Landbou proe die soet en suur van afgradering
Goeie nuus is dat die kredietafgraderings nie nét negatiewe gevolge vir boere het nie.
Vida Booysen
Die uitwerking van die onlangse kredietafgraderings sal in die volgende paar maande duidelik in die landbou gevoel word, waarsku landbou-ekonome.
Die eerste teken hiervan kan reeds gesien word in die styging in brandstofpryse wat volgende maand verwag word.
Ná die daling in die brandstofpryse in April word 'n skokstyging in Mei verwag juis weens die onlangse afgradering van Suid-Afrika se buitelandse skuld tot rommelstatus. Die afgradering het regstreeks bygedra tot die verswakking van die rand teenoor die dollar, wat brandstofpryse laat styg, terwyl die Brent-ruoliepryse ook hoër is, sê Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom van Agbiz.
“Dit beteken boere kan volgende maand reeds sowat 3% meer vir 'n liter diesel betaal.”
“Hou in gedagte dat hierdie verhoging net mooi op die tydstip kom dat somergraanoeste gestroop moet word, en ons het vanjaar 'n reuse-oes, so die impak van die verhoging sal taamlik groot wees.”
Sowat 11% van 'n graanprodusent se produksiekoste word deur brandstof ingesluk en omtrent een derde hiervan word gewoonlik tydens die oestyd verbruik.
Die gebiede wat wintergrane produseer, begin ook in Mei te plant, wat beteken dat produsente hier waarskynlik ook meer diesel teen die hoër prys sal verbruik, waarsku Sihlobo.
Volgens Anthony Clark, ontleder by Vunai Securities, sal die onlangse verswakking van die rand teen die middel van die jaar die mark vir nuwe landboumasjinerie begin raak. Maar die afgelope twee seisoene se droogte het ook beteken dat boere in hierdie tyd minder nuwe landboumasjinerie gekoop het.
“Die vloot in Suid-Afrika begin verouder. Dit beteken egter wel meer inkomste vir die afdelings wat staatmaak op die verkoop van onderdele en instandhouding van die toerusting.”
Die afgradering en gevolglike verswakking van die rand hou inderdaad voordele vir sommige landbousektore in, sê Agri SA se senior ekonoom, Hamlet Hlomendlini.
“Die landbousektor lewer 'n betekenisvolle bydrae tot werkskepping in die land, en die arbeidsintensiewe landbou-uitvoermark sal waarskynlik voordeel trek uit dié daling, mits daar 'n verhoogde aanvraag vir hul produkte van buitelandse kopers is.”
'n Swakker rand gee ons uitvoervrugte en ander landbouprodukte 'n mededingende voordeel op die internasionale mark omdat dit as goedkoper beskou word teenoor produkte uit lande met sterker geldeenhede.
“Die gevolglike styging in verkope van ons landbouprodukte oorsee kan die plaaslike landbou-ekonomie 'n hupstoot gee en tot werkskepping in die sektor lei,” sê Hlomendlini
Aan die ander kant, gegewe dat die ekonomie tekens van verlangsaming toon en die rand waarskynlik vanjaar afwaarts sal beweeg, sal die aanvraag vir ingevoerde produkte begin afneem.
'n Mens kan argumenteer dat dit ook plaaslike produsente kan bevoordeel, omdat die aanvraag vir plaaslik geproduseerde landbouprodukte kan styg, sê Hlomendlini.
Maar dié voordeel kan dalk van korte duur wees.
“Die verswakking van die rand sal tot hoër koste van ingevoerde produkte soos kunsmis en landboumasjinerie lei, wat weer op sy beurt inflasie sal aanblaas en voedselpryse weer opwaarts druk.”
Daar word allerweë verwag dat rentekoerse ná die afgradering sal styg, wat die koste van skuld vir landboubeleggers laat styg, nie net by die plaashek nie maar ook verder in die landbouwaardeketting, sê Hlomendlini.
In 1994, toe Nelson Mandela die president geword het, is Suid-Afrika se kredietgradering as rommelstatus geklassifiseer.
“Dit was eers in 1999 dat die land na 'n beleggingsgraad bokant rommel kon beweeg en eers in 2005 dat ons nog 'n kerf kon opbeweeg.
“'n Mens kan maar net wonder hoe lank dit hierdie keer sal neem?”
–Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie