Leon se leer na sukses

14 June 2018 | Kuns en vermaak
Hy kan jou dag onmiddellik opkikker.

Hy is net daai soort siel wat jou beter laat voel.

Daar's fout met jou as jy nie van hom hou nie.

Leon Engelbrecht is die eienaar en stigter van ­­L E D (Leon Engelbrecht Design), 'n leer-, tekstiel- en binnenshuise versier- en dekorontwerpateljee.

Hy is op die klein Noord-Kaapse dorpie Kathu gebore.

In sy kleuterjare trek die gesin Windhoek toe, maar Leon bly agter om sy skoolloopbaan in die Paarl aan Paarl Boys High te voltooi.

Op skool was Leon kranig op die sportveld en het veral in tennis uitgeblink.

“Ek het o­­ok klavier gespeel tot Unisa se graad 5-eksamen, en het op hoërskool dwarsfluit gespeel en was deel van die skool se blaasorkes.”

Leon het in sy matriekjaar besef hy is een van daai mense wat nie weet wat volgende nie.

“Aanlegtoetse was nie oortuigend nie en daar was nie geld vir universiteit toe gaan nie.”

Toe besluit hy om 'n IT-kursus te doen.

“Ek het dit voltooi en my Microsoft MCSE-­kwalifikasie verwerf.”

Maar dít was nie genoeg nie. Sy hart het Engeland toe gemik. Op pad soontoe wou Leon se pa hê hy moet eers kom kuier.

“Hy het by PricewaterhouseCoopers (destyds Coopers&Lybrand) gewerk en het vir my vakansiewerk in hul IT-afdeling gereël. My vinnige vakansiewerk verander toe in 'n permanente pos,” sê hy.

Dit was die begin van 'n 18 jaar lange avontuur in Namibië vir Leon.

“Verskeie IT-kwalifikasies later het ek myself in die IT-range opgewerk en die pos van IT-bestuurder by MMI Namibia bereik,” sê hy.

Leon sê hy sal altyd dankbaar wees vir wat sy IT-loopbaan van 15 jaar hom geleer het, maar iewers in hom het 'n stem gesê dít is nie eintlik wat hy wil doen nie.

“Dís toe ek en my lewensmaat 'n oop erf in Kleine Kuppe gekoop het en ons droomhuis gebou het,” sê hy.

“Die vuur in my het weer begin brand. Ons kon die hele huis maak nes ons dit wou hê en kon afwerkings kies wat ons smaak en persoonlikhede uitdruk. Dis tydens hierdie proses wat ek só geïnspireer is dat ek besef het daar moet 'n ander uitweg vir my wees,” sê Leon.

Hy het toe een van sy vriendinne genader wat reeds haar eie binnenshuise ontwerp-onderneming gehad het.

“Sy het my gehelp om aan die gang te kom. Dit is toe ek sien dat meeste ontwerpers hul lap en patrone van katalogusse bestel wat gewoonlik uit Suid-Afrika kom. Van die materiaal word selfs van oorsee af ingevoer.”

Leon het toe besluit om 'n uniekie, eg Namibiese reeks patrone en kleure te ontwerp.

“Ek het my maatskappy in 2016 gestig en 'n tekstielreeks bekend gestel. Ek het 'n paar ­binnenshuise gigs gekry wat my besig gehou het en het dít en my IT-werk terselfdertyd gedoen,” sê hy.

Aan die einde van 2016 is Leon se pa aan kanker oorlede en dit was weer tyd vir 'n verande­ring.

“Einde April 2017 het ek bedank, my pensioengeld gevat en my besigheid voltyds begin bestuur. Die gevoel van angs waarmee ek soggens wakker geword het - met geen sekerheid oor waar die ­volgende bietjie geld vandaan gaan kom nie, is nou deur opgewondenheid en 'n absolute ­onblusbare lewenslus vervang. Ek is 'n beter weergawe van myself.”

