Ligter vonnis vir Schiefer

Ses jaar minder

14 September 2017 | Howe
Jacqueline Louw



Drie appèlregters het Dinsdag in die guns beslis van die 28-jarige Romeo Manellitto Schiefer, wat na die hooggeregshof geappelleer het teen die tronkstraf van 48 jaar wat bykans drie jaar gelede in die hoërhof in Windhoek aan hom opgelê is vir twee klagte van moord.

Hy is in Oktober 2013 tot 28 jaar tronkstraf gevonnis vir elk van die twee moordklagte deur regter Naomi Shivute in die hoërhof in Windhoek. Agt jaar van die een vonnis sou saam met die ander vonnis uitgedien word.

Die hooggeregshof het Dinsdag die twee vonnisse van 28 jaar elk bevestig, maar het beveel dat 14 jaar van die een vonnis saam met die ander vonnis uitgedien moet word, wat beteken dat Schiefer 42 jaar gevangenisstraf in plaas van 48 jaar sal uitdien.

Ná 'n verhoor waarin Schiefer skuld ontken het op die klagte dat hy sy ouers op 18 Januarie 2008 in hul huis in Khomasdal vermoor het, het regter Shivute hom in September 2013 in die hoërhof in Windhoek skuldig bevind op twee klagte van moord en 'n klag van diefstal.

Schiefer was nie suksesvol in 'n appèl in die hoërhof teen hierdie beslissing nie. Verlof om slegs teen sy vonnisoplegging te appelleer is egter deur die hooggeregshof toegestaan.

Schiefer het sy pa, mnr Frans Schiefer (50), deur die kop geskiet terwyl hy in sy bed gelê het en sy ma, me. Francina Schiefer (50), herhaaldelik met 'n mes gesteek en nege keer met 'n pistool geskiet. Hy was 18 toe hy sy ouers vermoor het.

Schiefer se prokureur, mnr. Winnie Christians, het Schiefer se jeugdigheid ten tyde van die voorval as versagtende omstandighede aangevoer in sy appèl teen die vonnis. ­Christians het betoog die regter het 'n fout begaan toe sy 'n 48-jaar vonnis opgelê het aan 'n persoon wat 18 jaar oud was toe die misdaad gepleeg is.

Die hoërhof het bevind die staat het bo enige redelike twyfel deur omstandigheids- en forensiese getuienis, asook 'n skuldbekentenis van Schiefer, bewys hy is skuldig aan die moorde.

In die skuldbekentenis, wat Schiefer 'n dag nadat hy sy ouers doodgemaak het, aan 'n senior polisieoffisier gemaak het, het hy gesê hy is “aangehits” om die moorde te pleeg.

Hy het glo besluit “dit was genoeg” toe sy ma hom gevloek het en hom daarvan beskuldig het dat hy nie wou studeer nie en dat hy haar geld mors deur “rond te loop en niks te doen nie”.

Schiefer het 'n mes geneem en sy ma aangeval. Daarna het hy sy pa se pistool gaan haal en hom in die kop geskiet.

Ná hy sy pa geskiet het, het hy kombuis toe gegaan en die deur wat sy ma gesluit het, oopgeskiet. Sy ma het na sy ouers se slaapkamer gevlug en Schiefer het haar daar geskiet en ook weer met 'n mes gesteek.

Ná die moord het hy ander klere aangetrek en saam met 'n vriend uitgegaan totdat hy 'n foonoproep van een van sy broers ontvang het om huis toe te gaan.

Regter Shivute was korrek in haar bevinding dat Schiefer nie enige berou oor die moord op sy ouers getoon het nie, het regter Elton Hoff opgemerk.

Regter Shivute het die feit dat Schiefer 'n eerste oortreder was, sy jeug en die tydperk van meer as ses jaar wat hy in aanhouding spandeer het voor hy gevonnis is, as versagtende omstandighede in sy vonnisoplegging gemeld, het Hoff gesê.

“Hy is 'n eerste, jeugdige oortreder, die misdade is sonder enige voorbedagte rade gepleeg en die appellant het nie 'n geskiedenis van gewelddadige optrede gehad nie,” het Hoff in sy uitspraak genoem.

Hoff het gesê indien hy die verhoorregter was, sou hy beveel het dat 'n langer gedeelte van die een vonnis saam met die ander vonnis uitgedien word.

Adjunk-hoofregter Petrus Damaseb en appèlregter Dave Smuts het met die appèluitspraak saamgestem.

Soortgelyk

 

Kampe dalk spiekeries voor seisoen

1 uur gelede | Toerisme

‘n Noodplan vir die rehabilitasie van die gewilde kampoord Jakkalsputz net suid van Hentiesbaai is in werking gestel. Terselfdertyd het Namibia Wildlife Resorts se beheerbeampte...

95-jarige vas oor onwettige wildprodukte

3 ure gelede | Misdaad

'n Pensioenaris (95) is Maandag omstreeks 15:30 by die Mashare-nedersetting naby Rundu in verband met die onwettige besit van wildprodukte in hegtenis geneem. Volgens die...

Woerts-warts tussen Ondangwa, Walvisbaai

6 ure gelede | Vervoer

Namibiërs kan nou in onder 60 minute tussen Walvisbaai en Ondangwa reis.Air Namibië vlieg sedert Dinsdag drie keer per week tussen dié twee dorpe: op...

Bob bedank, Zim vry!

18 ure gelede | Afrika

Gisteraand skuins voor 18:00 het 'n gejuig in Harare losgebars ná die Speaker van die Zimbabwiese parlement Robert Mugabe se bedanking as president van die...

Karkasse in polisie-minibus

18 ure gelede | Misdaad

Tanja Bause 'n Polisievoertuig met stukke gemsbokkarkas, asook 'n vlakvarkkarkas, het Dinsdag omstreeks 02:44 op die Westelike verbypad omgeslaan. 'n Getuie wat kort ná die...

Oorde kry nie eens oulap se rooi

18 ure gelede | Toerisme

Des Erasmus Honderde Namibiërs en selfs Suid-Afrikaners se vakansieplanne is in die gedrang toe vasgestel is dat, ondanks vroeëre aankondigings deur Namibia Wildlife Resorts (NWR),...

Weer, Woensdag 22 November 2017

18 ure gelede | Weer

BINNELAND: Mooiweer en koel tot warm in die verre Suide en Weste. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm wees. Enkele donderbuie...

Meer as miljoen se Mandrax gekonfiskeer

18 ure gelede | Misdaad

Henriette Lamprecht 'n Namibiese vragmotorbestuurder is op Gobabis agter tralies nadat hy by 'n grenspos met meer as 11 000 Mandrax-tablette betrap is. Die 44-jarige...

Swapo oor kongres gedagvaar

18 ure gelede | Howe

Jacqueline Louw - ’n Hofaansoek van vier lede van die Swapo-party om te verhoed dat 27 afgevaardigdes van hul streek die party se kongres bywoon,...