Maak só 'n sukses van jou geldsake in 2017

'n Begroting is uiters noodsaaklik

04 January 2017 | Ekonomie
Hanlie Stadler



Jou Nuwejaarsvoornemens is almal gedoem indien jy nie slim doelwitte stel wat rea­listies en meetbaar is nie.

As dit by jou geldsake kom, sê Preenay Sathu van FNB 'n goeie eerste stap is om 'n bietjie te besin oor wat jy in 2016 reg of verkeerd gedoen het. Dink mooi oor die foute wat jy gemaak het of oor die gapings in jou beplanning voordat jy finansiële doelwitte vir die nuwe jaar opstel.

“Dissipline met dié proses is baie belangrik.”

Sathu sê ook: “Wees realisties met jou finansiële­ doelwitte, want daar is baie uitwendige magte in die breë ekonomiese omgewing wat 'n impak op jou geldsake kan hê.”

Hier is 12 punte wat jou kan help.



1. Jy móét 'n begroting hê - 'n streng een

“As jy nie weet waarop jy jou geld bestee nie, sal jy nie weet waar jy 'verlore' kontant kan opspoor nie,” sê Rita Cool, 'n gesertifiseerde finansiële beplanner van Alexander Forbes. “As jy weet waarheen jou geld gaan, kan jy besluit hoe en waar jy kan spaar.”

Hou egter een van die beste aanhalings nóg oor begrotings in gedagte – dié van Dave Ramsey, skrywer van The Total Money Makeover: A Proven Plan for Financial Fitness: “'n Begroting is waar jy vir jou geld sê waarheen om te gaan, pleks van wonder waarheen dit is.”

Jou begroting weerspieël meer as net syfertjies – dit toon die waarde wat jy aan dinge heg. As jy in jou begroting voorkeur gee aan geld vir betaaltelevisie, uiteet en 'n nuwe motor, sal daar dalk nie genoeg geld wees om ook te spaar nie. Maak dus seker jy begin by die heel belangrikste goed wanneer jy jou begroting opstel.

Sathu sê jy sal jou bestedingsgewoontes móét verander as jy ander resultate wil sien as in die jaar wat verby is. Dit kan beteken jy moet 'n kleiner motor koop sodat jy meer geld vir jou aftrede kan spaar of bloot net meer konsekwent jou klein daaglikse uitgawes neerskryf sodat jy weet waarheen jou geld gaan.



2. Maak skoon!

Om kaste en die motorhuis skoon te maak, is nie net bevrydend nie, dit kan ook vir jou geld inbring. Verkoop items wat jy nie meer gebruik nie deur Gumtree of OLX of by Cash Converters.

Daarby sal jy weet hoeveel pare swart skoene of wit hemde jy in jou kas het en dalk nie so maklik nóg 'n nuwe paar aanskaf nie.



3. Maak reg... of koop tweedehands

Kom weg van die ingesteldheid dat iets wat stukkend is, dadelik met iets nuuts vervang moet word. Daar is baie ondernemings wat puik werk doen om wasmasjiene, yskaste en slimfone reg te maak teen 'n fraksie van wat 'n nuwe toestel jou sal kos.

As jy iets nuuts wil aanskaf – soos gholfstokke of 'n bergfiets vir daardie ander Nuwejaarsvoornemens van jou – maak seker jy kan dit nie tweedehands vir 'n fraksie van die prys koop nie.

Jul gesin kan julle voorneem om in 2017 tweedehandse geskenke uit te soek vir verjaarsdae – daar is byvoorbeeld baie rekenaarspeletjies by Cash Converters wat verkoop word omdat mense klaar gespeel is daarmee.

Hoe groter die item, hoe groter die besparing as jy tweedehands koop. Jy het nie régtig 'n nuwe motor elke vyf jaar nodig nie. As jou motor op die koffie is, oorweeg dit om gebruik eerder as nuut te koop.



4. Sny vermorsing uit

Maak 2017 die jaar waarin jy nêrens geld bestee op iets wat jy nie gebruik nie. Moenie kos koop wat in jou yskas verrot nie – beplan eenvoudig beter.

Moenie betaal vir lidmaatskappe (gimnasium, dalk?) wat jy nie benut of vir tydskrifte wat jy nie lees nie.

Op dieselfde trant, moenie meer betaal vir voordele wat jy nie benut nie. As jy nie jou selfoonkontrak ten volle benut nie, slaan oor na 'n goedkoper kontrak met minder fieterjasies of slaan oor na 'n voorafbetaalde opsie sonder 'n kontrak.

Cool beveel ook aan jy gaan jou bankgelde na. Betaal jy vir dienste wat jy nie gebruik nie? Het jou bank 'n beter pakket – of is dit dalk tyd om van bank te verander? Moenie geld by ander banke se kitsbanke trek nie; moenie kontant uit jou kredietkaart onttrek nie (jy betaal rente op daardie geld vanaf die oomblik dat jy dit onttrek).



5. Spaar en betaal kontant

Een van die beste maniere om geld te bespaar, is om kontant te koop. Artikels wat jy afbetaal – hetsy deur huurkoop of op jou kredietkaart – kos tot 20% duurder weens die finansierings-, administrasie en rentekoste wat bygereken word.

Sou jy daardie “winskopie” gekoop het as dit 20% duurder was? vra Cool.

As jy jouself dwing om eers te spaar, sal jy dalk ook agterkom dat jy iets nie régtig so nodig het soos wat jy gedink het nie.



6. Wees eerlik met jouself

Baie is al geskryf oor “moet hê” teenoor “wil hê”. Ek verstout my om te sê die meeste van ons wil 'n nuwe motor ry omdat dit ons beter oor onsself laat voel as wat ons in 'n ou skedonk sou voel. Dit het niks daarmee te doen dat die skedonk ons ook van punt A tot punt B – die eintlike doelwit van 'n motor – sal kry nie (wel, meestal...).

Cool sê dit help nie jy ry 'n deftige kar, maar het geen spaargeld vir die toekoms nie. Voorkoms is beslis nie alles nie.



7. Wees slimmer as die bemarkers

Wees slim as jy inkopies doen sodat jy nie in die gewone slaggate val waarmee winkels jou probeer oortuig om meer te bestee nie.

Dit sluit basiese beginsels in, soos dat jy niks – regtig niks! – koop wat nie op jou inkopielysie is nie.

Gebruik jou lojaliteitskaarte slim. Moenie meer goed in jou mandjie laai bloot omdat dit meer punte beteken nie.

Kyk rond vir winskopies, maar moenie van Caledon tot in die Kaap ry daarvoor nie – die petrolgeld wis dalk die afslag af. “Koop items met 'n lang raklewe wanneer dit uitverkoop word,” sê Cool.

Toiletpapier en waspoeier verval nie, maar om 'n 10 kg-sak aartappels te koop omdat dit goedkoop is, maak geen sin as die helfte daarvan gaan verrot voordat jy dit gebruik nie.

Bereken altyd die prys per toiletrol/kilogram/liter sodat jy produkte met mekaar kan vergelyk en regtig weet wanneer iets goedkoper as gewoonlik is.



8. Ry soos jou ouma

Bestuur teen die spoedperk. “Dit spaar petrol, boetes, jou motor – en dalk selfs jou lewe,” sê Cool.



9. Gaan jou versekering na

Cool sê jy moet seker maak jou dekking is reg. Nuwe items wat jy gekoop het, soos nuwe meubels, kan die waarde van jou huisinhoud verhoog. Aan die ander kant het jy dalk iets verkoop.

“Maak seker jy is nie onder- of oorverseker nie en dat jou premie markverwant is,” sê Cool. “Die goedkoopste premie is nie altyd die beste nie – wees bewus van uitsluitings en bybetalings en maak seker jy kan wel die bybetaling bekostig as jy moet eis.”



10. Pak jou skuld

Dis maklik om oorweldig te voel as jy diep in die skuld is, maar Sathu sê jy kan stap vir stap jou probleme uitsorteer. Stap een is om geen verdere skuld aan te gaan nie!

Baie mense konsolideer hul skuld, byvoorbeeld deur beleggings te verkoop of geld uit hul huisverband te gebruik – maar as jy dit doen en nie terselfdertyd jou leefstyl verander nie, gaan jy net wéér skuld maak én boonop sit sonder 'n neseier en/of meer skuld op jou huislening.

Cool sê die konsolidering van skuld beteken dalk 'n laer rentekoers, maar jy betaal die geld dalk oor 'n langer tydperk af, so die totale rente is hoër.

“As jy skuldprobleme het, stel vir jou 'n afbetalingsplan op met datums en doelwitte om jou skuld bietjie vir bietjie te verminder. Moenie moed verloor nie!”



