Ma verpletter ná dogter se dood
Die oorledene laat drie seuntjies en haar moeder agter, wat finansieel van haar afhanklik was.
Maria Eiseb - “My dogter lê met borste vol melk terwyl haar eenjarige baba met droë lippies hier rondkruip.”
Só het me. |Gurihâs Lucia Pietersen (60), ma van die oorlede me. Theresia Kuna Pietersen (32) gister haar lot bekla.
Kuna, soos haar geliefdes haar genoem het, se liggaam is Dinsdagoggend in ’n rivierbedding in die hoofstad gevind.
Pietersen het gesê sy het haar kind altyd gewaarsku om versigtig te wees wanneer sy uitgegaan het. Sy het haar die betrokke aand voor haar dogter se liggaam ontdek is, weer gewaarsku hoe gevaarlik dit is vir vroue om snags uit te gaan.
Volgens Pietersen het Kuna na bewering ’n man by ’n nagklub in die hoofstad ontmoet terwyl sy saam met haar vriendin uit was.
Volgens Moedie, Kuna se ouer suster, is Kuna later saam met die man weg, hoewel hulle nie in ’n verhouding was nie.
“Omstreeks 00:30 het my kind my gebel, maar sy het nie soos haarself geklink nie. Ek wou weet wat fout was,” het Pietersen gesê.
“Sy het my nie geantwoord nie, maar het gevra ek moet vir haar die nommer van ’n vriendin stuur. As sy my net gebel en gesê het, sou ek haar self gaan haal het,” het die verpletterde ma gesê.
Volgens Pietersen was Kuna baie lief vir haar en het sy haar met respek behandel.
“Sy het my tot die dood toe gerespekteer. Sy wou nie hê enigiemand moet met my mors nie. Sy het selfs haar broers op hul plek gesit as hulle met my aangaan,” het Pietersen gesê.
“Daardie man het ’n groot ding aan my gedoen. Hy het my hart uit my liggaam uit geruk.”
Kuna was haar lieflingkind, het sy gesê.
Pietersen vertel hoe haar dogter ’n spesiale ete vir haar verjaardag gereël het toe sy (Pietersen) siek was en nie seker was of sy sou oorleef nie.
Pietersen het gesê sy wens die verdagte “kom maak my en Kuna se drie kleintjies ook maar dood”.
“Ek weet nie wat ek van my kind se dood moet sê nie, ek aanvaar my kind se dood, maar die grootste seer is die manier hoe hy haar doodgemaak het. Dit sal ek nie aanvaar nie,” het sy gesê.
“Die man het my lewe weggevat, ek weet my kind sal nie terugkom nie. Soos ek hier is, het ek nie eers ’n rand in die bank op my naam nie. Ek sal maar elke maand moet spaar, al begrawe ek my kind eers Desembermaand.”
Me. Fransina |Gôagoses, ’n vriendin van Kuna, wil weet hoekom sy so wreed vermoor is.
“Kuna was ’n vriendelike en lieflike mens, wat het hom besiel?” het sy gevra.
Kuna laat drie seuntjies van een, twee en agt agter.
Verdagte verskyn in hof
Mnr. Dinyando Tuhemwe (32) het gister vlugtig vir die eerste keer in die Windhoekse landroshof verskyn op aanklag van Pietersen se moord en verkragting.
Tydens die verskyning is die beskuldigde van sy reg op regsverteenwoordiging ingelig.
Tuhemwe het gesê hy sal homself verteenwoordig.
Landdros Celma Amadhila het aan die verdagte verduidelik hy het die reg om aansoek vir borgtog te doen.
Die saak is tot 19 April uitgestel om ’n datum vir ’n borgtogverhoor vas te stel en is vir verdere ondersoek tot 23 Julie uitgestel.
Me. Selma Nakwaya het die staat tydens gister se hofverskyning verteenwoordig.
Die beskuldigde bly in aanhouding.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie