Medjools floreer op oewer van Oranje

Karas Date Farming, die ZZ2-groep se Namibiese dadelboerdery, het vanjaar meer as 400 ton Medjool-dadels op plaas Haakiesdoorn geoes.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - “Die dadelboom is ’n baie unieke plant. Ons is lief daarvoor om die gesegde te herhaal wat sê dadelbome wil met hulle kop in die hel staan en hulle voete in die hemel.

“’n Dadelboom soek nie reën nie; hy wil ’n droë klimaat hê, maar is ’n verskriklike groot verbruiker van water. Ons is in die unieke situasie dat ons ’n gemiddelde reënval van 20 mm per jaar het, maar ’n lewensaar wat konstante water voorsien. ’n Volwasse dadelboom benodig tot 1 000 liter water per dag.”

Só beskryf Bertus Venter die klimaat- en waterbehoeftes van dié kenmerke oaseplant wat nie net in die Midde-Ooste nie, maar ook langs waterbronne in die droë Suide van Namibië floreer.

Venter is die projekkoördineerder van Karas Date Farming, die dadelboerdery wat ZZ2, Suid-Afrika se tamatiekonings, op die plaas Haakiesdoorn by Ramansdrift aan die Oranjerivier bedryf. Hier word net Medjool-dadels verbou – plomp, vlesige vrug waarvan die smaak aan karamel herinner.

Haakiesdoorn is 120 km suid van Karasburg geleë waar die D208 teen die rivier doodloop.

Die ZZ2-groep word besit deur die Van Zyl-familie van Mooketsi wat meer as honderd jaar reeds voedsel verbou. “ZZ2 boer hoofsaaklik in die Limpopo-provinsie waar ons tamaties en avokado’s verbou, maar boer ook in Namibië, Wes-Kaap, Oos-Kaap, Gauteng, Noordwes-provinsie en Mpumalanga met dadels, mango’s, uie, kersies, appels, pere, steenvrugte, amandels en bloubessies,” vertel Bertus.

ZZ2 het ’n 49% aandeel in Karas Date Farming; die ander 51% behoort aan Namibiese vennote, sê hy.

Al het ZZ2 eers betreklik onlangs op die toneel gekom, is Haakiesdoorn reeds vir dekades lank bekend vir sy dadels. Die Rembrandt-groep het in 1976 by Haakiesdoorn betrokke geraak. In 1979 het hulle ’n kraglyn uit Suid-Afrika daarheen aangelê, vertel Venter, en sê Haakiesdoorn kry vandag steeds sy elektrisiteit van Eskom af.

GRENSPOS

Die Noord-Kaapse dorp Goodhouse is aan die Suid-Afrikaanse kant van die rivier geleë. Voor onafhanklikwording was daar ’n pont in gebruik en kon voertuie en vragmotors die rivier tussen Ramansdrift en Goodhouse oorsteek.

Dié staalstruktuur lê steeds op die oewer. Venter sê een van ZZ2 se doelwitte is om met die twee regerings se hulp weer ’n operasionele grenspos daar op te rig.

Hy sê van Goodhouse af is dit maar 80 km tot by Springbok. Tans moet hulle met die D208 eers weer terugry in die rigting van Karasburg tot waar die aansluiting links hulle na die Grünau-Noordoewer-pad neem. Dit is ’n draai van omtrent 160 km. En van Noordoewer tot op Springbok is dit nog sowat 120 km.

Venter sê ’n grenspos by Ramansdrift sal dit aansienlik makliker maak om hul dadels na die hawe in Kaapstad te vervoer.

DUISENDE BOME

Karas Date Farming het vanjaar meer as 400 ton dadels op Haakiesdoorn geoes. Die boerdery bestaan uit 15 744 wyfiebome op 128 ha. Dit verteenwoordig ’n plantdigtheid van 123 bome per hektaar.

Die mannetjiebome is ’n ent weg geleë en beslaan 6 ha.

Venter sê ZZ2 het sy eerste aanplantings in 2010 met suiers gedoen. Suiers is uitlopers wat onder aan die stam van ’n moederboom vorm. Dit word verwyder om ’n nuwe boom van te kweek.

Hy sê dadelbome is vir 25 tot 30 jaar lank produktief. Daarna dra hulle steeds vrugte, maar is dan so hoog dat dit moeilik isom die dadels te oes. In jaar 13 is die bome in volle produksie.

’n Groot boom kan 110 -120 kg dadels per seisoen lewer. Venter sê een tros weeg omtrent 4,5 - 5 kg.

Dadelproduksie is baie arbeidsintensief, sê Venter, en verduidelik bestuiwing word met die hand gedoen.

“Die mannetjie- en die wyfiebome blom nie op dieselfde tyd nie. Die mannetjiebome blom eerste – so teen middel-Augustus. As hulle blom, oes ons die blomme en plaas dit in ’n drom, amper soos ’n tuimeldroër wat in die rondte draai om die stuifmeel uit te skud. Ons vries dan die stuifmeel tot die wyfiebome sowat ’n maand later begin blom en gereed is om bestuif te word.”

Hy sê die stuifmeel van die mannetjiebome word met ’n reuklose poeier gemeng en op die blomme van die wyfiebome geblaas.

“Die wyfiebome is vir net agt dae lank ontvanklik vir bestuiwing. Om seker te maak hulle word bevrug, bestuif ons elke blom aan die wyfiebome drie dae ná die eerste bestuiwing weer ’n keer.

“Ons volg ook ’n sekere snoeiprotokol. As die wyfieblom uitkom, word dit tot op ’n sekere lengte teruggesny. Daarna, op ’n bepaalde stadium in die groei van die blom, dun ons die ‘vingers’ aan die blom uit en maak seker ons los net ’n sekere hoeveelheid vrugte aan elke ‘vingertjie’.”

Teen einde November is die blomsnoeiing klaar gedoen en teen Februarie is die eerste vrugte gereed om geoes te word. Oestyd duur sowat ses weke.

’n Net word voor die tyd soos ’n kous om elke tros getrek. Wanneer die vrugte begin verbruin en sag word, val dit af en lê onder in die kous. Die oesspanne beweeg deur die dadelplantasie en maak die kous aan die onderkant oop sodat die ryp vrugte in die kratte val.

Om die trosse hoog bo in die bome by te kom, word ’n hysertoestel gebruik. Die plukkers staan op ’n platvorm met “arms” wat meganies om die boom vou.

Venter sê gedurende oestyd word 110 plukkers in die plantasie gebruik, en in die pakhuis is daar meer as 180 mense wat die verskillende sorteringsprosesse en verpakking behartig.

SORTERING EN VERPAKKING

Wanneer die kratte vol dadels by die pakhuis aankom, ondergaan dit ’n voorlopige sortering om die droër, meer beskrompelde vrugte van die sappige, uitgeswelde dadels te skei.

“Die droër vrugte kry dan vog deur dit vir een tot drie dae in ’n stoomkamer te plaas, waar die temperatuur 95ºC is. Soos dit vog opneem, swel die vrugte uit en kry die vorm en tekstuur wat ons soek,” sê Willie Loots, die pakhuisbestuurder.

Hy sê wanneer die dadels uit die plantasie by die pakhuis aankom, is minder as 10% van die vrugte gereed vir verpakking.

Wanneer die dadels uiteindelik vir finale verpakking op die voerband beland, kan tot 1 ton per uur in verpak word.

Francoise Schwalb, wat betrokke is by ZZ se bemarking, sê in ’n aanlyn artikel op freshplaza.com die Medjools het ’n langer raklewe en kan dwarsdeur die jaar bemark word.

Hy sê Ramadan, wat van 12 April tot 12 Mei duur, is ’n gulde bemarkingsgeleentheid vir dadels.

“Van ons 2021 dadels sal ’n geskatte 80% deur CoreFruit na verskillende kliënte in Afrika, die Verenigde Arabiese Emirate, Asië, Europa en die Verenigde Koninkryk uitgevoer word. Die oorblywende 20% sal in kleinhandelprogramme en in die nasionale varsproduktemarkte in Suid-Afrika verkoop word in verpakkings van 150 g, 300 g, 400 g, 1 kg en 5 kg,” het hy aan freshplaza.com gesê.

Die meer as 400 ton wat Karas Date Farming vanjaar geoes het, verteenwoordig volgens Schwalb sowat 15% van die totale hoeveelheid Medjool-dadels wat in suidelike Afrika verbou word.

IN HARMONIE MET DIE NATUUR

In 2000 met die aanbreek van die 21ste eeu het die ZZ2-groep ’n boerderyfilosfie genaamd natuurboerdery ontwikkel.

Die inwerkingstelling van hierdie boerderypraktyk het sedertdien as leefwyse by al die boerderye in die groep gevestig, vertel Venter.

“Dit behels om in harmonie met die natuur te boer en die natuurlike hulpbronne soos grond so min as moontlik te versteur.

“Nie twee seisoene is dieselfde nie. Natuurboerdery maak jou boerdery meer aanpasbaar, en uiteindelik meer volhoubaar,” verduidelik hy.

“Dit fokus baie sterk op grondgesondheid. Daarom het ons wegbeweeg van kunsmatige bemesting en chemiese plaagbeheer. Ons maak gebruik van kompos en mikro-organismes om die vrugbaarheid van grond te verbeter, en gebruik gefermenteerde plantekstrak om byvoorbeeld aalwurms te bestry. Op dié wyse verklein ZZ2 sy chemiese voetspoor en die nadelige uitwerking daarvan op die omgewing.

“Ons leuse is: Gesonde kos ons belofte, gesonde grond ons passie,” voeg hy by.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!