Mboma bly verstom met 200-rekord

Atletiek

09 June 2021 | Sport
Tielman van Lill – Namibië se twee sensasionale tienernaellopers bult nie net in die 400 nie, maar ook in die 200 hul spiere voor die Olim­piese Spele – soos hul briljante Europese debuut op Wêreldatletiek se reeks Maandagaand bewys het.

Christine Mboma het by die Josef Odlozi-gedenkbyeenkoms in die Juliska-stadion in Praag, Tsjeggië, haar hakke vir Gina Bass van Gambië in die 200 gewys, met Beatrice Masilingi derde.

Mboma, pas 18 en die jongste atleet in die wedloop, het Bass (22.76) en Masilingi skouspelagtig oor die laaste 30 meter ingenael en verbygesteek om haar persoonlike beste tyd te behaal en 'n nuwe byeenkomsrekord van 22.67 sekondes op te stel.

Met haar wentyd is Mboma nou vir die eerste keer ook in die 200 die Namibiese nasionale senior rekordhouer en oortref Masilingi se vorige merk van 22.72.

Masilingi (22.82), wat aanvanklik in die pylvak ook besig was om verby die 26-jarige Bass te seil, het met 50 m oor haar ritme verloor en het ondanks 'n verbete stryd die deur vir Bass oopgelaat om die tweede posisie in te palm.

Die 14-jaaroue byeenkomsrekord van 22.74 (Stephanie Durst van die VSA op 13 Junie 2007) het geval voor Mboma se skittertyd, wat met 'n wettige wind van 1.2 meter per sekonde van agter behaal is.

Praag se beskeie hoogte bo seespieël van slegs 200 meter was boonop nie besonder gunstig vir goeie naellooptye nie.

Mboma se vorige beste tyd was 22.73, wat sy onlangs in Windhoek met die senior nasionale kampioenskap behaal het.

Wat haar vertoning selfs meer merkwaardig maak, is dat sy in 'n paar vreemde spykerskoene met die verkeerde spykers die 200 moes aandurf!

Met 'n blitsige reaksietyd van 0.122 sekondes was Masilingi eerste uit die blokke, gevolg deur Jusztina Csòti van Hongarye in 0.128 en Bass (0.134). Mboma, wat in baan 5 langs Masilingi gehardloop het, was die stadigste in 0.166 sekondes.

Bass is met 22.58 sekondes die heersende 200-kampioen van Afrika. Sy het die prestasie op 30 Augustus 2019 by die Afrika-spele in Rabat, Marokko, behaal. Sy was in Rabat tweede in die 100 met 11.13.



SENUAGTIG

Mboma het aan Republikein gesê: “Ek was verskriklik senuweeagtig, want dit was my eerste wedloop oorsee. Ek was skrikkerig vir die groot name. Bass is 'n gesoute atleet, die Afrika-kampioen en was sesde in die eindwedloop van die 2019 wêreldkampioenskap.

“Toe ek na die baan gegaan het, het ek op my eie wedloop gekonsentreer en die vrese vir 'n pak slae uit my kop gesit. Ek het swak weggespring, maar ná 50 meter het ek my ritme gevind en vir myself gesê ek gaan dié wedloop wen!

“Dit was 'n wonderlike ervaring en moontlik een van my beste pogings nóg in die 200. Ek het dit geniet en wil net vir coach Henk en my agent bedank wat my aangemoedig het. Baie dankie aan al my ondersteuners vir hul boodskappe wat my aangespoor en die beste toegewens het.”

Masilingi het gesê: “Dit was vir my 'n groot eer om teen Bass te hardloop. Ek volg haar loopbaan reeds 'n geruime tyd. Die wedloop was lekker, hoewel nie waarvoor ons gehoop het nie.”

Botha sê Mboma se prestasie wys haar vordering is op die regte pad.

“Ek is geëerd en bevoorreg om Beatrice en Christine te kan afrig. Ons is in die wolke oor Christine se prestasie. Dit plaas haar internasionaal onmiddellik op 'n hoë vlak. Sy was vooraf in trane en wou nie hardloop nie. Genadiglik het sy van besluit verander en besef nou skielik dat sy waarlik in die 200 ook kompeterend kan wees.

