Lorrie se remme onklaar, vier sterf
Tammy Kleinhans - 'n Vrou en drie kinders het omgekom nadat 'n swaarvoertuig agteruit gerol en 'n bakkie getref het. Die voorval het Vrydag omstreeks 14:00 by Epukiro Pos 3 in die Omahekestreek plaasgevind.
Die swaarvoertuig was besig om teen 'n bult op te ry toe die ratte gebreek het. Die bestuurder het vergeefs probeer om rem trap en die swaarvoertuig het toe agteruit beweeg en die bakkie getref.
Vier insittendes van die bakkie het gesterf, naamlik me. Yvonne Kahevita (27) en drie kinders, die meisie Uvatera Kaunatjika (15) en seuns Mbamuno-Ndjamo Kahevita (5) en die eenjarige Pume Kavari. Nog vier insittendes van die bakkie het ligte beserings opgedoen. Die bestuurder van die swaarvoertuig en sy passasier het ongedeerd van die ongeluk afgekom.
Vrydag omstreeks 15:30 was 'n bus en 'n voertuig in 'n ongeluk op die westelike verbypas in die hoofstad betrokke. Sowat 200 meter van die brug by Concordia Kollege het 'n voertuig oor nat graan gery en gegly. Die voertuig het in die baan van 'n aankomende munisipale bus tot stilstand gekom. Die bus het na die regterbaan oorbeweeg om 'n botsing te vermy, maar het ook oor die nat graan gery en die bestuurder het beheer verloor.
Die bus het gevolglik die kant van die brug getref en op sy regterkant beland. In die bus was 70 passasiers van wie sommige ernstige beserings opgedoen het. Die nat graan is later deur munisipale nooddienswerkers opgeruim.
Mnr. Petrus Lambert (41) het op slag gesterf nadat die motor waarin hy 'n insittende was, 'n koedoe gestamp het. Die voorval het omstreeks 19:00 Vrydag sowat 10 km buite Otjiwarongo op die pad na Kalkfeld plaasgevind. Die bestuurder het van die toneel gevlug.
Saterdag omstreeks 22:40 het mnr. Robert Horaseb (23) by die Total-petrolstasie op Outjo beheer verloor oor die voertuig wat hy bestuur het en in 'n boom vasgery. Die voertuig het omgeslaan en Horaseb is in die staatshospitaal op Outjo opgeneem, maar hy is later na Windhoek oorgeplaas. Hy is met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar.
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie