Ligdraer Lumé se hemelse boodskap

Duisende deur 11-jarige se dood geraak

17 July 2017 | Mense
Henriette Lamprect - Sy was ‘n sonstraal wat alles met passie gedoen het - vol grappies, glimlagte en drukkies.
Sybrand en Ronel de Beer van Windhoek se “borrelende sonskyn, gemeng met ‘n klein tornado” is op 2 Julie op 11-jarige ouderdom skielik dood aan akute respiratoriese noodsindroom.
Sy was “binne 48 uur van die netbalbaan tot in die hemel”.
Landswyd en selfs oor grense en waters heen het die De Beers se oudste dogter se skielike dood duisende geraak - tot haar ouers se verbasing.
“By haar roudiens was sowat ‘n duisend mense, ‘n gebedsgroep van duisende mense wêreldwyd bid steeds vir ons en haar familie, en ‘n kartondoos met duisende briewe en kaartjies uit Suid-Afrika is by ons afgelewer. Niemand het besef hoe groot die impak gaan wees nie,” vertel Sybrand en Ronel.
“Ons is so dankbaar vir die tyd wat God vir ons gegee het om met haar te spandeer en ‘memories’ te bou.”
Die Vrydagoggend voor haar dood was die tema van die gesin se laaste Bybelstudie saam "Ken God deur dankbaarheid" en die teksvers was 1 Tessalonisense 5:18: "Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God van julle as Christene verwag."
“Dit is maklik om dankbaar te wees as dit goed gaan, maar hoe is jy dankbaar as jou kind skielik sterf? Die sleutel is egter om te besef dat God in beheer is in alle omstandighede, dat Hy ‘n plan het met jou/haar lewe. Ons besef ons kan dankbaar wees vir wie Lumé was, vir die oomblikke wat ons saam gehad het, dat ons weet dat sy vandag saam met Jesus in die koninkryk is en dat ons nooit daaroor sal twyfel nie. Ons is dankbaar oor hoeveel mense sy aangeraak het.”
Hul dogter se naam beteken ligdraer, duif en vredemaker, vertel Sybrand.
“Geestelik beteken dit die draer is ’n lig vir mense, vol vreugde, kapasiteit vir verhoudings, lig en lewe. Die draer van die naam sal in vryheid lewe en ’n verkondiger van God se koninkryk wees.”
As hulle nou na Lumé se kort lewe kyk, besef haar ouers dit is presies hoe en wie hul dogter was.
“Terwyl haar kissie in die graf afgesak het, het ’n vriend teenwoordig opgemerk dat ’n duif reg oor die graf gevlieg het. ’n Teken vir ons dat sy vreedsaam is waar sy nou is.”
Hul oudste was ‘n vredemaker en was saans dikwels hartseer as daar struwelinge tussen haar en vriende was.
“Na haar dood het daar egter versoening gekom tussen verskeie mense. As haar dood beteken dat nuwe verhoudinge tussen mense gebou word, tussen vriende en familie, tussen ouers en kinders, dan was haar dood nie tevergeefs nie.”
Die boodskap wat hy uit sy dogter se lewe wil neem, is dat daar baie meer is om voor te lewe as vir ’n gejaag na alles, na werk, na geld, en na dinge wat belangrik lyk op daardie oomblik. Tyd met jou kind is baie belangriker, sê Sybrand.
“Elke keer wat jy jou kind vashou of druk, doen dit asof dit die laaste keer is, want jy weet nooit wat volg nie. Wees ingestel daarop om herinneringe met hulle te bou, vang die oomblikke vas. Wees daar vir jou kind, spandeer tyd saam. Straal liefde uit na God en na jou naaste.”
Hy verwys na dr. Fourie van der Berg se boodskap by Lumé se begrafnisdiens. Die boodskap was dat mense hul lewenstasse laai met swaar, onnodige bagasie soos stres, bekommernis, vrees, angs, woede, haat, onsekerheid, verwyte en eie agendas. Belangrik is egter om te besef “hoe tydelik ons verblyf op aarde is”.
Vir hulle as ouers en vir Lumé se sussies Charné en Danika sal niks ooit weer dieselfde wees nie, maar is daar tog duidelike boodskappe en tekens dat hulle deur God gebruik word om ‘n spesifieke boodskap te versprei.
Voorbeelde hiervan is die woord "duisende" wat homself oral voordoen; ‘n kers wat by ‘n olyfboompie doodgegaan het en weer begin brand het; ’n ballon wat by Wanderers vrygelaat is en saam met ander in ’n suidwestelike rigting waai, beland in hul straat in Suiderhof; ‘n duif wat oor haar graf gevlieg het en betekenisvolle skrifgedeeltes.
Vir Lumé se ouers gaan dit nie oor hulle nie, maar dat daar ‘n boodskap oor God deur hul dogter is.
“Lumé is verseker besig met Sy werk. Sy is vir 11 jaar vir ons geleen om mense en kinders op haar unieke manier te raak en nou nog duisende meer ná haar dood.”
Al is die verlies en seer onbeskryflik, voel die De Beers geëerd dat “ons dogter, ons huis en ons as ouers gekies is om hierdie groot taak aan te pak en ‘n verskil te maak”.
Jesaja 43:19 kom voortdurend by verskeie vriende en familie van die egpaar op.
“God gaan iets groots doen, dit staan op die punt om te gebeur.”
Die dood is nie finaal nie, sê die De Beers.
Hul kind lewe voluit en lewe “hier by ons, sy is hier in gees en in ons harte”.
Hulle erken die gemis en verlange is oneindig seer en om nie ‘n drukkie van hul dogter te kan kry nie, “slaan ons stukkend”.
“Maar ons voel God hou ons styf vas, deur Homself en deur soveel goeie mense wat Hy oor ons pad bring.”

Soortgelyk

 

95-jarige vas oor onwettige wildprodukte

1 uur gelede | Misdaad

'n Pensioenaris (95) is Maandag omstreeks 15:30 by die Mashare-nedersetting naby Rundu in verband met die onwettige besit van wildprodukte in hegtenis geneem. Volgens die...

Woerts-warts tussen Ondangwa, Walvisbaai

4 ure gelede | Vervoer

Namibiërs kan nou in onder 60 minute tussen Walvisbaai en Ondangwa reis.Air Namibië vlieg sedert Dinsdag drie keer per week tussen dié twee dorpe: op...

Bob bedank, Zim vry!

16 ure gelede | Afrika

Gisteraand skuins voor 18:00 het 'n gejuig in Harare losgebars ná die Speaker van die Zimbabwiese parlement Robert Mugabe se bedanking as president van die...

Karkasse in polisie-minibus

16 ure gelede | Misdaad

Tanja Bause 'n Polisievoertuig met stukke gemsbokkarkas, asook 'n vlakvarkkarkas, het Dinsdag omstreeks 02:44 op die Westelike verbypad omgeslaan. 'n Getuie wat kort ná die...

Oorde kry nie eens oulap se rooi

16 ure gelede | Toerisme

Des Erasmus Honderde Namibiërs en selfs Suid-Afrikaners se vakansieplanne is in die gedrang toe vasgestel is dat, ondanks vroeëre aankondigings deur Namibia Wildlife Resorts (NWR),...

Weer, Woensdag 22 November 2017

16 ure gelede | Weer

BINNELAND: Mooiweer en koel tot warm in die verre Suide en Weste. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm wees. Enkele donderbuie...

Kanse op La Niña verdriedubbel

16 ure gelede | Weer

Elvira HattinghDie kanse is nou drie keer sterker dat 'n swak La Niña-weerverskynsel komende maand sal ontwikkel, terwyl toestande in die tropiese Stille Oseaan reeds...

Meer as miljoen se Mandrax gekonfiskeer

16 ure gelede | Misdaad

Henriette Lamprecht 'n Namibiese vragmotorbestuurder is op Gobabis agter tralies nadat hy by 'n grenspos met meer as 11 000 Mandrax-tablette betrap is. Die 44-jarige...

Swapo oor kongres gedagvaar

16 ure gelede | Howe

Jacqueline Louw - ’n Hofaansoek van vier lede van die Swapo-party om te verhoed dat 27 afgevaardigdes van hul streek die party se kongres bywoon,...