Kunene ly dors en honger

Die voortslepende droogte in die Kunenestreek laat mens en dier desperaat, met Maart wat hul laaste hoop op reën bied.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – “Die Kunene se mense raak nou al amper moedeloos. Dit is heeltemal droog. Dié situasie versleg daagliks en dit kom al vir drie of vier jaar lank.

“Die hele Kaokoland het nog nie werklik reën ontvang nie, terwyl die meeste plekke verlede jaar ook geen reën gehad het nie. Amper al die beeste het verlede jaar al gevrek en nou is dit ons laaste – die kleinvee.”

Só vertel mnr. Uazamembo Mutambo uit Opuwo. Hy sê die droogte is besig om in 'n hongersnoodkrisis vir diere, maar nou ook mense, te ontaard.

Hy self kom oorspronklik van die Okorosave-nedersetting 17 km buite die dorp en is ook betrokke by Kunene vir Christus, 'n sendingorganisasie van die NG Kerk onder leiding van ds. Erik van Zyl.

“Tans verskuif mense hul ­kleinvee oor meer as 150 km na Opuwo, wat aanvanklik 'n klein bietjie reën ontvang het, maar die kleinvee is reeds erg verswak en vrek oral langs die pad.

“By Opuwo self is daar nie werklik waterbronne of boorgate nie, wat beteken mens én dier ly dors. Die waterpoele van die reën het reeds opgedroog.

“Die afgelope Maandag het bokboere vir my vertel hul diere wat in die opgedroogte poele probeer water drink, raak verstrengel in die modder en vrek daar,” sê Mutambo.

“Mense hier is van hul vee vir kos afhanklik. Mense het voedselbystand nodig en is al meer genoodsaak om op skenkings te oorleef. Tweedens is daar ook 'n groot behoefte aan voer vir die vee wat oor is.

“Die belangrikste is egter die mense wat nie meer 'n ander uitweg het nie,” sê Mutambo.

Van Zyl vertel hy was verlede week in die Kunenestreek en het sowat 1,6 ton mieliemeel aan gemeenskappe versprei het.

In Februarie is ook 850 kg mieliemeel in die streek uitgedeel. Dit word met 'n Land Cruiser-bakkie en 'n sleepwa gedoen.

Van Zyl sê dié keer het hy Opuwo asook plekke verder noordwes daarvandaan, soos Etanga besoek waar droogtetoestande uiterstes bereik

het. 'n Klomp Himba-veeboere trek volgens hom met hul bokke na Opuwo, want daar is net nie elders meer enige kos nie.

“Dit is ook nie asof Opuwo baie reën ontvang het nie. Die grassies wat daar staan, is nog kort en het eintlik maar nog net opgekom,” sê Van Zyl.

“By Outjo en Kamanjab het dit gereën, maar vanaf Grootbergpas is dit asof die reën daar opgehou het. Anderkant dié pas in die rigting van Palmwag en Sesfontein is dit báie droog.

“As jy vanaf Kamanjab ry, deur die Werda-hek, kan jy sien dit het 'n bietjie tot in Opuwo gereën. Daarvandaan noordwes het dit nog glad nie gereën nie.” Van Zyl sê die vorige keer toe hy in die Marienfluss was, was dit hier ook uiters droog.

“Die Kunenestreek se reënseisoen is later, maar ons is reeds in Maart.

“Dinge kan steeds herstel as dit nou sou kom reën. So het dit byvoorbeeld in Maart 2008 baie gereën nadat die gebied in 2007 ook deur 'n droogte geteister is,” het hy gesê.



VOEDSELNOOD

Van Zyl sê buiten vir reën en mense se geestelike behoeftes ervaar gemeen­skappe 'n groot nood aan kos vir beide mens en dier. “Dit is hul grootste nood.

“Ek deel die sendingkos aan gemeenskapsleiers uit en hulle versprei dit, nie net onder die Christene nie, maar ook in die gemeenskap waar daar nood is, soos aan die armes en oues en daar waar kinders swaarkry.”

Van Zyl sê van die mense het ook begin om groentetuine rondom boorgate te maak.

Die ministerie van landbou, water en grondhervorming se oesvooruit­skouing het in Desember die situasie in die Kunenestreek as “broos” beskryf. Weidingstoestande in die gebied was toe reeds kommerwekkend. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

European Championships Qualifying: Southampton 3 vs 0 Preston North End English Championship: Southampton 3 vs 0 Preston North End Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 26km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:25, High tide: 13:40, Low Tide: 19:24, High tide: 01:48 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:38, Low Tide: 19:22, High tide: 01:46 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 36km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:37, Low Tide: 19:22, High tide: 01:45 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!