Maanmanie

Terugblik op reuse-ruimtesprong

19 July 2019 | Tegnologie
Die wêreld is opnuut in 'n maanmanie vasgevang.

Môre herdenk die mensdom sy reusesprong 'n halfeeu gelede toe die Eagle met Neil Armstrong en Buzz (Edwin) Aldrin aan boord by Tranquility-basis op die maan neergestryk het.

Die mensdom het op dié dag sy grootste enkele tegnologiese prestasie van alle tye behaal: Hy plaas mense vir die eerste keer op 'n ander hemelliggaam in ons sonnestelsel.

Ses ure nadat hulle geland het, kom Neil Armstrong, bevelvoerder van die sending bekend as Apollo 11, in sy beskermende ruimtepak uit die landingstuig te voorskyn.

Hy klim teen 'n leer af, tree versigtig op die maan en laat eggo sy beroemde woorde die toekoms in: “That's one small step for (a) man, one giant leap for mankind.” – Dis 'n treetjie vir ('n) mens, 'n reusesprong vir die mensdom.

Kort ná hom volg Aldrin. Saam loop die twee ruimtevaarders meer as twee uur lank op die maanoppervlak rond en bokspring selfs. Hulle versamel 21 kg maangrond, neem foto's en doen proefnemings. Hulle plant ook 'n Amerikaanse vlag op die maan en praat deur middel van satellietverbinding met die destydse Amerikaanse president, Richard M. Nixon, op die aarde.

Ná hul geskiedkundige uitstappie klim die twee weer in die maanlandingstuig, styg op en sluit hulle by die derde lid van die maansending, Michael Collins, in die wentelende beheer­module, die Columbia aan. Dit het soos 'n satelliet om die maan bly draai terwyl die ander twee hul take op die maan verrig het.

Die tuisvlug van Apollo 11 verloop sonder teenspoed. Die drie ruimtevaarders se kapsule plons op 24 Julie in die Stille Oseaan naby Hawaii neer waar hulle opgepik word. Die helde­ontvangs moes egter eers wag.

Vanweë vrese dat hulle met “lewende maanorganismes” besmet kan wees, word hulle as voorsorgmaatreël drie weke lank in kwarantyn gehou. Daar is gelukkig geen teken van só 'n besmetting nie.

Die vlug van Apollo 11 word daarna deur nog maanvlugte in Amerika se Apollo-program gevolg, en Amerika laat tussen 1969 en 1972 twaalf mense op die maan land. 'n Maankarretjie word selfs ingespan om die maanoppervlak makliker te verken.

Vandag lê hierdie ruimtepioniers se spore waarskynlik steeds op die feitlik luglose maan, waar geen wind of weer is om dit uit te wis nie. Dit is die onmiskenbare getuienis van die mens se grootste ruimte-avontuur tot dusver.

Dit sal eers oortref word die dag as die eerste mens op soortgelyke wyse sy of haar eerste tree op Mars gee.



RUIMTERESIES

Die peperduur Apollo-ruimteprogram (U$$25,4 miljard) moet beskou word teen die agtergrond van die politieke omstandighede van daardie geskiedkundige tydperk om die dryfveer daaragter te verstaan. Die Tweede Wêreldoorlog met sy 60 miljoen slagoffers was nog vars in die die mensdom se geheue en die wapenwedloop tussen Amerika en die Sowjet­unie was 'n angswekkende werklikheid.

Toe die Russe op 4 Oktober 1957 die eerste kunsmatige satelliet, Spoetnik 1, in 'n wentelbaan om die aarde plaas, was die Amerikaners vasbeslote om die Sowjetunie sy opperheerskappy oor die ruimte te ontneem. Die magsewewig moes herstel word.

Op 25 Mei 1961 het pres. John F. Kennedy van Amerika die doelwit gestel om “voor die einde van die dekade 'n man op die maan te laat land en hom veilig na die aarde terug te bring”.

In daardie stadium het net een Amerikaner al in die ruimte gevlieg en die Amerikaanse ruimte-agentskap, Nasa, het nog nie eens 'n mens in 'n wentelbaan om die aarde geplaas nie.