Dis juis waaroor die lewe gaan, om voortdurend die beste weergawe van jouself te wees, sê Leon.



Wat is dit van leer wat vir jou so lekker is?

Alles, maar om meer spesifiek te wees, die reuk en gevoel daarvan op jou vingerpunte as jy daaraan vat. En die duursaamheid daarvan. Ek heg 'n gevoel van bederf aan leer. As jy iets koop wat van egte leer gemaak is of 'n geskenk kry wat 'n leeritem is, kan jy nie help om bederf te voel nie. Jy weet dis iets wat jou lank gaan hou. Of dit is veronderstel om so te wees. Daar is soveel foefies en sintetiese snert op die mark. Jy moet darem ook die koring van die kaf kan skei. Leer is ook vir my sinoniem met my pa. Vandat ek 'n tjokker was, is dit die reuk daarvan wat my altyd aan my pa sal laat dink. Sy klere, skoene, karre, meubels, self sy golfhand­skoene - daar was altyd die reuk van leer in my pa se huis. Die man het mooi en netjies aangetrek en sy vinnige Duitse sport- en sedanmotors se leerreuk het sommer aan jou klere vasgekleef. Ek was mal daaroor.

So leer het 'n 360 grade-pad met my gestap. Daar is nou 'n stukkie van myself en my pa in elke liewe leerproduk wat ek maak, en daar is niks lekkerder as om 'n handgemaakte, handgestikte produk van goeie gehalte aan my kliënte te verkoop nie.



Beskou jy jouself as 'n kunstenaar?

Nog nie. Ek het soveel bewondering en respek vir ander kunstenaars - die skilders, die verwers, die baanbreker argitekte van die verlede. Dit verg so baie om 'n meester in jou veld te raak. En ek is beslis nog nie daar nie. Ek is ook nie ná skool opgelei nie en het nie enige formele kwalifikasies in beeldende kunste nie. Ek is nou maar eers aan die beginpunt, die tip of the iceberg van my kreatiewe loopbaan. Daar is nog so baie wat ek moet baasraak en wat ek moet leer. Dit is slegs as ek sekere aspekte baasgeraak het en geoefen en bemeester het wat ek myself dalk as 'n kunstenaar in die veld sal kan beskou. Ek is wel geheel en al 'n kreatiewe siel. Ek staan nog my hele lewe lank met my een voet in die kunste. Dis 'n absolute voorreg en plesier om myself te kan uitleef in my besigheid met soveel verskillende kreatiewe dinge wat my siel en hart bollemakiesie laat slaan.



Vertel ons meer oor L E D.

L E D (Leon Engelbrecht Design) is 'n leer-, tekstiel- en binnenshuise versier- en dekorontwerpateljee. Ons maak leerprodukte van goeie gehalte wat met die hand gestik word, en ons gebruik tradisionele toerusting en metodes. Geen ­masjiene word in die vervaardigingsproses gebruik nie. Ons doen ook unieke patroonontwikkeling en ontwerpe vir tekstiele en gee binnenshuise versier-, ontwerp- en dekoradvies en doen konsultasies vir private kliënte en besighede.



Jy het onlangs 'n opskietwinkel

bekend gestel. Hoe het jy dit ervaar?

Dit was vreesaanjaend en senutergend, maar absoluut fantasties en al die stres werd. Ek het besluit om al die vertoonkaste en winkelrakke self te bou en so geld te spaar. Ek het die mees fantastiese ondersteuningstelsel en my vriende het almal een vir een ingespring om te help. My idee vir die winkel was om 'n unieke en persoonlike koopervaring te skep. So, die winkel is nie net 'n winkel waar jy my produkte kan koop nie, maar ons vervaardig sommer in die winkel self ook en het ook 'n “leerkroeg” bekend gestel. Ek het met al my werks­tafels en gereedskap in die winkel ingetrek. En nou kan kliënte sien hoe en waar die produkte gemaak word en kan hulle by die L E D-leerkroeg self hul leer, voering, gare en kleure vir leersakke uitkies. Ek hoop om hierdeur nuwe waardering te skep vir hoe leerprodukte gemaak word, asook om die persoonlike aspek van 'n leeritem in 'n hele ander klas te sit. Die deure van die winkel is sedert verlede Donderdag al oop. Ons is op Maerua Mall se boonste vlak, op die hoek tussen Woolworths en Panarottis.



