Kusspan kom sleg tweede teen Wanderers
Agt-en-dertig almal uit was die vernederende kolftotaal vir die Welwitschias.
Tielman van Lill - Op die tweede naweek van Krieket Namibië se 50-beurt Premierliga het die EBH Welwitschias van die kus die afgelope Saterdag ’n lelike loesing teen Samsung FNB Wanderers op die lyf geloop.
In ’n ietwat vreemde botsing op Walvisbaai se Sparta Ovaal wen die Welwitschias as tuisspan die loot en besluit om eerste te kolf, maar Wanderers boul hulle vir ’n skokkende 38 lopies in 21.3 bb uit. Geen viere of sesse is geslaan nie.
Die hoogste telling van 9 (45 balle) is deur kolwer nommer ses Romario Scholtz behaal, met Colin Peake wat vir agt lopies van 19 aflewerings vasbyt. Die kusspan se totaal het 15 ekstras ingesluit.
Vir Wanderers het sy gedugte boulaanval van Hendrik Geldenhuys (3/9 in 7 bb), JJ Smit (2/9 in 6 bb), Tershwin Raubenheimer (3/10 in 4.3 bb) en Bernard Scholtz (2/1 in 1 bb) genadeloos toegeslaan.
In Wanderers se kolfbeurt van net 8.3 boulbeurte was die kolftoestande ook nie watwonders beter nie. Karl Birkenstock as aanvangskolwer bly onoorwonne vir sewe lopies van 24 balle, maar LP van der Westhuizen (5 van 7 balle) en Pieter Rossouw (5 van 10 balle) word uitgevang. Die vangskote is onderskeidelik deur die broers Shalako Groenewald en Zhivago Groenewald benut.
Gerrie Snyman slaan die enigste grenshou van die ganse wedstryd, ’n ses, om met tien lopies van tien balle onoorwonne van die veld te stap.
Nian Grobler (1/15, 2 bb) en M. Stander (1/15, 4 bb) is die enigste boulers vir die kusspan wat sukses smaak.
UNITED KLOP TIGERS
CCD het by Trustco United se veld in Olympia die loot gewen en eerste gekolf (260 lopies in 47.4 boulbeurte) om ’n billike teiken vir United op te stel. Die tuisspan het vyf kolwers verloor voordat hulle in 49.3 bb die wenstreep gehaal het.
Picky Ya France met 74 (5x4, 3x6) en Justin Baard se 76 (4x4, 7x6) het CCD se hoogste kolftellings gelewer. Sy aanvangskolwers, die kaptein Stephen Baard en Joshuan Julius, het onderskeidelik 38 lopies (1x4, 1x6) en een lopie aangeteken. Die enigste ander noemenswaardige bydraes het van René Were (12, 1x4), Norbert Manyande (8, 2x4) en Mika Mutumbe (25, 3x4) gekom.
Baard se vertrek is bewerkstellig toe hy van Danie van Schoor se suinige boulwerk gestonk is, terwyl Julius ná ’n waaghalsige enkellopie uitgehardloop is. Van Schoor boul ook vir Myburgh om 2/29 in sy tien boulbeurte te neem.
Dit is egter Christopher Coombe se 3/52 in nege beurte waar hy van Julius, Ya France en Mbwembwe ontslae raak wat die Tiere se vuur blus. Louis Vermaak (2/59 in 9.4 bb), Juan Binneman (1/56 in 9 bb) asook Johan Venter (1/31 in 7 bb) help met die aanslag.
Vir United was Darren van Dyk met ’n briljante 136 lopies die grootste angel wat ses viere en tien sesse insluit voor hy van René Were se boulwerk uitgevang is. Christopher Coombe se 46 (2x4) en Jacques Fourie met 36 (4x4) is die ander bydraes wat die Welwitschias se billike telling van 260 help oorskadu. Ander tellings vir United is Hendrik van der Walt se 14 (1x4) en Danie van Schoor (20).
Vir CCD het Picky Ya France met sy draaiballe vir die vertrek van drie kolwers gesorg (3/32 in tien bb). Sy slagoffers was Fourie, Van Schoor en Henry Hayes vir wie hy been voor paaltjie betrap het. René Were is die enigste ander bouler van die Tiere wat ’n deurbraak kon maak. Sy 2/51 is in tien boulbeurte bereik waarin hy Hendrik van der Walt en Darren van Dyk laat stap het.
• Die ligaleer van die premierliga ná die tweede naweek: CCD Tigers 4 punte, United 4, Wanderers 4, Welwitschias 0, Windhoek Old Boys 0.
• In die eerste naweek se enigste wedstryd het CCD (112/6) op sy tuisveld met vier paaltjies teen WHS Old Boys (107 almal uit in 32.3 bb) gewen. Divan la Cock se 45 lopies vir Old Boys is nie genoegsaam ondersteun nie, terwyl Norbert Manyande (35*) en Joshuan Julius (27) die lopiemakers vir die Tiere was.
Old Boys se Christian Schumacher (3/27) was die enigste bouler in die wedstryd wat meer as twee paaltjies kon kry, hoewel CCD se Fortune Matawu merkwaardig ekonomies in sy tien boulbeurte was (2/9).

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie