Liewe Gerda, dis Klaradyn se ma

06 March 2018 | Rubrieke
Verskoon dat ek jou nou nie as “mevrou” aanspreek nie, jy is mos immers danksy Charlize deel van die Hollywood-royalty en so aan. Maar jy kom mos van Otjiwarongo af en ek is ’n Otavi-kind, dié dat ek voel ek kan die vrymoedigheid hê om te skryf en raad te vra. Ek skryf oor my dogter, Klaradyn.

Baie begaafde kind, al moet ek dit nou self sê. Maar ’n ma let hierdie tipe dinge op, jy weet mos. Kon jy ook al vroeg sien klein Charlize is gemaak vir die kollig? Mens kry net so ’n gevoel hulle hoort op die verhoog en dan moet ’n ma sorg dat hulle al die kanse kry. Amper soos Dance Moms wat by julle gemaak word.

My Klaradyn is ’n regte all-rounder, dis beter dat hulle kan sing, dans en toneelspeel, nè Gerda? Dit gaan goed met die dans en die drama, maar ons sukkel met die singery. Klaradyn sê dis nie deel van haar repertoire nie. Haar Ouma Praat het aan ’n sanggroepie van die kerk behoort en hulle was baie gewild by basaars en insamelings vir die nuwe kerksaal. Die groepie se naam was iets te doen met ’n begrafnis, hulle kon die toon goed hou.

Ouma Vlam het ook vir jare in die kerkkoor gesing. Op Otavi het hulle tot ’n tape van die Otavi Fonteine-sangers gemaak, jy sal dit nie glo nie! Was daar in jou tyd ook ’n koor op Otjiwarongo? Ieder geval, ek en haar pa reken die singery moet mos dan in haar bloed ook wees.

My Klaradyn is nou ook al goed gekonfyt met die dansery. Dis nou nie soos in jou tyd op Otjiwarongo ’n two-step en ’n langarm-storie op ’n naweek ná ’n tenniswedstryd teen Berg Aukas nie. Jy sal dit nie glo nie, die kinders leer alles van hip hop en rap en so aan. Jy weet, soos Beyoncé.

Jy ken seker vir Beyoncé, pragtige vrou. Is sy en Charlize vriende? Seker ’n dom vraag, Charlize het seker baie vername vriende. Sê my, kuier hulle oor en weer soos hier by ons? Braai julle darem, jy sal seker dood vir ’n ou skaaptjoppie en aartappelslaai? Kry ’n mens Windhoek-bier daar by julle, ’n tjoppie gaan darem net beter af met ’n bier, jy weet mos!

Elk geval, die kompetisies vir dans en drama is maar skaars hier by ons, beslis baie minder as daar by julle. Jou Charlize was mos op die voorblad van Rooi Rose as ek reg onthou. Hier is dit maar net die plaaslike koerante wat ’n storie en ’n foto kan doen, Rooi Rose is mos in Suid-Afrika. Gaan kuier julle baie op Benoni?

Ons kan natuurlik vir Huisgenoot gaan, jy weet, hulle het baie lesers, van hier tot in Zimbabwe. Maar mens moet haar seker ook nie over expose nie, jy weet seker daar is mense wat dink Huisgenoot is baie common. Huisgenoot hou baie van Charlize, nog nooit iets leliks van haar daar gelees nie. Behalwe die keer oor jou kleinseun wat net rokke dra. Pla dit vir jou dat hy net soos sy sussie wil lyk?

Die rede hoekom ek eintlik skryf, buiten nou vir die raad en so, is om te hoor of jy nie kan help met verblyf nie? Klaradyn het ingekom by ’n kompetisie einde van die maand in Los Angeles. Ja, ons is baie baie trots op haar! Elk geval, ek en Klaradyn gaan vir ’n maand daar moet bly sodat sy ook vir oudisies kan gaan. Haar pa gaan net so ’n week later kom kuier, ons moet maar kyk hoe vinnig hy sy polis kan loskry.

Is daar darem ‘n goeie slaghuis daar in julle omgewing? Ons Namibiërs het mos maar vleistande, jy weet mos? Ken julle slaghuise van T-bone steaks en ’n skaapboud?

Terwyl ons daar is, wil ek sommer vir my en Klaradyn so ’n paar uitrustings laat maak. Julle materiaalwinkels is seker tops, Charlize lyk altyd so pragtig as sy op die rooi tapyt verskyn, sjoe. Kan Charlize dalk vir jou ’n nommer gee van iemand wat sal kan help? Niks glamorous nie, maar dit moet darem “aanderig” lyk. Jy weet, hier by ons dink die mense black tie is iets wat jy met ’n begrafnis aansit.

Ek laat weet jou as ons daar is, dan kan ons bietjie kuier en jy ons rondwys. Sê as ek ’n pakkie vir jou moet saambring. Dalk bietjie droëwors of so.

Groete van huis tot huis.

PS. Klaradyn is ’n groot Pink-ondersteuner, Charlize ken nie dalk vir haar nie?

Soortgelyk

 

Theo Mujoro is nuwe hoof van verkiesings

5 ure gelede | Politiek

Mnr. Theophilus (Theo) Mujoro is vanaf 1 September vanjaar vir ‘n tydperk van vyf jaar aangestel as die nuwe hoof verkiesingsbeampte van die Verkiesingskommissie van...

Nuwe spoedkameras getoets

6 ure gelede | Infrastruktuur

Die Namibiese polisie se verkeersbeamptes toets van gister af die werking van nuwe spoedkameras op Namibië se hoofpaaie. Veral in die Erongo- en Otjozondjupastreek word...

Onderwys: ‘Gebruik wat julle het om fondse in te...

7 ure gelede | Onderwys

Die minister van onderwys, kuns en kultuur, me. Katrina Hanse-Himarwa het ’n beroep op skole gedoen om beskikbare middele te gebruik om fondse vir hul...

Otjomuru-kliniek aan regering oorhandig

7 ure gelede | Gesondheid

Die Otjomuru-kliniek naby die Otjomuru-nedersetting sowat 27 km oos van Okangwati in die Kunenestreek, is aan die regering oorhandig. Die konstruksie van die kliniek was...

Nuwe visekanselier vir Unam

8 ure gelede | Onderwys

Die Universiteit van Namibië (Unam) sal voorleggings deur die vier kandidate vir die universiteit se visekanselierspos regstreeks op YouTube, Twitter, Facebook en hul webwerf uitsaai.Die...

Windhoek se krane dalk oor twee seisoene leeg ...

19 ure gelede | Omgewing

Elvira Hattingh - Windhoek het genoeg water om twee reënseisoene te dek, indien dit bykomende waterbronne in die Noorde, asook die Windhoek-akwifer onvolhoubaar gebruik én...

Wag die Skedelkus op Harry en sy bruid?

19 ure gelede | Toerisme

Des Erasmus - Prins Harry-koors teister die gebied tussen Hentiesbaai en die monding van die Kunenerivier op die noordgrens en die ooreenstemmende leeu- en renosterwêreld...

Weer vir 22 Junie 2018

19 ure gelede | Weer

BINNELAND: Koud aanvanklik in die binneland. Dit sal gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm oor die verre Noordooste en die Khomasstreek wees. Elders sal...

Fosfaat-debat begin oor

19 ure gelede | Omgewing

Augetto Graig - Die ontginning van fosfaat op Namibiese seebodem is vir eers van die baan af. Die minister van die omgewing en toerisme,...