Is dit moeilik om met leer te werk?

Dit hang af van die tipe leer en hoe ingewikkeld jou patroon is. Natuurlik is nie alle leertipes dieselfde nie. Verskillende soorte leer het verskillende en unieke karaktereienskappe. Sekeres is sagter (chrome tanned Aniline-leer) en is lekkerder of makliker om mee te werk. Dit is ook die tipe leer wat gebruik word om leermeubels mee oor te trek. 'n Vegetable tanned-leer is baie dikker en sterker, en ook moeiliker om mee te werk. Maar hierdie tipe leer hou sy vorm ongelooflik goed en is só sterk. As jy mooi daarna kyk en dit gereeld voed, kan vegetable tanned-items generasies lank hou. Dit is ook vegetable tanned-leer wat gebruik word vir gordels, en dit kan ook enige vorm aanneem wanneer dit nat gemaak word, soos byvoorbeeld die vorm van messkedes of pistoolsakke. Dis juis hoekom dit vir my so lekker is om handgestikte leerprodukte te maak: Jy kan kies watter leer die beste sal werk vir die tipe produk wat jy wil maak, alles word met die hand gestik, en die produk is eenvoudig van 'n hoër gehalte en sal jou 'n leeftyd hou.



Wanneer was die eerste keer toe

jy iets uit leer gemaak het?

Ek het verlede jaar in April as IT-bestuurder by MMI Namibia bedank om my besigheid voltyds te bestuur. Ek het 'n maand weg van alles en almal af gevat. Ek het besluit om iets net vir myself te doen en wou graag 'n nuwe vaardigheid aanleer. Iets wat ek sal kan doen tot my oudag toe, om my hande besig te hou, en iets mooi uit niks te kan maak. Ek het op leerwerk besluit. Ek het by 'n instituut in Suid-Afrika wat leerkursusse aanbied, beland en op tradisionele metodes en gereedskap gefokus. Dit het my geleer om produkte met die hand te maak en te stik. Ons het met gordels begin, toe 'n handsak en toe 'n reissak. Dis toe ek die handsak klaar gemaak het wat ek geweet het dit is iets wat ek vir altyd sal wil doen.



Verkies jy om met 'n

spesifieke soort leer te werk?

Ek hou van beide sagte en harde leer. Ek moet sê vegetable tanned-leer is besig om baie vinnig al gewilder te raak en ek vermoed ek gaan in die toekoms baie meer daarvan begin gebruik.



Wat maak jy nóg?

Ek het my eie unieke patrone ontwikkel wat ek op 100% suiwer katoen laat druk. Ek gebruik die lap om alles van kussingslope tot lopers vir tafels en ook plekmatjies en teehanddoeke te maak. Die hele patroonreeks en kleurskema is deur ons rotstuin by die huis en Namibië se natuurelemente geïnspireer. Die blare se kleure verander die hele jaar deur en daar is vir my niks mooier as die verskillende kleurskemas in die natuur nie. Ek het die kleure vasgevang deur 'n toep op my foon te gebruik. Ek gebruik ook weggooistukkies lap en leer om juweliersware mee te maak. Ek probeer om so min as moontlik weg te gooi.



Wat weet mense nie van jou nie?

Ek is mal oor 'n groot verskeidenheid musiek en kan vir die eerste span langarm. Ek het ook 'n skelm liefdesverhouding met my Vespa. Ek grap sommer! Maar ek put ongelooflike plesier uit daardie bromponie en ry orals in Windhoek rond. Dis die beste ding waarop ek my geld al gespandeer het.



Wat beteken jou honde vir jou?

