MDC wil kiesuitslag in hof betwis
MDC wil kiesuitslag in hof betwis

MDC wil kiesuitslag in hof betwis

Luidens NewsDay was daar oproepe dat Chamisa die resultate moet aanvaar en weer in die 2023-verkiesings moet staan omdat hy nog jonk is.
Llewellyn Prince

Zimbabwe se MDC-opposisie het bevestig dat hulle ’n hofaansoek gaan indien om pres. Emmerson Mnangagwa se oorwinning in die onlangse verkiesings in dié buurland te betwis omdat hulle meen daar was bedrog, berig AFP.

Thabani Mpofu, MDC se prokureur, het luidens dié nuusagentskap Woensdag in Harare aan joernaliste gesê die verkiesingsuitslae is ’n totale ontkenning van die wil van die mense.

Dít nadat Mnangagwa, Zanu-PF-leier wat sedert Robert Mugabe se gedwonge uittrede die buurland lei, 50,8% van die stemme gekry het in die verkiesings op 30 Julie teenoor die 44,3% van Nelson Chamisa, sy naaste teenstander en leier van die MDC-alliansie.

Spanning loop sedertdien hoog in Zimbabwe omdat ondersteuners van die MDC-alliansie gewelddadig betoog het teen die beweerde bedrog van die Zimbabwiese Verkiesingskommissie (ZVK).

Die regering het teruggeslaan deur soldate in die strate van Harare te ontplooi. Sewe burgerlikes is daarna doodgeskiet.

Mpofu het luidens AFP ook gesê die verkiesingsuitslae van die ZVK sal in ’n hof betwis word. Hy kon egter nie ’n datum gee van wanneer hulle die aansoek gaan indien nie. So iets kan Mnangagwa se inhuldiging vertraag.

Ingevolge Zimbabwiese wette is die spertyd vir die indien van ’n hofsaak om die verkiesingsuitslae te betwis, vandag.

FOPNUUS

Die BBC het Woensdag ook berig dat Tendai Biti, ’n senior lid van die MDC-alliansie, Woensdag by die Zimbabwiese grens met Zambië in hegtenis geneem is.

Die polisie beskuldig hom daarvan dat hy geweld ná die onlangse verkiesings aangehits het.

Die Zimbabwiese openbare uitsaaier het Biti se inhegtenisneming egter as “fopnuus” afgemaak.

Biti, ’n voormalige minister van finansies in Zimbabwe, se prokureur het luidens die BBC bevestig hy wou na Zambië vlug om daar om asiel aansoek te doen.

Korrespondente het ook aan die Britse uitsaaier gesê die klimaat van vrees is tans so erg in Zimbabwe dat sommige opposisielede wegkruip.

Luidens die BBC was daar groot optimisme in die land dat die verkiesings ware verandering sou bring ná 37 jaar van die Mugabe-bewind.

Intussen het die Zimbabwiese The Herald Woensdag berig hoe diplomate van Afrika en die res van die ontwikkelende wêreld by State House in Harare hul steun aan Mnangagwa as die nuwe president toegesê het.

Mnangagwa het op daardie vergadering benadruk behalwe dat die verkiesings vry, regverdig en geloofwaardig was, was die strewe ook om ’n kultuur van geduld en deelnemende demokrasie in Zimbabwe te vestig.

NewsDay, ’n ander Zimbabwiese koerant, het Woensdag berig die MDC-alliansie se hofgeding sal waarskynlik Mnangagwa se inhuldiging, wat vir Sondag by die National-sportstadion beplan word, raak tensy die verkiesingshof die saak bespoedig en voor dit uitspraak gee.

Nkululeko Sibanda, Chamisa se woordvoerder, het aan dié koerant gesê hulle sal teen gister kan sê of die hofgeding begin het.

Luidens NewsDay was daar oproepe dat Chamisa die resultate moet aanvaar en weer in die 2023-verkiesings moet staan omdat hy nog jonk is.

Daar is egter gerugte dat sy teenstanders in die MDC-alliansie hulle ook gereed maak om Chamisa te verwyder as leier. Hy het dié posisie oorgeneem ná Morgan Tsvangirai, die vorige leier, se dood in Februarie vanjaar. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!