11. Hersien jou beleggings

Sathu sê dis 'n goeie plan om aan die begin van die jaar bestek op te neem van jou beleggings. Het jy 'n goeie mengsel van bateklasse wat help dat jou inkomste groei en wat jou kapitaal beskerm?

“Enige aanpassings moet gedoen word gegrond op jou risiko-aptyt en langtermyn-beleggingshorison. Diversifikasie bly die sleutel.”

Sathu sê jy moet 'n balans van aandele, effekte, kontant en eiendom hê, waarvan die samestelling wissel volgens jou persoonlike omstandighede.

“Moet egter nie korttermyn-markskokke as rede gebruik om jou portefeulje te hersien wat dan 'n langdurige uitwerking kan hê nie. Dis 'n taak wat ten beste met behulp van 'n gekwalifiseerde finansiële adviseur gedoen moet word.”



12. Kyk verder as 2017

Ongeag of dit nog 30 jaar in die toekoms lê of net vyf jaar, dis 'n goeie idee om bestek op te neem van jou aftreebeplanning.

Vra jouself af:

• Dra jy genoeg by tot jou aftreefonds en ander aftreespaargeld?

• Het jou omstandighede verander sedert jou aftreeplan die eerste keer opgestel is?

• Benut jy al die belastingvoordele wat die staat jou bied vir jou aftreegeld? Jy kan tot 27,5% van jou inkomste belastingvry in aftreeprodukte (dus jou pensioenfonds en uittree-annuïteite) spaar en jy kan nog R30 000 per jaar in belastingvrye spaarprodukte belê.

Hersien sommer aan die begin van die jaar jou testament, maar ook enige tyd deur die loop van die jaar indien jou omstandighede verander (jy trou of skei, 'n erfgenaam sterf of jy nog 'n kind kry).

“Dis belangrik om te onthou dat 'n boedel wat goed beplan en deur jou testament geartikuleer is, vinniger afgehandel kan word en nie onderhewig is aan onnodige vertragings nie,” sê Sathu.

- Netwerk24

Soortgelyk

 

Trump laat Amerika bloos oor 'Nambia"

8 ure gelede | Internasionaal

Pres. Donald Trump van Amerika het gister tydens ‘n vergadering met Afrikaleiers in New York na Namibië as “Nambia” verwys.Tydens die ontmoeting het Trump gesê:...

Ysterertsmyn dalk op Windhoek se voorstoep

18 ure gelede | Plaaslik

Ronelle Rademeyer - Gemeenskapsvergaderings word vandag by Neudamm en in Windhoek gehou vir insette oor die impak wat die beplande ysterertsmyn 50 km oos van...

Droogtenood in Suide al groter

18 ure gelede | Omgewing

Ronelle Rademeyer 'n Projek, onder aanvoering van die Keetmanshoop Streekslandbou-unie (SLU), is tans werksaam om dringend voer vir vee op meer as 50 plase in...

wenfoto by Hakos gekiek

18 ure gelede | Omgewing

Die wenner van die Insight Sterrekunde Fotograaf van die Jaar-kompetisie het sy foto in Namibië geneem. Die Rus Artem Mironov is vanjaar se algehele wenner­...

Nuwe stelsel veroorsaak chaos by lughawe

18 ure gelede | Plaaslik

Catherine Sasman Die ministerie van binnelandse sake en immigrasie sê dit het 'n korttermyn­oplossing gevind om die chaotiese­ vertragings by die Internasio­nale Lughawe Hosea Kutako...

Weer vir 21 September

18 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm. Winderige toestande word in die Noorde en oor die sentrale hoëgrond verwag. KUS: Gedeeltelik bewolk en matig...

'Noord-Amerikaners wil Namibië besoek'

18 ure gelede | Toerisme

Namibië is 'n toeristebestemming wat Noord-Amerikaners graag wil besoek.Só sê die besturende direkteur van Namibia Wildlife Resorts (NWR), me. Zelna Hengari, wat saam met die...

Tienermeisie steek baba glo in tas weg

18 ure gelede | Misdaad

Twee vroue, van wie een 'n skoolmeisie is, is Dinsdag in verband met die verberging van 'n geboorte in hegtenis geneem.OMUTELEVolgens die Namibiese polisie se...

Goeie nuus vir sekuriteitswagte

18 ure gelede | Arbeid

Augetto Graig - Die ministerie van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping het aangekondig sekuriteitswagte in Namibië moet van verlede Vrydag (15 September) af ten minste N$8,75...