Hulle is deel van ons gesin. Ons het 'n bulhondreuntjie, Axel, en 'n bulhondwyfie, Luca. Ek het nie bulhonde geken toe ek grootgeword het nie, maar hulle het my hart gesteel. Dis regtig een van die mees unieke en oulikste honderasse. Axel het my baie van myself geleer - dat jy nie iemand op hul baadjie moet takseer nie. En omdat hy deel was van my reis en die besef dat ek eintlik vir iets heeltemal anders beskore was, het hy die gesig van my maatskappy en handelsmerk geword.



Wat is vir jou die mooiste deel van ons land?

Alles in Namibië is beeldskoon. Die droë Suide met sy sterk kontrasterende landskappe, die kus, asook die lowergroen en lewensryke Noorde met die massas water van die Okavangorivier. Ek kry nêrens beter rus vir my siel as in die natuur nie.



Wat beplan jy volgende?

Ek beplan 'n aanlyn winkel iewers dié jaar vir 'n meer gerieflike koopervaring vir my kliënte. Ek sal hierdie jaar by Inspirasie Tafels wees. Besoek https://www.facebook.com/inspirationtables/ vir meer inligting daaroor. Ek gaan ook die Hop Heads Craft Beer Festival 2018 bywoon. Besoek https://www.facebook.com/events/180708625992331/ as jy meer wil weet.



Waar en hoe kan

belangstellendes jou in die hande kry?

Ek kan deur my Facebook- of Instagram-blad, webtuiste of e-pos, [email protected], gekontak word.

Soortgelyk

 

Hare waai by skolerugby

1 uur gelede | Plaaslik

“Monré is nie 'n m*ffie nie. Hy is nie 'n ou wat kla oor dit of oor dat nie. Maar hy was só geskok en...

Kerk hou lidmate glo agter slot en grendel

1 uur gelede | Plaaslik

Augetto Graig en Ronelle RademeyerDie Namibiese polisie was tot laat gister nog besig om lidmate te ondervra oor vermeende ongerymdhede by die kerk van die...

Internasionale ruimtestasie kom wéér

1 uur gelede | Wetenskap

Elvira Hattingh Windhoekers wat die daaglikse verskyning sedert Saterdag van die internasionale ruimtestasie bo die stad gemis het, moet môre om 19:36 wéér opkyk,...

Weer vir 21 Augustus 2018

1 uur gelede | Weer

WEERWAAK: Koue toestande word vandag oor die Suide verwag.BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en koud tot matig in die Suide, met 'n paar ligte neerslae wat...

Drie verskyn vir Doll-aanval

1 uur gelede | Howe

Henriette Lamprecht – Drie mans wat na bewering verlede week ’n boer wreedaardig in sy plaasopstal aangeval het, bly agter tralies. Mnre. Laurence Aib (25),...

Matriekpartytjie eindig in tragedie

1 uur gelede | Ongelukke

Francoise SteynbergDit is maar die begin van matriekafskeidfunksies lands­wyd en drie Suide-seuns het Saterdag ná 'n partytjie op Keetmans­hoop gesterf.In twee afsonderlike voorvalle is 'n...

Swapo-boek verkoop soos soetkoek

1 uur gelede | Kuns en vermaak

Denver Kisting – Volgens plaaslike boekwinkels kan hulle nie met die pas verskene boek Swapo Captive: A comrade’s experience of betrayal and torture voorbly nie.In...

Polisie ontplooi vir padveiligheid

1 uur gelede | Polisie

Die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, het as deel van 'n 12 maande lange nasionale padveiligheidsoperasie opdrag gegee dat polisiebeamptes langs die...

'Breek heinings af, beskerm wild'

1 uur gelede | Omgewing

Francoise Steynberg Volgens navorsers van die Groter Sossusvlei-Namib Landskapprojek (GSNL) sou gemsbokke, springbokke en bergsebras oor 'n groter gebied beweeg het as dit nie vir...