar Melki met 22 punte in matriek gedruip het, het hy by Comradem Trustfonds aangesluit waar hy sy punte verbeter het om ten einde sy doel te bereik om homself as 'n vlieënier te bekwaam.
Die Physically Active Youth (PAY)-program by die jeugsentrum in Katutura was en is steeds 'n groot deel van Melki se lewe en sukses. Hier het hy mentors en 'n groot ondersteuningsgroep gevind. PAY het Melki deurentyd gehelp om sy drome te verwesenlik. Sy mentors en die hoof van die program het hom bygestaan gedurende sy aansoeke aan verskeie vliegprogramme in die land.
Een van sy mentors was me. Ursula Matzopoulis, 'n aktiewe pensioenaris wat vir 'n paar jaar by PAY gewerk het en wat nou vir die Pupkewitz-stigting werk.
Sy het net goeie dinge van hom te sê: “Melki is hardwerkend en respekvol teenoor alle mense, hy weet wat hy wil hê en hy is altyd 'n plesier om mee te werk.”
Matzopoulis het Melki vergesel toe hy Desert Air Namibia vir sy onderhoud vir 'n studiebeurs besoek het. Sy moedig alle ouer, gevestigde volwassenes aan om kinders van gemarginaliseerde groepe onder hul vlerk te neem.
Ná aansoeke aan Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF) het Melki ten einde op Desert Air Namibia besluit waar hy 'n studiebeurs gekry het.
Volgens sy vlieginstrukteur, me. Jessica Wellman, is daar 'n sêding waarmee Melki altyd vorendag kom voor hulle die enjins aanskakel: “Vandag is die dag. Kom ons gaan vlieg!” Volgens haar spreek dit van sy positiewe ingesteldheid om sy drome na te jaag. Sy wys ook daarop dat hy nooit besgee nie, “selfs wanneer uitdagings opduik, wat noodwendig sal gebeur wanneer jy so 'n gespesialiseerde studieveld betree.”
As Melki nie 'n vlieënier kon word nie, reken hy sou hy 'n toergids of 'n geoloog wou geword het.
Die natuur bly altyd 'n passie vir hom en kantoorwerk is definitief nie vir hom bedoel nie.
FIETSRYER
Wanneer Melki nie hoog in die lug is nie, ry hy fiets soveel as wat hy kan.
“Ek is op my gelukkigste in 'n vliegtuig en op my fiets,” sê hy.
Die Nedbank Desert Dash is nie iets vreemds vir Melki nie en hy neem reeds sedert 2015 aan dié ikoniese 24 uur bergfietsrit deel. Hy was laasjaar lid van 'n tweemanspan wat 12de klaargemaak het.
Vroeër vanjaar, voor die Covid-19-pandemie, was hy vir sewe weke in Suid Afrika vir 'n fietsry-oefenkamp wat ook verskeie wedrenne ingesluit het. Hierdie geleentheid is deur die Namibiese Fietsryfederasie geborg.
In plaaslike padfietskompetisies ry hy ook in die kleure van die RMB-span. Hy het onder meer in 2019 'n silwermedalje in die o.23-mansafdeling by die nasionale kampioenskap verower.
Anders as baie jongmense sy ouderdom is Melki nie 'n groot aanhanger van televisie en TV-reekse nie. Hy bestee die meeste van sy vrye tyd op sy fiets.
Die jong vlieënier moet nog tussen 50 en 60 ure voltooi om vir sy kommersiële vlieglisensie te kwalifiseer, tesame met teoretiese werk en eksamens wat nog voor hom lê. Hy sal eers teen volgende jaar sy kommersiële vlieglisensie kan kry.
Melki se storie van harde werk is 'n inspirasie vir almal. Dit wys dat teleurstellende matriekuitslae geensins in jou pad hoef te staan nie – jy kan altyd jou lot verander en jou wildste drome waar maak.
Sy boodskap aan die jeug is om altyd te onthou waar jy vandaan kom, maar om te fokus op waar jy wil wees. Omstandighede moet jou nooit terug hou nie.
Sy toekomsplanne is om terug te ploeg in sy gemeenskap en om hopelik eendag vir 'n paar jaar vir Qatar Airways te werk. Hy sal altyd terugkeer na Desert Air en die ervaring om deurentyd bedrywig agter die stuur te wees, eerder as die tye van “auto-pilot” van die groot stralers.
Nog 'n plek waar sy hart altyd sal wees, is in Katutura. Maak nie saak hoe suksesvol hy raak nie, hy sal nie uit sy geliefde woonbuurt wil wegtrek nie.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie