Meer as 1 600 boetes in 20 dae
Meer as 1 600 boetes in 20 dae

Meer as 1 600 boetes in 20 dae

Jana-Mari Smith
Jana-Mari Smith - ’n Padveiligheidsveldtog van N$3,5 miljoen op twee van Namibië se dodelikste roetes het meer as 1 600 boetes ter waarde van sowat N$1,6 miljoen opgelewer.

Meer as 60 verkeersbeamptes het aan dié veldtog op die B1- en B2- nasionale roetes deelgeneem.

Die polisie en hul vennote wat ook by die veldtog betrokke is, glo die veldtog het verkeersoortredings tot dusver aansienlik verminder.

Hulle hoop dit bevorder padveiligheid en verminder ongelukke.

“Tot dusver verloop die veldtog baie goed. Daar is minder wetteloosheid en minder mense wat verkeersreëls ignoreer,” het adj.komm. Amalia Gawanas, hoof van die Namibiese polisie se verkeersafdeling, gesê.

Sy het bygevoeg 64 polisiebeamptes, sowat ’n dosyn plaaslike owerheidsbeamptes en vyf beamptes van die Paaieowerheid (RA) is sedert 1 Augustus tussen Noordoewer en Oshikango op die B1-roete en van Okahandja af na Walvisbaai op die B2-roete ontplooi.

Altesaam 1 687 dagvaardings ter waarde van N$1,5 miljoen is uitgereik en 9 619 bestuurders is vir alkohol getoets.

In totaal is 48 mense onmiddellik in hegtenis geneem, waarvan 33 onder die invloed van alkohol was.

Die polisie het ook 2 100 taxibestuurders vir alkohol getoets, waarvan 90 positief getoets het – hoewel nie almal van hulle die wettige perk oorskry het nie.

“Dié wat positief getoets het, maar steeds onder die perk was, het ’n waarskuwing gekry om glad nie te drink as hulle bestuur nie en is tyd gegun om nugter te word voor hulle hul reis kon voortsit,” het sy gesê.

KOMMERWEKKEND

Padveiligheidsveldtogte was in die verlede al tot ’n mate suksesvol.

Volgens die Motorvoertuigongelukkefonds (MVAF) se jongste statistieke het ongelukke met 12%, beserings met 20% en padsterftes met 31% afgeneem in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar.

Tussen Januarie en 19 Augustus vanjaar het 342 mense in padongelukke gesterf en is 3 663 in 2 292 ongelukke beseer.

In dieselfde tydperk in 2017 het 453 mense gesterf, en is 4 257 in 2 434 padongelukke beseer.

Me. Mona-Liza Garises van die MVAF het gesê die hoë jaarlikse sterftesyfer is kommerwekkend en noodsaak drastiese maatreëls.

Met gemiddeld 700 sterftes per jaar is Namibië een van 10 lande met die gevaarlikste paaie ter wêreld.

Gawanas sê die huidige veldtog spruit uit 'n opdrag van die kabinet in 2016 om die bloedbad onder beheer te kry.

“Ten spyte van die Nasionale Padveiligheidsraad (NRSC) se inspuiting van N$3,5 miljoen sal die veldtog op 6 September weens ’n geldtekort ten einde loop,” het Gawanas gesê.

Sy het alle Namibiërs aangemoedig om betrokke te raak en die owerhede te help om wetteloosheid op die paaie te pak.

“Wanneer jy ’n bestuurslisensie ontvang, het jy 'n groot verantwoordelikheid teenoor ander padgebruikers.

“Tydens hierdie veldtog doen die mense op die paaie hul bes, maar bestuurders moet bewus wees daarvan dat dit nie net oor polisiesigbaarheid gaan nie. Dit is elkeen se verantwoordelikheid om ons paaie te beveilig,” het sy gesê.

“Ons doen ons bes om die omstandighede onder beheer te kry. Ons het egter nóg belanghebbendes nodig om betrokke te raak, sodat ons kan saamstaan om padslagtings te voorkom.”

Gawanas sê die polisie fokus nie net op die vastrek van verkeersoortreders nie, maar ook op bewusmaking.

Onder leiding van Nampol sluit die gesamentlike taakmag die NRSS, die MVAF, die RA, die Privaat Sektor Padveiligheidsforum, munisipale verkeersdepartemente van Windhoek, Walvisbaai, Swakopmund, Hentiesbaai, Keetmanshoop en Otjiwarongo, asook die ministerie van werke en vervoer in.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!