Lindie se lewe op Outjo gevier

Namibiërs het die afgelope naweek opnuut hul stem oor die hoë voorkoms van geslagsgeweld dik gemaak.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - “Sy was so ’n goeie mens dat sy selfs in haar vyand nie ’n vyand gesien het nie.”

Só het past. Albert /Aib Vrydag op Outjo hulde aan die minsame me. Lindie Prinsloo (39) gebring.

Sy is Vrydagoggend uit ’n stampvol NG kerk op haar tuisdorp deur ds. Lukas Coetzer begrawe.

“Elke denkbare sitplek was beset – selfs die moederskamer, koffiehoekie, die trappe en elke los stoel,” vertel me. Tanja Praetorius van Outjo.

Sy sê ondanks die rou en hartseer oor Prinsloo se skokdood was die diens en huldeblyke ’n kleurvolle viering van haar lewe.

“Aanhalings uit ’n dagboek van Lindie wat voorgelees is, getuig van haar intieme verhouding met en afhanklikheid van God,” vertel Praetorius.

Ds. Coetzer se boodskap uit Jesaja 61:10-11 was dan ook een van blydskap in die Here, sê sy.

“Gemeenskapsleiers, vriende en kennisse het getuig hoe sy hul lewens aangeraak het met haar liefde, asook van haar passie vir diere en hul beskerming.”

Prinsloo is die week vantevore deur haar gewese kêrel, mnr. Ivan Pitt (29), in haar huis op Swakopmund vermoor. Hy het kort daarná te midde van ‘n uitgebreide soektog na hom, teruggekeer na die moordhuis en homself in die motorhuis opgehang. (Lees die berig oor sy begrafnis op bl. 2.)

Dié moord, saam met die wrede verkragting van ‘n tweejarige meisie onlangs op Outjo, en die ewe wrede verkragtings van ‘n agtjarige meisie van Windhoek, het Namibiërs die afgelope drie of wat weke opnuut in die stryd teen geslagsgeweld verenig. Pirnsloo se begrafnis Vrydagoggend is voorafgegaan deur ’n optog teen geslagsgeweld deur die dorp.

Die optoggangers is deur Outjo se ruitergemeenskap op hul perde na die munisipaliteit begelei.

Die ruiters het ook later ’n erewag buite die kerk gevorm.

/Aib het as woordvoerder van die kerke saam met me. Brigitte !Horases, sameroeper van die organisasie Vroue Ondersteun Vroue, ’n petisie aan die burgemeester, mnr. Samuel !Oë-Amseb, oorhandig.

Hulle verwys daarin na die verkragting van die tweejarige meisietjie van dié dorp op 16 Oktober deur ’n 20-jarige man en die moord op Prinsloo twee weke later, en sê “genoeg is genoeg”.

“Vir té lank ly vroue en kinders onder mans wat hulle mishandel. Dít, terwyl vroue en kinders die liefde en versorging van mans nodig het,” sê hulle in die petisie.

Op Swakopmund het die gemeenskap ook Vrydag geluidloos opgeruk en het onder leiding van me. Tasneem Ochs ’n stille optog gehou om hul weersin in geslagsgeweld te kenne te gee, berig Nampa.

Die goewerneur van die Erongostreek, mnr. Cleophas Mutjavikua, het dieselfde dag by ‘n slypskool teen geslagsgeweld gesê Namibiërs moet ophou om dit as ’n persoonlike aangeleentheid te beskou en as “deel van die kultuur” af te maak.

Nampa berig hy het ’n beroep op gemeenskappe gedoen om hul stem daaroor dik te maak, gevalle daarvan aan te meld en hulp te soek.

Saterdagoggend het Windhoekers ook hul stemme laat hoor toe hulle aan die tweede optog van die #BreakFree-beweging se veldtog teen geweld deelgeneem het.

Genl.maj. (afgetree) James Tjivikua, beskermheer van dié veldtog, sê tussen Junie en Oktober vanjaar is 2 000 gevalle van huishoudelike geweld en alkoholmisbruik landswyd by die polisie aangemeld.

Dit sluit in 21 gevalle van aanranding, 989 gevalle van gewone aanranding, 459 van aanranding met die opset om ernstig te beseer, 113 van kwaadwillige saakbeskadiging, 398 van verkragting, twee van poging tot verkragting en ses gevalle van seks met minderjariges (statutêre verkragting).

“Die omvang van geweld in Namibië, insluitend geslagsgeweld, is groot en dit het ’n invloed op ons almal,” het Tjivikua volgens ’n berig deur Nampa gesê.

(Eie berig en Nampa)

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!