Lubowski ‘krabbel terug’

Weduwee mik vir verskoning

25 June 2019 | Regering
Denver Kisting – Mnr. Sisa Namandje, pres. Hage Geingob se prokureur, sê me. Gabrielle Lubowski skrabbel terug nadat sy vroeër die staatshoof glo valslik beskuldig het.

Lubowski, weduwee van die Swapo-veteraan adv. Anton Lubowski, het gister in ’n brief gesê haar bedoeling was nooit om Geingob skade te berokken nie.

Maar, sê Namandje, dié poging is nie goed genoeg nie. “Ons dring aan op ’n onvoorwaardelike verskoning en herroeping.”

Sou dit nie gebeur nie, sien hulle haar in die hof, waarsku hy.

In haar eenbladsyrepliek skryf me. Lubowski sy het inderdaad die gewraakte ope brief aan Geingob geskryf. Maar, sê sy, die gelekte dokument was ’n konsepweergawe wat sy met ’n klein groepie mense gedeel het om ’n ogie daaroor te gooi.

Dit was volgens haar nog nie afgerond vir die breër publiek nie. “Ek het in geen stadium bedoel om dr. Geingob te beskuldig of te belaster nie,” sê sy gister.

Lubowski sê haar aanvanklike brief het ten doel gehad om uiting te gee aan haar frustrasies oor verskeie onsuksesvolle pogings oor drie dekades om ’n gesprek met Geingob te hê.

Hoewel sy in haar ope brief aanvoer die president was die laaste mens wat voor haar man se dood met hom gepraat het, beweer sy in gister se brief Geingob was “een van die laaste” mense met wie hy gepraat het op 12 September 1989.

Hy het ure later in ’n sluipmoordaanval voor sy huis gesterf.

Volgens haar hoop sy ’n ontmoeting met Geingob sal haar help met afsluiting – “beide as ’n weduwee en as iemand wat antwoorde en geregtigheid soek”.

Toe sy besef ’n vergadering met die president sal waarskynlik nooit gebeur nie, het sy haar tot ’n brief gewend, sê Lubowski in gister se antwoord.

Namandje het haar tot gister kans gegee om haar ope brief terug te trek en onvoorwaardelik om verskoning te vra of om weens naamskending voor die hof gedaag te word.

Lubowski sê sy hoop die inhoud van die gesprek tussen haar man en die president kan lig op sy dood help werp. Daarnaas bly sy teleurgesteld oor die gebrek aan aandag wat Swapo ná onafhanklikheid aan die oplos van die aktivis se moord geskenk het.

Sy sê sy is dankbaar teenoor Geingob omdat haar man uiteindelik by Heldeakker herbegrawe is.

“Ons deel die verlies en ek glo ons sal albei baat vind by die geleentheid om my vrae en kommer ter ruste te lê.”

Sy sê sy is meer as bereid om verskoning te vra vir enigiets in haar konsepbrief wat vanweë waninterpretasie gesien is as ’n poging om Geingob te beswadder.

Oor die egtheid van haar jongste skrywe wou me. Lubowski nog nie kommentaar lewer nie.

Soortgelyk

 

Laat koppe rol - Jooste, SPYL

8 ure gelede | Politiek

Catherine Sasman - Stemme uit die regerende party dring toenemend aan dat diegene wat beskuldig word van korrupsie onder sy geledere verwyder word.Nadat die beleërde...

Gertze skiet glo vrou

8 ure gelede | Misdaad

Henriette Lamprecht – Die uitvoerende hoof van die Namibiese Kwalifikasieowerheid (NQA) het die naweek agter tralies deurgebring nadat hy na bewering sy vrou Saterdag in...

Namibiërs betoog oor korrupsie

8 ure gelede | Plaaslik

Tanja Bause - Meer as 200 mense van alle rasse en ouderdomme het Vrydag deelgeneem aan ’n teenkorrupsie-optog in Windhoek wat deur aktiviste gereël is....

VERKIESINGS 2019: PRESIDENSIËLE KANDIDATE

8 ure gelede | Politiek

McHenry VenaaniPopular Democratic Movement (PDM)McHenry Venaani is die leier van die amptelike opposisie en het in 2014 as mees suksesvolle opposisiekandidat 44 271 stemme (sowat...

Weer vir 18 November

8 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm met 'n paar donderbuie oor die verre Noordooste, andersins gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm. Winderige...

Buitelandse mediese studente: Eksamen nietig verklaar

8 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die jongste pre-internskapevaluering van 297 studente wat medies in die buiteland studeer het, is nietig verklaar. Die evaluering is op 27 September...

Passasiers gestrand ná Frankfurt-botsing

8 ure gelede | Vervoer

Ronelle Rademeyer - Dit is in hierdie stadium nie bekend wanneer Air Namibia se vlugte tussen Frankfurt in Duitsland en Windhoek sal hervat nie.Dit volg...

Die kwaliteit van verkiesings

8 ure gelede | Politiek

Christie Keulder – Gereëlde vry en regverdige verkiesings is die rugraat van enige demokrasie.Die kwaliteit van verkiesings is daarom onontbeerlik vir die konsolidering van nuwe...

VERKIESINGS 2019: Regeringstrukture en die staatsdiens

8 ure gelede | Politiek

Die reeks neem politieke partye se manifeste oor sleutelkwessies in oënskou.ALL PEOPLE’S PARTY (APP)• Sny die uitspattige salarisse van openbare ondernemings (SOE’s) se direksie, uitvoerende...