Marokko se weerstand met 63-7 afgetakel

Met nege drieë teen een het Namibië sy aanslag op ­WB-deelname foutloos gehou.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Namibië se nasionale rugby­span onder afrigterskap van Phil Davies is sterk op pad om sy kwalifisering vir die 2019 Wêreld­beker met groot oortuiging af te handel.

Marokko was Saterdag in Casablanca die nuutste slagoffer wat die telbord op 63-7 sien vassteek het toe die eindfluitjie geblaas het – met vreemd genoeg nog vyf minute ­speeltyd op die uitsaaier se horlosie oor.

Namibië het nege puik drieë gedruk waarvan losskakel Cliven Loubser almal verdoel het. Rustyd was die telling reeds 35-0.

“Ek is baie ingenome met die ouens se ingesteldheid ná die lang reis wat ons na hierdie mooi plek onderneem het,” het Davies in sy TV-onderhoud agterna gesê.

“Ons het die eerste 25 minute ons stempel afgedruk en ons het die tempo vir 80 minute hoog gehou. Dit was 'n baie goeie spanpoging. Ons was klinies met ons skoppe pale toe, klinies in ons vaste fasette en ook op die verdediging. Ons verdediging was fantasties en het vinnig opgeskiet en het hulle oorweldig. Dit het ons momentum gegee en 'n platform om te wen.”

Die doeltreffendheid van die Namibiese duikslae was inderdaad 'n uitstaande faktor, wat die Noord-Afrikane gereeld planloos gehad en gedwing het om balbesit in die hande van gevaarlike teenaanvallers soos Lesley Klim en sy maats te skop.

Ná die Namibiërs se vroeër wegholseges teen Uganda (55-6) en Uganda (118-0) het hulle ná vyf minute in die tweede helfte teen Marokko (dus ná 205 minute) hul eerste drie in vanjaar se Rugby Afrika Gouebekerreeks afgestaan.

Marokko se drie was 'n briljante stukkie opportunisme met 'n vinnige afskop en hul linkervleuel wat onaangeraak die drie gaan druk het, met Namibië wat nog nie tot verhaal gekom het nie.

Oomblikke tevore het die Namibiese agttal met 'n kragtige skrumpoging 'n strafdrie afgedwing (hul tweede in twee naweke) en terwyl die spelers mekaar nog gelukgewens het (hoekom dan nie?), het die Marokkane kop gehou dat geen doelskop meer ná 'n strafdrie geneem word nie en het oombliklik hul skuif gemaak met 'n lang rolskop tot in die Namibiese doelgebied.

Marokko is op die telbord oorskadu, maar het met dapper spel teen die topdrie spanne in die reeks beïndruk en lyk na die gunsteling om sy posisie in die Gouebeker-afdeling te behou indien hy met Tunisië en Uganda klaarspeel.

Die gasheerspan het twee minute ná rustyd sy vaskopstut Dikhal Bilal met 'n rooi kaart verloor, omdat hy die Namibiese baldraer Ruan Ludick op gevaarlike wyse omgedop het. Ludick het op sy skouer geval en het die veld verlaat.

Volgens die reëls moes Bilal deur 'n skrumspesialis vervang word en Marokko het dus ook sy kaptein en agtsteman Arabat Hocine, een van hul staatmakers, vir die res van die wedstryd opgeoffer.



DRIEË OPGESTAPEL

Die eerste Namibiese drie deur vaskopstut Aranos Coetzee ná ses minute was 'n aanduider van wat sou kom.

Marokko is deur stewige verdediging agter die voordeellyn gestuit, totdat 'n agterspeler die bal in Lesley Klim se rigting geskop het. 'n Sterk teenaanval van dié vleuel het op Marokko se doellyn geëindig en die besit is vinnig teruggewen vir Coetzee om reguit deur pale toe te draf.

PJ van Lill se drie (9 minute) was die gevolg van 'n lynstaanbal van Tjiuee Uanivi op die halflyn, van waar Rohan Kitshoff in die middelveld sy agtsteman met 'n kort aangee deur 'n gaping gejaag het. Met Van Lill se vaart en gewig in aantog, het die heelagter voor hom besluit om eerder oor sy eie voete te struikel.

Geduld in die opbou na drieë was 'n kenmerk van die Namibiese vertoning.

Die grootte van Janco Venter het ook die Marokkane geïntimideer op pad na sy eerste drie (18 minute). Die 7-flank het 'n gedeflekteerde lynstaanbal van Ruan Ludick raakgevat en uit 'n laagvat getree, voordat hy die laaste verdediger in sy pad weggestamp het.

Linkervleuel Justin Newman het die volgende twee drieë voor rustyd gaan druk. Ná 'n lang skop deur los­skakel Cliven Loubser is Marokko se agterspelers in besit betrap en het die bal los gespat vir een van Klim se moeilike lopies. Van die volgende fase het heelagter Chrysander Botha 'n rolskop deurgestuur wat Newman onaangeraak naby die doellyn kon gaan optel.

Klim en Janco Venter het ook die bresse geslaan vir Botha om van naby die doellyn met 'n lang aangee vir Newman vir sy tweede drie (37 minute) oor te stuur.

Vier minute ná rustyd is die vernieling voortgesit met die strafdrie, danksy 'n veel sterker skrum as Marokko se sewe oorblywendes.

'n Fout in Marokko se agterlyn ná 50 minute is deur Rohan Kitshoff opgeraap, wat op 'n lopie van 35 meter weggebreek het voordat Cliven Loubser sy aangee raakgevat om los deur te draf.

'n Lang skop vorentoe deur Loubser het reg gewip vir die snel opvolgende Janco Venter om raak te vat en pale toe te storm vir die voorlaaste drie wat die vyftigtal (56-7) op die telbord geplaas het.

Die dag is afgesluit met Loubser se tweede drie nadat Darryl de la Harpe deur die gaping beweeg en hom weggestuur het.

Loubser se oes van 26 punte is sy meeste nóg in 'n toetswedstryd en oortref sy 16 in die honderdtal teen Tunisië. Die jongeling spog ná nege toetse met 92 punte.

• Net twee hekkies bly in die pad van Namibië se kwalifisering vir die 2019 Wêreldbeker in Japan.

Davies-hulle lê op 4 Augustus in Zimbabwe besoek af, voordat hulle twee naweke later in Windhoek teen Kenia afsluit. Namibië is los voor op die puntelys met die maksimum van 15 punte ná drie wedstryde.

Afrika se topkwalifiseerder sal in die 2019 Wêreldbeker in groep B teen Nieu-Seeland, Suid-Afrika, Italië en die repechage-wenner te staan kom. Kanada, Hongkong en Duitsland is drie van die beste verloorders van die kontinentale streke, wat saam met Afrika se nommer twee in uitspeelwedstryde vir laasgenoemde posisie betrokke sal wees.



KENIA BLY IN TEL

Kenia moes Saterdag eers sy tweede asem vind voordat hy Zimbabwe in Nairobi met 45-36 ondergekry het.

Die Keniane was kort voor rustyd met 33-12 in beheer ná 'n driekuns deur sy kaptein Davis Chenge, maar het lelik uitgesak toe Zimbabwe op ondernemende wyse die volgende vier drieë gedruk het om die voortou met 36-33 te neem.

Die tuisspan het die impak van sy plaasvervanger-losvoorspeler Dalmus Chituyi, met twee oordryfdrieë in die laaste vyf minute van sy debuuttoets, vir die oorwinning te danke gehad.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Leicester City 2 vs 1 West Bromwich Albion English Championship: Leicester City 2 vs 1 West Bromwich Albion Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!