Om gehoor te gee aan Kennedy se uitdaging het 'n ongeëwenaarde uitbarsting van kreatiwiteit geverg, om van die koste nie eens te praat nie. Op sy hoogtepunt het die Apollo-program werk aan sowat 400 000 Amerikaners verskaf en daar is op die steun van meer as 20 000 maat­skappye en universiteite gereken.



ALDRIN KYK TERUG

Die 89-jarige Aldrin het vroeër dié week by die Ronald Reagan-biblioteek buite Los Angeles tydens 'n herdenkingsgeleentheid sy gewaarwording van die maan beskryf.

“Pragtig, pragtig! Manjifieke verlatenheid,” is wat by hom opgekom het toe hy na die landskap om hom kyk.

Hy sê die lansering het so sag verloop dat die drie van hulle onseker was presies wanneer hulle die aarde se oppervlak verlaat het.

Hy het in fyn besonderhede die naelbyt-daling van die vierbeentuigie na die stowwerige maanoppervlak beskryf, en sê Armstrong het dit veilig laat land sekondes voordat die brandstof opgeraak het.

Volgens hom was hy en sy sendingmaats so vasgevang in hul reusetaak dat hulle “vreemd genoeg verwyderd gevoel het van hierdie ­momentale gebeurtenis wat deur honderde miljoene mense regstreeks op televisie gevolg is”.

“Soms dink ek die drie van ons het die gebeurtenis gemis. Terwyl ons daar buite op die maan was, het die wêreld nader aan mekaar gegroei,” het hy volgens Reuters gesê.

Kort ná die landing het Armstrong per radio laat weet: “Houston, Tranquility-basis hier. Die Eagle het geland.”

Die twee ruimtevaarders se verligting was weder­syds. “Neil het onthou ons het hande geskud en ek onthou ek het my hand op sy skouer gesit en ons het geglimlag,” sê Aldrin.

Armstrong is op 25 Augustus 2012 in die ouderdom van 82 aan kanker dood.

“Ons staan almal op sy skouers. Hy het werklik die grense van die ruimte fisiek en intellektueel vir ons oopgemaak,” het dr. Charles Elachi, ­direkteur van Nasa se Straalaandrywings­laboratorium (JPL), ná sy dood gesê.



WAT VOLGENDE?

Nasa se tweede tog maan toe oor vyf jaar gaan deur 'n vrou aangepak word. Die beplande 2024-sending staan as Artemis gebekend. In die Griekse mitologie is sy die godin van die maan en die tweelingsuster van Apollo.

Die beplanning is om dit in twee fases uit te voer. Nasa wil die eerste keer op die maan se Suidpool land en teen 2028 wil hierdie ruimte-agentskap 'n gereelde teenwoordigheid op die maan hê.

Amerika gaan nie die reise alleen aanpak nie, maar saam met ander lande en kommersiële maatskappye. Dit sal die plan inlui om uiteindelik na Mars te reis.

Deel van die projek is 'n ruimtetuig, die Gateway, wat om die maan sal wentel om steun aan bemande en onbemande sendings na die maan te bied – amper soos 'n permanente halfwegstasie.

Bronne: Reuters/nasa.gov/Netwerk24/wikipedia.com



VERLOOP VAN DIE 196 UUR LANGE ­SENDING

16 Julie 1969 om 13:32:00 (GMT): 'n Reuse- Saturn V-vuurpyl lanseer Apollo 11 by die John F. Kennedy-ruimtesentrum in Forida, Amerika. Die lanseerder se komponente val een vir een weg om die ruimteskip eers in 'n wentelbaan om die aarde te plaas en toe, ná een en 'n halwe omwenteling, weg te stuur maan toe.

Die span bestaan uit Neil Armstrong, die ­bevelvoerder, Michael Collins en Buzz (Edwin) Aldrin. Collins vlieg die beheer­module, Columbia, wat alleen om die maan bly wentel ten tyde van die landing. Armstrong en Aldrin daal in die maanlandings­tuig, die Eagle, af maan toe.



19 Julie om 17:21:50: Hulle gaan in 'n wentelbaan om die maan en sowat 25 uur later (20 Julie om 18:12:01) skei die Columbia en Eagle.



20 Julie om 20:17:39: Die Eagle land by Tranquility-basis (na die Sea of Tranquility, oftewel See van Kalmte genoem). Alles het nie verloop soos beplan nie. Toe hulle sowat 150 m bokant die oppervlak is, vind Armstrong en Aldrin die beplande landingsplek is nie die oop vlakte soos hulle gedink het nie, maar in der waarheid 'n groot krater met rotse rondom. Armstrong is genoodsaak om die tuig na 'n meer geskikte plek te stuur terwyl die brandstof vir die landing min raak. Hy land met net genoeg brandstof oor om 30 sekondes verder te vlieg.



21 Julie om 02:39:33: Ses en 'n halwe uur nadat hulle geland het, klim Armstrong met die leer van die landingstuig af en trap op die maan. 'n Gemonteerde TV-kamera, wat outomaties begin werk toe Armstrong aan 'n spesiale ring trek, lê die geskiedkundige gebeurtenis vas. Hy sê sy beroemde woorde: “That's one small step for man, one giant leap for mankind.” (Dis 'n klein treetjie vir ['n] mens, maar 'n reusesprong vir die mensdom.)

Aldrin klim ná hom uit.



21 Julie om 17:54:00: Ná 22 uur op die maan keer die tuig na die Columbia terug. Hulle meer om 21:35:00 vas.



24 Julie om 16:50:35: Ná 8 dae, 3 uur en 18 minute plons die beheermodule van Apollo 11 in die Stille Oseaan 'n ent van Hawaii af neer. Dit word opgepik en aan boord die skip USS Hornet gehys.

Die ruimtevaarders dra isolerende oorpakke en word vir drie weke in 'n mobiele kwarantynfasiliteit geïsoleer vanweë vrees dat hulle kieme van die maan af aamgebring het waarteen aardbewoners geen immuniteit sou hê nie.

Soortgelyk

 

KOLLIG Voorblad

1 dag gelede | Byvoegsels

Swakop hou Makietie bl. 4

ECN gaan Itula se aansoek teenstaan

1 dag gelede | Politiek

Denver Kisting – Vanweë die beweerde negatiewe uitwerking van elektroniese stemtoestelle (EVM’s) in die afgelope presidensiële verkiesing moet die proses tersyde gestel word.Dr. Panduleni Itula,...

Ekonomie bloei lánkal

1 dag gelede | Plaaslik

Jo-Maré Duddy – Ekonomiese groei het reeds in 2015 skerp begin tuimel sonder dat dit deur amptelike syfers weerspieël is, toon nuwe data wat gister...

NOU AAN DIE GANG

1 dag gelede | Byvoegsels

» Die Swakopmund Wetenskaplike Vereniging bied tans ‘n Kersfees-skattejag by die Swakopmund Museum aan. Dit bestaan uit twee afdelings, een vir kinders en een vir...

Geskorste raadslede van Rehoboth herkies

1 dag gelede | Regering

Denver Kisting op Rehoboth – Dieselfde span raadslede wat verlede jaar deur dr. Peya Mushelenga, die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, in die pad...

Weer vir 13 Desember 2019

1 dag gelede | Weer

BINNELAND: Mooi weer en baie tot bloedig warm in die Suide. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm wees. Winderige weer sal...

STEMFEITE: NAM & SA 2019

1 dag gelede | Politiek

In Namibië het Swapo persentasiegewys meer steun ingeboet as die ANC in Suid-Afrika.

NamibRe: Versekeraars moet 12,5% sedeer

1 dag gelede | Howe

Elvira Hattingh Plaaslike versekeringsmaatskappye móét voorts vir herverseke­ring by NamibRe opdok - tot tyd en wyl daar in 'n hangende hofsaak oor die wettigheid van...

CoW baklei teen beslaglegging

1 dag gelede | Regering

Denver Kisting – Die Windhoekse munisipaliteit (CoW) baklei tans verbete teen ’n beweerde beslagleggingsbevel wat poog om van hul vaste bates te konfiskeer.Veertien superintendente verbonde...