“Die feit dat sy vir Bass van agter af verbygesnel het, onderstreep haar natuurlike talent om blitsig oor 'n kort afstand te versnel. Ons het baie aan haar selfvertroue gewerk en dit het vrugte afgewerp.

“Christine het haar beste wegspring in 'n lang tyd gehad, maar dis nie waar haar probleem lê nie. Sy versnel eers ná 'n lang ruk behoorlik – soos sy Maandagaand gedoen het. Sy het die laaste 100 meter in 10.5 sekondes afgeblits, wat absoluut fantasties vir 'n 18-jarige is.

“Haar spykerskoene het in Italië agtergebly. Ek kon toe 'n paar geleen kry wat die regte grootte is, maar dié was met spykers vir spiesgooi toegerus. Ek het gesoek, maar kon nie betyds die regte spykers opspoor nie!

“Ek sou graag wou sien dat Beatrice tweede eindig, maar ongelukkig gebeur onverwagte goed waaroor die atleet geen beheer het nie. Sy sal moontlik dié week weer in Marseille, Frankryk, in die 200 meeding, terwyl Christine dalk vir dieselfde item na Spanje mik.

“Ek bedank graag vir Atletiek Namibië, die Nasionale Namibiese Olimpiese Komitee (NNOC) asook die Janine en Suzelle Davin-sporttrust vir hul finansiële steun aan beide atlete. Daarsonder sou ons nie hier kon deelneem nie,” het Botha aan die koerant vertel.

[email protected]


FOTO
Christine Mboma tydens die 2021 Nasionale senior kampioenskap in aksie toe sy die 400 meter in 49.22 sekondes gewen het en 'n nuwe o.20-wêreldrekord behaal het. Foto Tielman van Lill

Soortgelyk

 

27 sterftes, 1 403 nuwe gevalle

31 minute gelede | Gesondheid

Die Covid-sterftes styg met 27 - tien in Windhoek, drie elk in onderskeidelik Oshakati en Onandjokwe, twee elk in onderskeidelik Okahandja, Tsumeb en Rehoboth en...

27 sterftes, 1 649 nuwe gevalle

23 ure gelede | Gesondheid

Die sterftesyfer skiet met nog 27 - nege in Rehoboth, agt in Windhoek, drie in Keetmanshoop, twee in Walvisbaai en een elk in onderskeidelik Karasburg,...

Mental well-being suits us all

2 dae gelede | Mense

DR JOHN STEYTLERMental health is a subject which we are only starting to scratch the surface of in Namibia and it is not talked about...

Diva of finesse and fitness

2 dae gelede | Mense

Jeanette DiergaardtLiezel Ndjaronguru, a 32-year-old businesswoman, allows fitness enthusiasts to bring their best attitude to the table when working out. In 2013 the owner of...

Bonifatius Kantori Paulino is the Managing Director at Alexander...

2 dae gelede | Mense

Wetumwene Shikage Since Paulino joined Alexander Forbes, he spent some time to familiarise himself with the areas of responsibility of the position of...

Streng vereistes vir gebruik van blitstoetse

2 dae gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die Namibiese Medisynebeheerraad (NMRC) het opgedateerde regulasievereistes vir die verkoop, verspreiding en gebruik van antigen-blitstoetse vrygestel.Die NMRC sê antigeen diagnostiese blitstoetse (Ag-RDT’s)...

Sterftes neem sesvoudig toe

2 dae gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die Covid-sterftes vir Namibië het bykans sesvoudig die afgelope ses maande toegeneem – vanaf 16 sterftes per week in Desember verlede jaar...

'Woestynpsalm' nou in pylvak

2 dae gelede | Byvoegsels

Bosman Films, 'n jong produksiemaatskappy in die Namibiese filmbedryf, het opgewonde aangekondig dat produksie vir hulle eerste film, Woestynpsalm, onlangs afgehandel is. Woestynpsalm is 'n...

High-flyer Samantha Geyser soared to customer service executive at...

2 dae gelede | Mense

Staff reporterSamantha Geyser dreamed of becoming a pilot when she was a young girl. She admired Amelia Earhart for her achievement of being the first...