LPO sê nié nee vir buffelboerdery

Die vestiging van kommersiële buffelboerderye word onderhewig aan waarborge ondersoek.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) is nié langer teen kommersiële buffelboerderye gekant nie, mits dit nie Namibië se dieregesondheidstatus raak nie.

“Indien kommersiële buffelboerderye toegelaat word, gaan ons daarop aandring dat die Europese Unie sy stempel van goedkeuring gee. Dit is ons belangrikste handelsvennoot, wat die vereistes en standaard-bedryfsprosedures (SOP’s) stel,” het mnr. Thinus Pretorius tydens die afgelope 56ste LPO-kongres gesê.

Pretorius is tydens die geleentheid as die nuwe LPO-voorsitter verkies.

“Die LPO vereis verder ‘n waarborg dat betrokke instansies beheer oor die beweging van wild, wat wildsmokkelary mag insluit, sal en kan uitoefen.”

Pretorius sê die besluit kom nadat ‘n plaaslike lodge die staat hof toe sleep vir goedkeuring om ‘n kommersiële buffelboerdery suid van die veterinêre kordonheining te begin. “Die minister van die omgewing en toerisme, Pohamba Shifeta, het intussen sy steun vir die kommersialisering van buffels gegee.

“‘n Sekere landbousegment wil buffelboerderye wat goed georganiseerd en kapitaalkragtig is, in Namibië vestig.

“Daar is druk op die LPO om wildprodusente as lede te aanvaar - en met reg,” het Pretorius gesê. Hy het bygevoeg dit mag in die toekoms buffelprodusente insluit. “Daarom kan ons ook nie summier nee vir buffelboerderye sê nie.”

Pretorius sê die LPO se sterkste verantwoordelikheid bly die handhawing van Namibië se dieregesondheidstatus, wat beteken Namibië kan beesvleis na internasionale markte in onder meer Europa uitvoer.

“Ons moet toesien dat elke LPO-lid sake in die land kan doen - sonder ‘n beletsel deur ‘n ander bedryf.”

MOONTLIKHEDE VIR BUFFELBOERDERYE

Pretorius sê intussen het die LPO se uitvoerende raad moontlikhede vir slimvennootskappe ondersoek in ‘n poging om ‘n fasiliterende rol tussen die wildbedryf en lewendehawe produsente te speel.

“Ons het ‘n jaar gelede binne die LPO reeds moontlikhede begin ondersoek vir siektevrye buffelboerderye op die wildplase wat suid van die veterinêre kordonheining in die buffersone lê. Moontlikhede hiervoor bestaan dalk teenaan die Kavango-Wesstreek,” het Pretorius gesê.

“‘n Jagter uit Oostenryk gee nie om of hy ‘n buffel in sentrale Namibië of byvoorbeeld in die Mangetti skiet nie.”

Pretorius het weer eens verduidelik hoekom Namibië se bek-en-klouseervrye status kardinaal vir plaaslike beesvleis se uitvoere na internasionale markte is, en verwys na ‘n dokument hieroor wat die Vleisraad saamgestel het.

WATERBERG-PLATOPARK

Pretorius sê die afgelope jaar het geen buffels uit die Waterberg-platopark gebreek nie omdat hulle goeie reën gehad het.

“Buffelgetalle in die park is wel steeds kommerwekkend hoog. Daar is onlangs 200 van die buffels na Zambië uitgevoer en tans staan ‘n 100 buffels in kwarantyn. Hulle vorm deel van nog ‘n besending van 200 buffels wat uitgevoer sal word.”

Pretorius sê ander spesies in die park is ook uitgedun en ‘n tender is toegeken vir die elektrifisering van die park se noordelike wildwerende heining.

Hy sê die staatsplaas 963, wat aan die park grens en waar buffels dikwels uitgebreek het, behoort binnekort as ‘n nasionale park herregistreer te word.

“Dit beteken as die buffels hierheen uitbreek, sal aangrensende kommersiële plase nie onder kwarantyn geplaas hoef te word nie,” het hy gesê. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Southampton 3 vs 0 Preston North End English Championship: Southampton 3 vs 0 Preston North End Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 26km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:25, High tide: 13:40, Low Tide: 19:24, High tide: 01:48 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:38, Low Tide: 19:22, High tide: 01:46 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 36km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:37, Low Tide: 19:22, High tide: 01:45 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!