Maritieme sekuriteit onder die loep

Vasteland moet saamwerk

15 May 2019 | Ministeries
Augetto Graig - Maritieme sekuriteitsbeamptes en -kenners van 25 Afrikalande besoek die hoofstad vandeesweek.

Dít vir die tweede werkwinkel oor maritieme veiligheid vir die hele Afrika, wat deur Amerika se Afrika-sentrum vir strategiese studies aangebied word.

Die werkwinkel word deur die sentrum, Amerika se departement van verdediging en die Amerikaanse ambassade in Windhoek aangebied.

By die amptelike opening van die werkwinkel Maandagoggend by die Windhoek Buitekluboord en Kasino het mnr. Peter Lord, die Amerikaanse ambassade se adjunkhoof, gesê Amerika werk al lank met Afrikalande saam om beheer oor hul seegebied te versterk.

Lord het Namibië in sy toespraak geloof.

Volgens hom is die land werklik uniek en verdien hy erkenning vir sy pogings om die Atlantiese Oseaan te beveilig, wat 1 500 km ver langs Namibië se kus strek.

“In Augustus sal die uitbreiding van die Walvisbaai-hawe voltooi wees, wat dit die grootste een tussen Kaapstad en Lagos sal maak,” het hy gesê.

Namibië kan as gevolg hiervan ’n toename in die handel in vraghouers en passasierskiptoerisme te wagte wees, het hy gesê.

“Die Walvisbaai-hawe versterk vervoer en mens-tot-mens verbindings oor die Atlantiese Oseaan en bevorder Namibië se toerismemark,” het hy gesê.

Lord het ook na Namibië se toewyding aan die beskerming van visserye en die omgewing verwys.

“Namibië is al lank bewus van die belang daarvan om behoorlik na die land se natuurlike en lewende hulpbronne om te sien, en ek hoop sy teenstand teen die onwettige handel in wild en die bekamping van onwettige, onverklaarde en ongereguleerde visvang sal ander aanmoedig,” het hy gesê.

Lord het verwys na die “blou ekonomie”, wat die volhoubare, verantwoordelike en inklusiewe gebruik van die oseaan se hulpbronne vir ekonomiese groei behels.

Volgens hom sluit dit ook groter integrasie en koördinering van marine kwessies in.

“Maritieme sekuriteit is ’n sentrale deel van die suksesvolle en volhoubare bestuur van die oseaan se hulpbronne. Smokkelary, seerowery en omgewingsmisdaad is ernstige bedreigings vir nasionale ekonomieë, die staat en geregtigheid,” het hy gesê.

“Oorgrensmisdaad maak almal seer en vereis reaksie van almal. Die Verenigde State sal hierin ’n sterk vennoot van Afrika bly,” het Lord gesê.

Mnr. Jonas Sheelongo, adjunk- uitvoerende direkteur van vervoer en werke, het by dieselfde geleentheid gesê marine sekuriteitsrisiko’s sal vir Namibië verander omdat die land vorder in sy poging om Suider-Afrika se logistieke kern te word.

Hoewel Walvisbaai en Lüderitz se ISPS(internasionale skeeps- en hawefasiliteitsekuriteit)-kode voldoende is, moet stappe gedoen word om risiko te verminder, het hy gesê.

“Ons moet as vasteland saamwerk om te verseker maritieme veiligheid en sekuriteit bly doeltreffend. Veral die bekamping van seerowery en gewapende rooftogte op see moet as groot bedreigings vir Afrika se ontwikkeling gesien word,” het hy gesê.

“Om internasionale maritieme handel in Afrika te bevorder, moet seerowery op die vasteland iets van die verlede word.”

Ander uitdagings sluit volgens Sheelongo dwelmsmokkelary, mensehandel, onwettige visvang en kubermisdaad in.

“Soos ons maritieme bedrywighede meer op tegnologie steun, neem die geleenthede vir kuberaanvalle toe. Dit bedreig maritieme infrastruktuur deur met internasionale handel en plaaslike ekonomieë in te meng,” het hy gesê.

Volgens hom moet Afrikalande saamwerk en pogings koördineer om dringend voorkeur aan maritieme veiligheid en sekuriteit te verleen.

Soortgelyk

 

'n Seder val in Swapo

9 ure gelede | Mense

Ronelle Rademeyer - Huldeblyke stroom sedert vroeg gisteroggend in die sosiale media in nadat dit bekend geword het Namibië se voormalige vise­president (2015 – 2018)...

Duitsland gee ou kruis terug

9 ure gelede | Plaaslik

Ronelle Rademeyer - Een van die belangrikste artefakte uit die glorieryke ontdekkersera van die Portugese seevaarders sal in Augustus deur die Duitse museum vir geskiedenis...

Weer vir 20 Mei 2019

9 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Koue en winderige toestande word in die Suide verwag. Die nodige voor­sorgmaatreëls moet getref word. BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm in...

Namport dank 86 werkers af

9 ure gelede | Plaaslik

Die Namibiese haweowerheid, Namport, het Vrydag aangekondig 86 werkers by die vraghouerterminaal by die Walvisbaaise hawe wat in Augustus aan 'n onwettige staking deelgeneem het,...

Speaker dring aan jeug moet by kiesproses betrek word

9 ure gelede | Politiek

Denver Kisting - Die speaker van die Nasio­nale Vergadering (NV), prof. Peter Katjavivi, sê die jeug moet by die verkiesings­proses betrek word.Die uitvoerende hoof van...

'Sam Nujoma is 'n ikoon'

9 ure gelede | Regering

Stigterspresident Sam Nujoma se 90ste verjaardagvieringe is Saterdag op Etunda in die Omusatistreek gevier en deur verskeie hooggeplaastes bygewoon. President Hage Geingob het Nujoma as...

Water: Hou rekord van elke druppel

9 ure gelede | Regering

Elvira Hattingh - Tot 90% van die water in Windhoek wat onnodig weens lekkasies of buitensporige waterverbruik verlore gaan, sou gespaar kon word indien huishoudings...

Semifinalis onttrek aan Mej. Namibië

9 ure gelede | Gebeure

Tanja Bause - 'n Semifinalis in die Mej. Namibië 2019-kompetisie, ­Michelle Pretorius, het aan die geleentheid onttrek. Volgens haar ma, me. Anke Pretorius, het Michelle...

'Millenniërs werk anders'

9 ure gelede | Ministeries

Augetto Graig - Werkloosheid onder die jeug is 'n nasionale krisis wat op alle vlakke, nie net deur die regering nie, dringend aangespreek moet word....