Laaste sien van blink Itula-kantien?

Tandarts byt steeds vas

07 February 2020 | Howe
Denver Kisting – Hoofregter Peter Shivute het Woensdagoggend skaars die laaste sprak van die volbank hooggeregshofregters se 48 bladsy lange uitspraak gesprook toe ’n 2019-meme opnuut begin trend.

Dié meme beslaan ’n totaal van 16 sekondes.

Daarin antwoord dr. Panduleni Itula, eertydse onafhanklike presidensiële kandidaat, tandarts en Swapo-lid, Republikein se vraag oor wat hy gaan doen as hy nie die 27 November- presidensiële verkiesing wen nie: “Ek? Jy vra die verkeerde vraag.”

Hy word verder gepols oor hoekom dít die verkeerde vraag sou wees.

Eie aan sy aard gee hy nie bes nie.

“Omdat ek sál wen!”

Syns insiens sou hy op 21 Maart 2020 as Namibië se vierde demokraties verkose staatshoof ingehuldig word.

Wat ons egter dié week beslissend weet, danksy die hooggeregshofuitspraak, is dat die verkose president, dr. Hage Geingob, deur die einste hoofregter Shivute op daardie dag – die land se Onafhanklikheidsdag – in alle waarskynlikheid vir sy tweede en laaste termyn ingehuldig sal word.

Die meme wat Woensdag weer eens soos ’n woeste veldbrand die eter beset het, eindig met Geingob wat onbedaarlik lag oor Itula se selfvertroue dat hy Geingob sou vervang.

Panduleni ‘Moedig’ Itula

Die man wat die Land van die Dapperes die afgelope klompie maande leer ken het, ken nie net oënskynlik die Grondwet uit sy kop uit nie – hy skrik ook vir geen enkele nederlaag nie.

Voor die afgelope Woensdag se gedeeltelike oorwinning het hy twee keer probeer om te keer dat die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) van elektroniese stemtoestelle (EVM’s) sonder ’n naspeurbare papierspoor gebruik maak.

Albei kere het hy bloedneus gekry, waarvan die laaste keer ’n laatnagpoging in die Windhoekse hoërhof was ure voor Namibiërs gaan stem het.

Hoewel hy aanvanklik dié week ná sy gedeeltelike nederlaag vir Geingob geluk gewens het, was alle aanduidinge dat dit nog nie die laaste sien van die blink kantien was nie.

Itula het by sy volgelinge gepleit om die hof se uitspraak te aanvaar, maar het daarná by navraag gesê: “Dit is nog nie verby nie! Ek het die ‘wenner’ gelukgewens onder omstandighede om vrede en bestendigheid te handhaaf.”

Hy sou gister sy pad vorentoe uitstippel.

Die Grondwetkenner prof. Nico Horn het baie mense se gevoel opgesom toe hy ná afloop van die hofverrigtinge gesê het: “Die berg het ’n muis gebaar.”

Met ander woorde van die reuseverwagtinge van ’n herverkiesing wat oraloor bestaan het, het dadels gekom.

Opposisie sê

Mnr. McHenry Venaani, leier van die amptelike opposisie, die Popular Democratic Movement (PDM), meen die hofuitspraak is ’n sege vir demokrasie.

“Ons is vrygespreek. Ons konsekwente stryd teen die EVM-stelsel wat nie deursigtig is nie, het bewys ons was reg,” het hy gesê.

Hy sê hy stem nie saam met die gedeelte in die uitspraak waarin veral opposisiepartye verkwalik word omdat hulle nie vroeër kapsie gemaak het teen die gebruik van dié omstrede toestelle sonder ’n naspeurbare papierspoor nie.

Hy wat Venaani is, het self verlede jaar in Mei ’n brief aan die minister van stedelike en landelike ontwikkeling geskryf in ’n poging om klarigheid te bekom oor subartikels 3 en 4 van artikel 97 van die kieswet, hou Venaani die afgelope week vol.

Dié subartikels hou met die papierspoor verband.

Boonop, sê Venaani, was hy reeds in Februarie 2018 in gesprek met die ECN se voorsitter, adv. Notemba Tjipueja, en haar kieskommissarisse.

Tydens die kommunikasie het hy op die naspeurbare papierspoor aangedring, voer hy aan.

“Daar is baie literatuur oor verklarings wat ek oor die EVM’s uitgereik het. So, hierdie dag (Woensdag) is ’n dag van groot, groot oorwinning vir die Namibiese demokrasie.

“Vir 30 jaar het ons geen deursigtige verkiesing gesien nie, en ons sê in die toekoms sal ’n deursigtige verkiesing geskied en ons is baie gelukkig met die uitslag.”

Die volbank regters, meen hy, kon meer aandag aan “die ongrondwetlikheid van die verkiesing” geskenk het, “maar hoe dit ook al sy, dit is ’n tweederdeoorwinning vir ons. Ons hoop dinge sal in die toekoms verbeter.”

Mnr. Mike Kavekotora, leier van die Rally for Democracy and Progress (RDP), sê: “Kortliks sien ek dié bevinding as ’n poging om twee teikengroepe te huisves en tevrede te stel – die aansoeker en politiek, en dít moes nie so wees nie. Dit is hoekom dit teenstrydig is, en baie jammer dat ons regbank weer eens daardie pad moes stap – nes in 2010 toe die RDP die ECN hof toe gesleep het.”

Dié opposisieleier sê hy is stomgeslaan.

“Ek is verwar deur die feit dat die hof bevind het die weglating deur die minister van artikel 97(3) en 97 (4) was teenstrydig met die Grondwet en ongeldig, maar die gevolge van daardie ongeldige stelsel moet geld.”

Kavekotora draai nie doekies om nie: “Dit het myns insiens die onafhanklikheid van die regbank in die gedrang gebring.

“Hoe verklaar jy die bron ongeldig, maar verklaar die produk wat uit daardie bron spruit, is geldig?”

AR spoeg vuur

Die vuurvretergrondaktivis van die Regstellende Herposisioneringsbeweging (AR), mnr. Job Amupanda, blyk ook diep deur die uitspraak geraak te wees.

Hy het sy stem Woensdag só in die sosiale media dik gemaak: “Hoe vier jy dit? 90% van die aansoeker se eise is toegestaan behalwe één; jý word beveel om tweederdes van die aansoeker se regskoste te delg; jóú regime se minister se optrede word ongrondwetlik geag; en, gegewe ’n spertyd, ’n EVM wat jy ondersteun het, word ook as ongrondwetlik geag?”

Die Windhoekse prokureur mnr. Henry Shimutwikeni, wat vir Itula tydens sy eerste geding laat verlede jaar in die kiestribunaal van raad bedien het, het Woensdagmiddag vir sy Twitter-volgelinge met ’n opsomming te hulp gesnel: “In eenvoudige terme beteken die hof se beslissing: 1. Die minister was verkeerd om verkiesings toe te laat om gehou te word met EVM’s sonder ’n papierspoor. 2. Toekomstige verkiesings wat met EVM’s gehou word, sal ’n papierspoor hê. 3. Die 2019-verkiesings sal NIE ter syde gestel word nie.”

Burgeroorloggeraas

Sprake van ’n burgeroorlog het ook ná die hof se uitspraak in die Twitter-strate die ronde begin doen.

Dit is daardie einste kwalik bedekte dreigemente wat onlangs tot weermag- en polisieversterkings oraloor die land, maar veral in die hoofstad en spesiek by Staatshuis en die hooggeregshof gelei het.

Die weermag het hieroor in die spervuur beland.

Die balie het verlede maand by monde van sy president, adv. Gerson Narib, kommer uitgespreek oor die betrokkenheid van die weermag by bewerings van individue se dreigemente teen die staat.

Narib het gesê kragtens die Grondwet is die weermag deur wetgewing in die lewe geroep om die grensgebied en nasionale belang van Namibië te verdedig.

Net dit.

Daarenteen, sê Narib, is die statutêre verantwoordelikheid van die Namibiese polisie om interne veiligheid te verseker en wet en orde te handhaaf.

“Hierdie belangrike en onderskeibare grondwetlike mandate moenie verwar word nie. Dit is nie die gewone funksie van die Namibiese weermag om die interne veiligheid van Namibië te verseker en wet en orde te handhaaf nie,” het hy gesê.

Sou die weermag – gedeeltelik of individueel –ingespan word om onder meer dié rolle te vertolk en beweerde misdade te ondersoek, misdaad te voorkom en lewe en eiendom te bewaak, móét dit in oorleg met wetgewing geskied, het Narib namens die balie gemaan.

Dit mag beslis nie die norm wees nie, het hy van die heup af geskiet.

Standpunte wat die weermag laat verlede jaar uitgereik het, strook nie met hul mandaat en dié van die polisie nie, het die regsgeleerde gesê.

Staatshuis het alle navrae hieroor na die weermag verwys.

Dié liggaam het voet by stuk gehou hulle hou by die wet én die Grondwet.

Weermagbaas onversetlik

Adjunkmaarskalk Martin Pinehas, waarnemende weermaghoof, het laat in 2019 aangekondig die weermag sal géén vrae vra wanneer mense en eiendom in die naam van politiek bedreig word nie – hulle sal net optree.

Pinehas het toe gewaarsku hulle neem die dreigemente om vir pres. Geingob, wat ook die weermag se hoofbevelvoerder is, dood te maak en Staatshuis aan die brand te steek, baie ernstig op.

Hy het gesê: “Die NDF is erg omgekrap oor verklarings deur individue wat, omdat hul voorkeurkandidate nie gewen het nie, hulle hul tot ongrondwetlike middele sal wend.”

Daar is allerweë aanvaar hy verwys na Itula en kie.

Ondanks die vryhede wat die Grondwet waarborg, moet die uitoefening hiervan in oorleg met die land se wette gebeur, het Pinehas gesê.

Die staatshoof en Namibiërs se veiligheid en enige eiendom mag nie in die naam van politiek in die gedrang kom nie, het hy gewaarsku.

Volgens hom verdien dié dreigemente “’n geskikte reaksie” van die weermag.

“Ons kan nie toelaat dat ons land in chaos verval weens selfgesentreerde individue nie.”

Een stem in die poespas van aanlyn geraas die afgelope 48 uur lui só: “My hoop en wens is dat die agbare dr. Hage G. Geingob verder as die lense van sy bril sal sien en diegene binne Swapo sal raaksien, wat deur dr. Itula verteenwoordig is, terwyl hulle weggekruip en inligting gemelk het om die party van binne te vernietig, asook diegene binne die uitvoerende gesag, parlement en die regbank wat haat, saboteer en saamsweer om te verdeel en mislukking te bewerkstellig.”

Dié man vra dat Geingob voldoende visie sal hê wat hom in staat sal stel om dié mense onder meer aan die kaak te stel, te verwyder, te verwerp en uit Geingob se aanstellingslys weg te laat.

“Aan die raadgewers, prioritiseer asseblief eerste om die man te hoor wat julle aanstel en die mense te dien, en aan staatsdienswerkers, om asseblief te lewer soos van julle verwag, ongeag hoe moeilik en intens die situasie mag uitdraai om te wees. Wees koninklik en eties. Vrede en harde werk kan die Namibiese Huis bou en ons kan almal in harmonie saamleef. . .”

[email protected]

Soortgelyk

 

Damme voller

8 ure gelede | Weer

Elvira Hattingh - Terwyl 99,671 Mm³ (miljoen kubieke meter) water altesaam 10 nasionale damme die afgelope week binnegevloei het, het die weerkantoor opnuut ’n waarskuwing...

Groot kommer oor sprinkaanplaag in Zambezi

8 ure gelede | Omgewing

Ronelle Rademeyer - ’n Plaag van bruin sprinkane uit vermoedelik Botswana teister kommunale boere by Muhundu en ander nedersettings in Katima Mulilo se landelike kiesafdeling...

Goliath, the giant

8 ure gelede | Mense

Elizabeth Joseph Born and raised in Windhoek, Romio Goliath started wrestling when he was 10. Being part of the After School Centre Wrestling...

Weerlig slaan meisie (11) dood

8 ure gelede | Misdaad

Weerlig het Saterdag die lewe van 'n elfjarige kind geëis. Volgens die Namibiese polisie se weeklikse misdaadverslag is Aini Shilongo Saterdag omstreeks 18:00 in 'n...

Weer vir 25 Februarie

8 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Swaar storms word in die noordoostelike streke, Otjozondjupa-, Khomas- en suidelike streek verwag. Die nodige voorsorgmaatreëls moet getref word. BINNELAND: Gedeeltelik bewolk in die...

NamWater to fix Opuwo’s supply woes

8 ure gelede | Plaaslik

Uakutura Kambaekua – Since 2017, Opuwo town has been faced with diminished water supply, a predicament blamed on high water loss in distribution systems, which...

Havana, Otjomuise powered by June

8 ure gelede | Energie

The ministry of urban and rural development has committed a total of N$14 million for electrification for the 2019/20 financial year, an amount that is...

A significant contributor to Namibia's economic landscape

8 ure gelede | Byvoegsels

Hangana Seafood (Pty) Ltd is a 100% Namibian-owned company, passionate about “Creating a future, enhancing life” for its employees, country and the people of Namibia....

Corona: Afrika 66% gereed

8 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Afrika se algehele gereedheidsvlak vir die coronavirussiekte (covid-19) staan op 66%. Volgens dr. Matshidiso Moeti, die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) se streeksdirekteur vir Afrika,...