Meer as 'n miljard bestee aan Covid

Entstowwe, mediese toerusting

04 October 2021 | Ministeries
Henriette Lamprecht



Namibië se stryd teen en reaksie op die Covid 19-pandemie waarvan die eerste gevalle in Maart verlede jaar aangeteken is, het die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste tot einde Maart vanjaar meer as 'n miljard Namibiese dollar uit die sak gejaag.

Dit sluit van die aankoop van entstowwe, persoonlike be­skermende toerusting (PPE's) en mobiele lykshuise tot die omskep van viertrekvoertuie in ambulanse in.

Die gesondheidsminister, dr. Kalumbi Shangula, het in die nasionale vergadering gesê Namibië het 'n nasionale noodreaksieplan ontwikkel om 'n holistiese en volhoubare benadering tydens die tydperk April 2020 tot 31 Maart vanjaar tot die pandemie te verseker. Hoewel die tydperk einde Maart geëindig het, sê die minister dit was noodsaaklik dat die reaksie voortgaan en die plan voortdurend opdateer word soos die epidemiologiese situasie ontwikkel.

Volgens Shangula het landswye koördinering, beplanning en monitering N$177,4 miljoen gekos. Die hoofaktiwiteite is die koördinering van die bestuur van die reaksie tot die pandemie in samewerking met alle verwante kantore, ministeries en agentskappe. Die verspreiding van inligting aan die publiek en om onder meer vals nuus hok te slaan, was N$3,6 miljoen. Dit het die druk van pamflette en die vertaling van sleutelboodskappe ingesluit.

Die monitering van die ­geografiese verspreiding van die virus, die ­intensiteit van oordrag, identifisering van virologiese kenmerke en die ­evaluering hiervan op gesondheidsdienste het sowat N$9,8 miljoen beloop. Dit sluit in die opleiding vir tegniese ondersteuning, die instel van 'n tolvrye hulplyn, asook die aankoop van vier viertrek­voertuie wat in ambulance omskep is.

By grensposte waar die fokus sterk op onder meer ­toetsing, die opspoor van kontakte, isolasie en kwarantyn val, het die ministerie toetsvorms vir reisigers ontwerp en gedruk. Verskeie vergaderings is ook gehou om uitdagings met betrekking tot vragmotorbestuurders te takel. Dit het die ministerie N$659 071 uit die sak gejaag.

Met verwysing na nasionale laboratoriums het Shangula beklemtoon dit is belangrik om kapasiteit voor te berei om die grootskaalse ­toetsing vir Covid plaaslik te kan doen.

Die ­kapasiteit is volgens die minister in samewerking met verskeie labo­ratoriumdienste en agentskappe oraloor die land aansienlik uitgebrei wat daartoe gelei het dat Namibië tans derde in Afrika is in die hoogste aantal toetse wat per 1 000 lede van die bevolking uitgevoer word. Laboratoriumdienste se bedrag is N$132,8 miljoen.

Met verwysing na die voorkoming en beheer van infeksie, die voorkoming van oordrag aan personeel, tussen personeel en tussen personeel en pasiënte, besoekers en die gemeenskap is N$176,1 miljoen aan PPE's en N$31,6 miljoen aan sanitasie en skoonmaakmiddels bestee.

'n Bedrag van N$1,3 miljoen is op die uitbreiding van die kapasiteit van staatslykhuise bestee.

Altesaam N$142,9 miljoen is gebruik vir die konstruksie en uitbreiding van isolasiegeriewe en sluit N$27,5 miljoen in vir mediese toerusting en huishoudelike items.

Nuwe isolasiegeriewe is by die Windhoek Sentrale Hospitaal, asook die hospitale op Opuwo, Oshakati, Rundu, Okongo, Gobabis, Keetmanshoop en Walvisbaai opgerig. Die herinrigting van geriewe vir Covid-19 was onder meer by die Windhoek Sentrale Hospitaal se ongevalle-afdeling, die TB-saal by die Katutura-­hospitaal, Robert Mugabe-kliniek, akkommodasie vir personeel by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako, die oostelike vleuel van die verpleegsterskwartiere by die ­Katutura-hospitaal, sowel as ablusie­geriewe by die Jeugsentrum by Hentiesbaai.

Met verwysing na die bestuur van gevalle sê Shangula het die ­ministerie hoofsaaklik gefokus om gesondheids­geriewe toe te rus om ernstige gevalle te kan hanteer deur die verkryging van bykomende mens­like ­hulpbronne, kritieke toerusting, farmaseutiese en kliniese voorrade sowel as ambulanse.

Die totaal van N$412,1 miljoen sluit in N$121,1 miljoen vir die aankoop van mediese toerusting, N$11,7 miljoen vir kliniese voorrade, N$80,8 miljoen vir entstowwe, N$3,4 vir die omskakeling van paneelwaens in ­ambulanse en N$195 miljoen vir ­personeel. Vir logistieke ondersteu­ning is N$11,2 miljoen gebruik vir onder meer vervoer, klaring by doeane en spyseniersdienste vir dié in isolasie- en ­kwarantyngeriewe.

Vir die verskaffing van suurstof en installering van suurstoftenks het die ministerie N$20,3 miljoen opgedok.

[email protected]

Soortgelyk

 

Vroeë Kersgeskenk vir die Kankervereniging

6 ure gelede | Kuns en vermaak

Die Kollege van die Kunste (Cota) bied eerskomende Sondag (5 Desember) die Christmas Memories-konsert ten bate van die Kankervereniging van Namibië (CAN) aan. Jürgen Kriess,...

Vrou toets positief vir Omicron in Tseggiese Republiek ná...

8 ure gelede | Gesondheid

'n Finale ontleding by 'n hospitaal in die stad Liberec in die Tseggiese Republiek het getoon 'n 60-jarige vrou wat teruggekeer het van 'n reis...

Vrou toets positief vir Omicron in Tseggiese Republiek ná...

8 ure gelede | Gesondheid

'n Finale ontleding by 'n hospitaal in die stad Liberec in die Tseggiese Republiek het getoon 'n 60-jarige vrou wat teruggekeer het van 'n reis...

Shifeta: Regering in gesprek oor reisverbod

8 ure gelede | Toerisme

Die Namibiese regering gaan voort om deur middel van diplomatieke kanale met die relevante owerhede in Brittanje, Verenigde Arabiese Emirate, die Europese Unie en sy...

Nasionale Raad hervat sy sitting

8 ure gelede | Regering

Die Nasionale Raad het vanoggend (Maandag) sy sitting hervat, onder meer om die nuwe Wysigingswetsontwerp op Bewilliging te bespreek.Dit is vroeër deur die Nasionale Vergadering...

Veldbrand ‘buite beheer’

22 ure gelede | Ongelukke

Nadat Republikein vanmiddag ondersoek by die veldbrande in die omgewing van Midgard gaan instel het, het mnr. Cornè Kruger intussen laat weet die vuur was...

Wêreld se optrede ‘oneerbiedig, agterbaks, diskriminerend’

22 ure gelede | Gesondheid

Die uitvoerende voorsitter van Ohlthaver & List, Sven Thieme, sê Brittanje, die Europese Unie, Amerika en ander lande se reisverbod op vlugte uit Suider-Afrika is...

G7-lande se gesondheidsministers vergader vandag

22 ure gelede | Internasionaal

Gesondheidsministers van die wêreld se rykste sewe demokrasieë sal Maandag vergader om die nuwe variant van die coronavirus, Omicron, te bespreek.Reuters berig die dringende G7-vergadering,...

Geen sterftes, sewe nuwe gevalle

22 ure gelede | Gesondheid

Die Covid-sterftes bly op 3 573, terwyl sewe nuwe gevalle gister aangeteken is. Dit is 'n positiewe koers van 0,6% en sluit 'n student in....