Lani Meyer tops met bielie van 'n baber

Die buurlande se hengelaars het mekaar in elke kategorie goed opgedreun.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Namibië het vroeër vandeesmaand 'n klipgooi van Keetmanshoop by die Nautedam in die Streek 5-kampioenskap in drie toetse teen sy Suid-Afrikaanse eweknieë te staan gekom.

Spanne van die Namibië Varswateroewerhengelvereniging (NFBAA) moes ongunstige weerstoestande in die suide te bowe kom, maar dit het nie vir Lani Meyer en Amanda Bothma verhoed om uit te blink nie.

Meyer het op die tweede dag tydens die tweede toets met 'n bielie­baber van 15.02 kilogram behoorlik die aandag op haar gevestig. Dié monster het aan haar 'n nuwe nasionale NFBAA-rekord, asook 'n plek op die voorblad van die Suid-Afrikaanse hengeltydskrif, Die Oewerhengelaar, besorg.



DAG EEN

In die junior afdeling klop 'n span van die South African Sport Anglers and Casting Confederation (SASACC) die juniors van die Namibiese Federasiespan oortuigend met 16 punte teen 14. Giovanni Schoeman van Namibië land die swaarste karp van 5,26 kg.

Die nasionale junior span van Suid-Afrika klop Namibië met 12 punte teen agt, maar Rikus van Staden (NAM) is die tophengelaar wat die meeste vis vang en ook die swaarste kurper van 1,66 kg inweeg.

By die Presidentspanne stap die besoekers met die louere weg (12-8). Magnolia Maritz (NAM) spog met die swaarste karp van 4,49 kg. Namibië se nasionale span veg verwoed en eindig met tien punte elk gelyk met Suid-Afrika. Die besoekers het egter meer vis in die nette en wen die eerste kragmeting. Lani Meyer (NAM) is met 17 vis die voorste hengelaar.

Die senior Federasiespanne pak mekaar en ongelukkig word Namibië totaal en al deur die buurland oor­skadu (10-20).

In die senior Konfederasie-afdeling trek Dian von Solms (NAM) 'n karp van 6,08 kg uit met spanmaat Mikhail Libitz wat die swaarste baber (7,98 kg) en moddervis (1,12 kg) inweeg. Nogtans klop die SA span hulle nael­skraap met 16-14.

Die senior Proteas klop Namibië met 18-12 en weeg deur die bank die swaarste asook die meeste vis en spesies in. Die Namibiese meesters buig die knie met 30-21.



DAG TWEE

In die junior afdeling wen die SASACC-span opnuut teen die Namibiese junior Federasiespan, met 13-7.

Die Namibië nasionale junior span eindig met tien punte gelykop, maar danksy twee meer visse as die Proteas aan die hoek wen Namibië.

Rikus van Staden (NAM) gebruik sy plaaslike kennis en weeg die swaarste sak en die meeste vis vir die dag in. Sy vangste (44) is ook die meeste van al die hengelaars. Met een toets elk agter die blad sou die volgende en laaste dag beslissend vir die Namibiërs wees.

By die President-vrouespanne raap SA weereens die louere op (12-8) en die Protea-vroue vergoed vir hul vorige dag se glips en wen oortuigend met 13-7.

Die Namibië senior Federasiespan verloor die dag se toets met 19-11. In die senior Konfederasie-afdeling wen SA met 18-12 en Dian von Solms (NAM) verbeter op sy vorige dag se karp van 6,08 kg toe hy dié een se ouboet van 6,36 kg aan wal bring.

Die Proteas se senior span beklink dag twee met 19-11 en wen die reeks van drie toetse. Vir Namibië trek Morné Prenn 'n karp van 6,02 kg nader, terwyl Dawid Oberholzer met die swaarste moddervis spog.

Die Namibiese meesters kry weer soos die vorige dag 'n knou met 30-21, maar bly veg moedig tot die einde om te verhoed dat die besoekers volpunte behaal. Amanda Bothma, die enigste vrou in die Namibiese span, weeg die swaarste karp én swaarste moddervis (onderskeidelik 4.44 kg en 1,10 kg) in om haar span se eer te red.



OPSOMMING

Die laaste toets is vir Namibië se nasionale juniors en Amanda Bothma (NAM) opsy gesit. Namibië beklink sy tweede sege om geskiedenis te maak, terwyl Bothma haar plek in die Drienasiespan bespreek.

Rikus van Staden (NAM) word as die junior kampioen bekroon. Sy sak vis oor die drie dae weeg nie net die meeste in sy afdeling nie, maar is die swaarste van die kampioenskap met 74 vis (92,36 kg). Sy kurper van 1,66 kg besorg ook aan hom in dié afdeling die toplouere.

Die junior SASACC-span wen hul kompetisie oortuigend en palm die eerste drie individuele plekke in. Die SASACC-vrouespan vaar goed in die Presidentsafdeling deur al drie toetse te wen én die eerste drie individuele posisies in te neem.

Die Protea-vrouespan het hard geswoeg om die toetsreek met 3-0 te oorheers. Hulle het in twee toetse gelykop met punte geëindig, maar het eer visse as die Namibiërs gevang. Lani Meyer beklink die individuele kroon met haar twee babers wat die swaarste geweeg het.

Suid-Afrika se Federasie- en Konfederasiespanne stuit ook die gasheer se aanslag, met beide die wenspanne se hengelaars wat die eerste drie individuele plekke inneem. Die senior Proteaspan tree as kampioen uit die stryd en wen al die pryse behalwe een in hul afdeling.

Laaste, maar nie die minste nie, is die meesters van SA wat die kampioenskap oorheers. In die derde toets staan hulle wel twee punte teen Namibië af, maar slaag tog daarin om te wen.

Altesame tagtig hengelaars het in die sestien spanne deelgeneem.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!