Ligte af oor N$47 miljoen
Ligte af oor N$47 miljoen

Ligte af oor N$47 miljoen

NamPower sê kliënte wat aanmaningsbriewe oor uitstaande skuld geïgnoreer het, se krag moet af.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Dis oor 'n week ligte af vir verskeie nedersettingsrade, 'n dorpsraad, 'n myn en verskeie kragvoorsieningspunte van die minis­terie van landbou, water en bosbou.

Die geraakte plaaslike owerhede, regeringsdepartemente en ander NamPower-kliënte skuld die kragvoorsiener meer as N$47 miljoen wat reeds maande agterstallig is.

Volgens 'n nuusvrystelling van NamPower sal die Tses-, Koës- en Berseba-nedersettingsrade; die Aranos-dorpsraad, die abattoir op dié dorp, sowel as Congo Namibia Trading (Pty) Ltd (Kombatmyn) se krag om 07:00 op Woensdag 11 Julie afgesny word. Dieselfde geld vir die ministerie van landbou, water en bosbou se kragvoorsieningspunte by die Neckartal­dam, Kalahari Proefplaas, die direktoraat van veeartsenydiens­te op Ariamsvlei, Rudenau Nord No. 6, die veeartsenykantore op Buitepos, Noordoewer, Noordoewergrenspos, die Oranjerivier Groenskemaprojek – Agribusdev, sowel as die Kujek- en San-pompe by die Tsumis-landboukollege.



opdrag

Volgens NamPower se besturende direkteur, mnr. Kahenge Haulofu, is finale aanmaningsbriewe op 19 Junie aan alle kliënte met uitstaande skuld gestuur met die opdrag om dit op of voor 29 Junie te vereffen.

“Die kliënte wat in die nuusvrystelling gelys word, is dié wat nadat die aanmaningsbriewe uitgestuur is nie 'n poging aangewend het om Nam­Power te kontak om enige reëlings vir betaling te tref nie,” het Haulofu gesê.

Volgens hom het die geraakte kliënte gister kennisgewings ontvang dat hul krag afgesny gaan word.

“Ons verwag van hulle om na vore te kom met vooruitbetalings en voorstelle.”

Haulofu het voorts gesê kliënte wat NamPower met reëlings vir betalings gekontak het, se krag sal nie afgesny word nie.

“Hulle sal egter dié reëlingsooreenkoms moet onderteken en by betalings moet hou wat ook gemonitor sal word.”

Hy wou nie sê wat die uitstaande skulde van die spesifieke kliënte is of wanneer hulle laas betaal het nie.

“NamPower mag nie sensitiewe inligting oor bedrae wat deur spesifieke kliënte geskuld word of die datums van hul laaste betalings verskaf nie. Dit is vertroulik en tussen die kliënt en NamPower.”

Die uitvoerende beampte van die Berseba-nedersettingsraad, mnr. Charles Vries, het egter in 'n onderhoud met Republikein gesê dié raad se uitstaande skuld beloop sowat 'n miljoen Namibiese dollar. Volgens Vries was hy Dinsdag in Windhoek om reëlings vir afbetaling met die kragvoorsiener te tref. “Ek het ­reëlings getref dat ons vandag N$100 000 betaal. Vir die res moet ons 'n betaalplan uitwerk,” het Vries gesê.



Ministeries 'sukkel'

Volgens hom het die “min” inwoners op die dorp koopkrag en is dit ministeries wat sukkel om te betaal.

“Die ministeries se betaling is nie altyd op tyd nie; hulle betaal eers ná drie maande en so loop die rekening op.”

Intussen sê mnr. Percy Misika, permanente sekretaris van landbou, water en bosbou, hy het gistermiddag eers 'n oproep van Haulofu ontvang oor die plan om teen Woensdag nie-betalers se krag te sny.

“Ons het gevra vir 'n lys van ­instellings wat hierdeur geraak word. Ons sal dit evalueer en kyk wat ons moet doen. Ek weet daar is betalings gemaak, maar ons het tyd nodig om die situasie te evalueer,” het hy gesê.

Mnr. Knowledge Katti, eienaar van die Kombatmyn, kon nie vir kommentaar bereik word nie, terwyl die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, nie beskikbaar was nie.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!