Land moet rykdom deel

Pres. Hage Geingob het gister in sy jaarlikse staatsrede 'n nasionale konferensie oor ongelykheid en bemagtiging voorgestel.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Ondanks al die vordering wat sedert onafhanklikwording gemaak is, is daar nog groot ongelykheid in Namibië en die meerderheid inwoners bly uitgesluit van die hoofstroom ekonomie.

So het pres. Hage Geingob gister in sy staatsrede aan ‘n gesamentlike sitting van die parlement gesê.

Dit is om hierdie rede dat die regering die instelling van ‘n ekonomiese bemagtigingsraamwerk (NEEEF) voorgestel het.

“Openbare raadpleging oor die raamwerk is voltooi en die kantoor van die eerste minister het die verslag gekonsolideer, wat spoedig in die Kabinet ter tafel gelê sal word. Ek het die openbare bespreking gevolg en opgemerk dat al mag NEEEF nie perfek wees nie, die meeste kommentators die kwessie van ongelykheid, waarop NEEEF gegrond is, vermy," het Geingob aangevoer.

"Ondanks die selfregulerende benadering wat in sommige sleutelsektore soos mynwese, finansiële dienste en toerisme aanvaar is, het ons nie betekenisvolle transformasie die afgelope 27 jaar gesien nie. Die meerderheid Namibiërs bly struktureel uitgesluit van betekenisvolle deelname aan die ekonomie. Inklusiwiteit verseker harmonie en eksklusiwiteit bring onenigheid.”

Volgens die staatshoof is die ekonomie nie immuun teen maatskaplike werklikhede nie en die gebrek aan inklusiwiteit is duidelik in die aandeelhouding, direksies en op senior bestuursvlak in die private sektor te sien. Sonder daadwerklike beleid sal die ekonomie volgens Geingob nie strukturele wanbalanse kan regstel nie.

“Ongelykheid is 'n keuse,” het hy Joseph Stiglitz aangehaal en gesê die ondersteuning van alle Namibiërs is nodig om dit reg te stel.

“Daar is ooreenkomste tussen die herverdeling van grond en welvaart, wat albei emosionele aktuele onderwerpe geword het,” het Geingob gesê.

Hy sê soos ‘n tweede nasionale konferensie oor die grondkwessie beplan word, moet oorweging geskenk word om dieselfde oor ongelykheid te doen - om meer gedagtes te wissel. “Namibië het die voordeel van positiewe rassebetrekkinge wat hom daartoe leen om ‘n eerlike, openlike en moeilike, maar noodsaaklike gesprek te voer oor oplossings om ongelykheid die hoof te bied,” het hy bygevoeg.

Hy sê Namibië het die geleentheid om die leiding te neem en ‘n model te word van pragmatiese, volhoubare en ordelike welvaartverspreiding. “Ek het geen twyfel dat ons hierdie uitdaging sal aanvaar nie.”

Geingob het opnuut ‘n beroep op die sakesektor gedoen om werknemers by aandele- en behuisingskemas in te sluit.

Plaaswerkers se lot lê die president na aan die hart en die feit dat baie plaaswerkers soos slawe werk, is volgens Geingob in ‘n onafhanklike Namibië onaanvaarbaar.

Die top een persent van die bevolking se inkomste is volgens Geingob steeds gelyk aan die armste 50 persent se totale inkomste.

By die tweede grondkonferensie later vanjaar sal volgens Geingob baie eerlik beraadslaag moet word. Hy het belanghebbendes aangemoedig om met voorstelle vorendag te kom.

Grond moet volgens die president een van die land se mees produktiewe bates wees en nie bloot vir hervestiging aangewend word nie.

“Ons moenie bang wees om oor sensitiewe kwessies soos vrywillige verkoper, gewillige koper; grondonteiening in nasionale belang en regverdige vergoeding te praat nie. Ons hoef nie met mekaar hieroor te baklei nie. Ek is seker ons stem in beginsel saam, maar mag oor die modaliteite verskil,” het Geingob gesê.

Hy het voorgestel dat afgetrede kommersiële boere aktief ingespan word om hervestigingsboere en opkomende boere op te lei.

Die staatshoof het benadruk dat geen wetteloosheid wat betref die grondkwessie en behuising geduld sal word nie.

Volgens Geingob is daar talle bewyse dat die regering die stryd teen korrupsie ernstiger as ooit opneem.

Hy het verwys na die kansellering van die tender vir die oprigting van 'n nuwe lughawegebou by Hosea Kutako en die Bank of Namibia se optrede teen die SME Bank. Volgens die staatshoof het die regering hom glad nie met laasgenoemde proses ingemeng nie.

Geingob het ook verwys na die vervolging vir beweerde belastingbedrog van verskeie Chinese sakelui en ander, waaronder een van sy eie sakevennote, asook ander hofsake oor beweerde korrupsie.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!